Posted by: White Knight | Friday, 7 May, 2010

Trek – Deel 1

Dagsê Kuiergaste van die hawe,  mense en ander spesies. :wink:

Trek is ‘n vier letter woord, maar nie op sig self ‘n vloekwoord nie. Dit skep net as gevolg van al die bydraende faktore soms ander vier letter woorde se gebruik. My ouers het altyd gesê: Klein woordjie baie werk. Dis reëlings, beplanning, inpak, vervoer van goedere en lewendehawe, uitpak en weer van voor af orde kry. As orde kry ‘n werklikheid is.

Trek is dieselfde vir sommige mense as om ‘n boom te ontwortel en weer te plant op ‘n ander meer geskikte plek. Gebruik die nodige kennis en toerusting en siedaar dit verloop seepglad. Vir sommige mense is trek egter so traumaties dat hulle nooit weer georden raak nie. Ander sal eerder getrek raak, nie met ‘n vragmotor nie, as om te verhuis. Hulle kan maar net nie die proses korrek hanteer nie en dit eindig dan eerder in die spreekwoordelike vernietiging van die boom.

Besluite om te trek word nie ligtelik geneem nie. Die redes vir trek is legio nes die bestemming en doel daarvan. Sommige wil net uit die buurt of dorp wegkom. Ander wil weer opgradeer, jy weet mos die geld brand en dan moet daar vooruit beplan word vir die kinders se koms. Dit sal natuurlik eers oor nege jaar en nie nege maande wees nie, jy moet verstaan hulle wil eers die loopbane vestig en alle moet reg wees voor die kinders kom. Wel net so terloops, niks is ooit reg as die kinders eers daar is nie, verstaan dit en hanteer dit, hoe gouer hoe beter.

Die bure en die buurt maak my mal of laat jou onveilig voel. Dis korrek ja, trek na een van daai banggat dorpies wat hulle “Security villages or complexes” noem. Jy is daar nog meer onder ‘n valse indruk van veiligheid as elders. Daai plekke werk net as almal saamstaan en hul eie en ander se sekuriteit verdedig en verseker.

Dan weer is die omgekeerde reaksie as die kinders weg is: “Die huis is nou te groot ons moet afskaal”. Dit nadat julle besluit het om net een kind te he sodat hy/sy nie enige tekorte het nie en alles kan bied wat nodig is. Korrek ja, maar waar gaan julle met al die versamelinge en afgode heen. Daai dinge wat so oor die jare sorgvuldig bymekaar gemaak is en geen vervangings waarde het nie?

Redes is daar altyd vir trek, werk, omstandighede, persoonlike voor en afkeure selfs geite en giere. Maar een ding staan soos ‘n seer vinger in die sjokolade boks uit, aan die einde van elke maand word daar opgelaai en weer afgelaai. Geskuif, ingepak, uitgepak en weg gepak. Afgehaal, gate toegestop en geverf, as hulle ordentlik is, spykers ingekap en weer opgehang.

Dit alles net om weer te begin soek van voor af waar alles is, dit is mos sorteer en netjies weggepak elke dingetjies op sy plek. Of nie………….?

Vrede, vreugde, liefde en groete word vir elke Huis, Paleis, Pondok en Varkhok. toegewens. :wink:

White Knight


Categories