Posted by: White Knight | Saturday, 17 April, 2010

Suid-Afrika vandag

Dagsê Kuiergaste van die hawe.  Mense en ander spesies. 😉

Ja ek weet, nie nodig om my kop af te byt omdat hier lanklaas gekuier is nie.  😀

Die afgelope tyd het baie dinge in ons land gebeur en gevolglik is daar geweldig baie politieke en ander onderstrominge tans aan die gang. Mense reageer as gevolg van die persepsies wat hulle het oor sake. Daai persepsie word gevorm deur gebeure en ondervindinge in hulle eie lewens.

Iemand wie se lewe deur vrees beheer word sal die huidige situasie met angs en bewing beleef. Die persoon wat nie ‘n flenter omgee nie sal nog steeds minder gepla wees oor die omstandighede. Dan die wat in ware geloof beweeg sal die situasie nie met vrees vervul en toe laat dat allerhande doemprofeet skrywes hulle intimideer nie.

Die Hawe Hoof het seker in die afgelope week seker meer as twaalf e-posse ontvang met “Siener van Rensburg” se visioene en daarvan was daar omtrent vyf verskillende verklarings gewees. Ek weet en erken dat daar niks maar niks op hierdie aarde gebeur voor die Lewende GOD wat die Skepper is van die Hemel en die aarde dit aan Sy Profete bekend gemaak het nie.

Maar om blatant elke keer te gryp na die visioene van ‘n Siener van Rensburg om ‘n standpunt te propageer is walglik en niks minders as GOD lasterlik in my opinie nie. Dat GOD wel sekere dinge deur visioene aan mense openbaar, waarvan Siener van Rensburg, een van hulle is, is waar.

Elke persoon wat nou die sogenaamde groot kenner en verklaarder van die visioene is, vir elke een het ek net een vraag. “Hoe lank en gereeld het jy self voor GOD se aangesig in gebed deur gebring om die uitleg van die “raaisel” te kan verkry?”

Enige persoon wat enigsins net sy of haar Bybel lees sonder om dit nog te bestudeer sal weet dat GOD se aangesig gesoek moet word in sulke opsigte omdat net Hy die antwoorde ken. Dit kan slegs net gebeur as jy JESUS die Christus en ons verlosser erken en deur die Leiding van die HEILIGE GEES daar die weg betree. Dit is elke een beskore wat God opreg en in waarheid dien.

Geen ras, kleur, taal of enige ander beperking wat ons daarop wil plaas is van toepassing nie. Christus het gesterf vir elke een en dit sal bely word deur elke volk en taal en nasie.  Om te wil GOD beperk tot een tipe bevolkings groep, taal of nasie is ‘n belediging vir die Grootsheid van die Almagtige God.

Die lagwekkendste van dit alles is dat indien ons een hand vat, kan ons die vermoë van die mense om te dink nl. die brein, daarin vervat maar as mens en sterfling wil ons die plan en omvang van die almagtige God probeer bepaal.

God is nie ‘n aannemer van persoon nie. Vir GOD maak jou liggaam, velkleur en taal nie saak nie, maar wel die kleur van jou hart. Die belangrikheid van jou wedergeboorte en die gevolglike volharding in jou geloof in HOM, JESUS die CHRISTUS ons VERLOSSER en die HEILGE GEES.

Daarom sal ek altyd volhard om te verkondig dat die enigste “blanke” volk wat ooit in die wêreld deur GOD uitverkies is, die een sal wees waarvan die gees “Blank” is, skoongewas deur die Bloed van die Lam, JESUS die CHRISTUS ongeag van jou velkleur.

SUID-AFRIKA sal die huidige dreigende probleme en krisis ook oorleef juis omdat daar genoeg knielende en opreg biddende mense in die land is wat bereid is om persoonlike idees opsy te skuif en saam in erkenning voor die enigste Koning, GOD almagtig te kniel en uitroep tot genade en dat SY wil sal geskied.

Indien daar dan sommige van ons die wedloop vroeër as ander moet beëindig mag dit dan vir hulle wees soos Stefanus dat terwyl ander feesvier oor ‘n enkele sterfling se dood hy of sy reeds vir JESUS sal sien sit aan die regterhand van die VADER.

Ek glo GOD is nog steeds in beheer en daarom sal geen doem profeet of ander  my laat twyfel dat wat ook al enige duistere mag sou beplan, dit nog steeds onderwerp is aan GOD se plan vir SY kinders.

Mag elke een wat hierdie lees die genade en liefde van GOD ervaar en bemoedig word deur die wete dat JESUS CHRISTUS ons verlosser is en dat die HEILIGE GEES met ons is, elke dag sodat ons net kan vra dat Hy ons moet Vertroos en Leer aangaande JESUS en GOD die VADER, sodat ons nie ontmoedig sal word nie, maar sal vasstaan in die wete dat GOD groter is as al die seer, korrupsie, moord en doodslag wat verkondig word.

Dis my opregte  gebed dat GOD ons geestelike oë sal open, soos die profeet in die Bybel, dat ons kan sien: “Hulle wat saam met ons is, is baie meer en magtiger, as hulle wat teen ons is.”

Vrede, vreugde, liefde en groete word vir elke Huis, Paleis, Pondok en Varkhok. toegewens. 😉

White Knight


Responses

  1. Dankie dat jy my herhinner dat ek niks het om te vrees nie. Laat elkeen voortgaan in sy dagtaak en dit doen wat vir hom of haar gegee is om te doen. Ek stuur my immers nie sommer aan mense se voorspellings en verklarings nie. As God wil he dat ek my daaraan moet steur sal hy deur sy Heilige Gees dit in my hart plaas om daaraan aandag te skenk.

    • Dagsê Flippiefanus

      Ek is bly as die boodskap vir iemand iets beteken. Die meeste van die mense laat toe dat gebeure en gerugte hulle lewens deur vrees beheer eerder as GOD se plan vir hul lewens. Vrees is volgens my eie opinie geloof in trurat.

      Almal van ons het ‘n gesonde verstand en as jy dit gebruik sowel as in gebed jou wend na die leiding van die Heilige Gees, soos jy opgemerk het, sal dit vir jou reg verloop oa. die doem profete se verdraaing van feite.

      Alles wat geseend is vir jou.

  2. Ai maar ek is bly om te sien dat jy terug is.

    Dankie vir die opbouende woorde, ek dink ons almal kan daarby baat vind, want al die moorde, inbrake, gerugte ens, laat sy merk op ‘n mens.

    Ek klou vas aan Jeshua se kleed en ek weet dat Hy persoonlik oor my waak. Jy en Flippiefanus is volkome reg; Rauch se opdrag is om dinge aan ons te openbaar volgens die Aller Hoogste God se wil.

    • Dagsê Mefri

      Ek bly altyd glo en hoop want sonder dit is ons almal verlore.

      Mag julle almal veilig wees asook die geliefdes.

      Vrede, vreugde en voorspoed vir julle.


Categories

%d bloggers like this: