Posted by: White Knight | Saturday, 22 May, 2010

Trek – Deel 3

Dagsê Kuiergaste van die hawe,  mense en ander spesies. 😉

Ons kyk nog steeds na die onderwerp van Trek hier by die Veilige Hawe. Juis omdat ek nie net oor die vervelige onderwerp van pak op, trek en pak weer uit, as die hoofdoel van die skrywes beplan het nie. Wag ek praat nou nie die waarheid nie, ek het. Toe die gedagte om weer iets te skryf begin het was ek geheel ontnugter met myself toe die onderwerp van trek as die hooftema begin posvat het. Maar hoe meer tyd verloop het ek die onderwerp agter die skrywe meer en meer vir myself begin redeneer en verstaan.

Die redes hoekom mense fisies wil verhuis of dan nou die proses van trek aanpak is legio. Sou jy egter mooi aan die lewe dink “trek” ons nie net fisies van een adres na ‘n ander in ons lewens nie. Ons trek emosioneel, geestelik en natuurlik fisies op meer as een manier en om verskeie redes in ons alledaagse lewens.

Die redes wat aanleiding gee tot jou reis deur die lewe is so verskillend en uiteenlopend dat mens seker boeke kan skryf daaroor. As jy opstaan in die oggend en alles is reg, dan beweeg jy deur die dag wat voorlê baie makliker as iemand wat se dag aan die spreekwoordelike verkeerde kant van die bed begin het. Dink maar daaraan, jy word wakker en die krag is af, of jou voete wat met afwagting van die bed neerdaal na die mat word met yskoue water begroet omdat die warm waterstelsel deur die nag ‘n trek na die ashoop begin het.

Jou dag gaan baie beslis nie soos ‘n sprokie in kammaland verloop as dit eers op daardie noot begin het nie. Eerder ‘n Friday the 13th met jou as al die hoofkarakters wat moet vlug vir hul lewens voor die lem van ‘n kragsaag. Die hele tyd wat jy met die versekering, sou jy dit onthou het, worstel oor die vervanging van en herstel van bykomende skade gaan jou dae nie noodwendig reg verloop nie. Dus word jou geordende lewenswyse en sekuriteit van ‘n veilige huis onverwags gekaap en jy “trek” ter selfde tyd deur ‘n magdom emosies wat op en af en heen en weer jaag.

Enige persoon wat ‘n buitengewone of traumatiese ervaring beleef, reageer anders as normaal en indien die omstanders, soos vriende, familie of kollegas dit nie weet en verstaan nie kan dit tot onnodige bykomende trauma en konflik lei wat net later ook nog herstel moet word. Emosionele wonde kan jy egter nie met Gips board of Polyfiller toesmeer, afskuur en oorverf nie.

Die graad van emosionele wipplank wat elke persoon se emosies tydens so “geforseerde trek” deurmaak hang natuurlik ook af van baie ander faktore soos, die impak van die gebeure op hulle lewens, kort of langtermyn. Iemand wie se lewens maat vir ‘n kort rukkie weggaan vir werk, verskil geheel van ‘n ander wat deur ‘n egskeiding of afsterwe van ‘n geliefde gaan.

Die persoon se eie perspektief oor die situasie, agtergrond en opvoeding, asook persoonlike ervarings en vorige soortgelyke trauma wat beleef is of ook die totale afwesigheid daarvan. Nie almal van ons het al die harde werklikheid van lewe beleef as ons die dag begin werk en sogenaamd groot is nie. Baie mense word groot in Lala land, waar nooit enige slegte dinge gebeur nie en die goeie altyd oorwin. Die werklikheid is egter baie ver verwyder van dit. Die goeie oorwin nie altyd nie, juis oor hulle nooit geleer het om “ vuil te speel en onderduims” te wees nie.

Die gebeur of ons dit nou wil weet of nie. Niemand kan oorleef deur soos die Bere en slange te hiberneer elke keer as die koue naderkom en die riviere begin vries nie. Juis omdat die wêreld nie gaan stilstaan nie sal die redes vir jou emosionele trek sessie nie ophou nie en moet mens eerder voorberei vir dit en seker maak jy trek nie soos Skillie jou kop in ‘n dop in nie. Sodra jy jou kop uitsteek het jy nog groter probleme.

Alle mense se lewens is anders, hulle persoonlikhede verskil, maar die kontak en konflik sal nooit ophou nie. Sodra jy egter jouself eerstens en dan ander beter verstaan kan jy die pad met meer vertroue stap. Sodra daar dan ‘n “trek” situasie ontstaan kan jy dit hanteer met die minste moontlike skade vir jouself en ander rondom jou.

Wanneer jy egter die ou idees van tyd genees alle wonde glo en beoefen sal jy gou genoeg agterkom dat tyd wag vir niks en niemand en wonder het ‘n manier om hul rowe op die mees onverwagte tye te verloor. Dis wonde nie volkome genees nie, wat weer en weer bloei, soveel dat hulle later nie eers meer rowe vorm nie en selfs smetterig raak.

Wonde wat die “trek” na dorre onvergewensgesinde woestyn ‘n realiteit maak, dorre waterlose plekke waar geen liefde of genade ooit kan of wil vloei nie…………… 😦 😥

Vrede, vreugde, liefde en groete word vir elke Huis, Paleis, Pondok en Varkhok. toegewens. 🙄 😆

White Knight
Advertisements

Responses

  1. Ridder, dit wat jy geskryf het is waar, min besef ‘n mens hoeveel skade jy aanrig aan jouself en aan ander wanneer onvergifnis koningkraai. Daar is geen genesing daarsonder nie. Mens moet jou eie aandeel in jou sere ook raaksien, en dit is moeilik.

    Seer het baie gesigte en dit verander van gedaante, dit manifesteer in skyn danse; haat, woede en dan raak jy verbitterd en jou siel kwyn.

    Dankie dat jy teruggekom het, jou skrywes is waardevol , veral omdat dit my herinner waar ek vandaan kom, wat ek geleer het en waarmee ek nog steeds mee sukkel.

    • Hello Mefri

      Dankie vir jou kommentaar ook. Dit help as mens weet iewers het dit alles ‘n doel. Mag jy jou berge versit en die horisonne verbreed verby al daai negatiewes.

      Groete

  2. ‘n Ex Pat wat nou in Austrlia bly…..wonderlike kommentaar en sal gereeld kom kuier!! oxox


Categories

%d bloggers like this: