Posted by: White Knight | Tuesday, 1 September, 2009

Nuwe seisoen

Dagsê aan al die Lente Bloeisels wat na die winter weer kans sien om hul gesigte te wys. Die menslike kalender wys dis 1 September 2009 en tradisioneel het ons dit gedoop die aanbreek van die lente.

Nou meestal is dit ook die tyd waarin ons nuwe bloeisels an die bome en plante sien. Gras lyk ook sommer weer meer vol lewe en groener as ‘n week gelede. Dis asof die warmer sonstrale en die langer daglig ook die mense inspireer tot groter vriendelikheid.

Ja ek besef sommige van die manne en vroue is nou meer vriendelik oor hulle weer ‘n groter verskeidenheid van uitsig het om te bewonder as net jasse, baadjies en serpe. 😯 😈 Seker maar die helder sonskyn wat die klere so oornag krimp. 😉

Persoonlik dink ek dis ook ‘n goeie tyd om soos die natuur te maak en jou huis in orde te kry. Raak ontslae van die ou donker stowwerige hoekies en kry meer lig in jou lewe. Verander jou uitkyk van somber depressie en negatiewe gedagtes na daadwerklike sake wat jou besig hou en jou gedagtes kreatief laat uitleef.

Verfraai jou omgewing met kleur en geure wat jou gemoed lig. Maak ‘n plan om jou drome af te stof en te verander in realiteite. Leef jou inspirasie en aspirasies. Vergeet van die mislukkings van die verlede behalwe om die foute wat jy gemaak het te vermy deur dit as ‘n leerskool te gebruik vir jou toekomstige sukses.

Roep uit aan almal wat wil hoor en nie wil hoor nie; “Ek is ‘n wenner, ek is ‘n volmaakte skepping”. Begin dit glo en handhaaf jouself, die winter is verby en die kokonne het hul papies vrygestel. Sprei jou vlerke en reik na die sterre en bereik jou potensiaal sodat jy die reuk van oorwinning en sukses nes die geur van die Namakwalandse blomme jou sal omring.

Stel vir jou klein mylpale en vier elke oorwinning asof jy reeds die oorlog gewen het, maar as jy val mag jy nie bly lê nie, maar roep as dit nodig is dat ander jou kan ophelp en beur voort jou doelwit as enigste fokus voor jou.

Gee liefde en help ander want jy weet nie wanneer jyself liefde en hulp gaan nodig kry nie. Maar as jy wyd saai sal jy wel kans kry om te maai sodra jy dit nodig het.

Geniet elke dag asof dit jou laaste is, maar beplan elke ding asof daar nie ‘n einde gaan wees nie. Moenie uitstel om vir jou geliefdes te laat verstaan hoeveel hulle vir jou beteken nie. Jy mag jou bolwange boodskap uitstuur dat jy kwaai is, maar onthou dat elke minuut wat jy onder kompressie is, jy uit mís op gedeelde liefde en koestering.

Mag julle elke een ‘n wonderlike lente en ‘n oorwinnende somer geniet, waar niks jou keer om ten volle liefde te kan gee en terug ontvang nie.

Groete en seëninge van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok :roll: :lol:

White Knight


Responses

  1. Moresê Ridder!

    Meer lig in manman se lewe – beslis ja.

    Praginskrywing. Suiwer inspirasie. Dankie. Dankie.

    Die donker hoeke in Ding se lewe het spotlights gekry – nou net die stof versamel en jaag na waar dit hoort – buite in die wye vreemde!

    Grondgroete

    • Dagse Ding

      Mag die geur van die lente jou plekke vol lug vul dat die stof sommer self weghardloop. 😉

      Groete

  2. Ja!!!!! Lente, my gunsteling seisoen en môre Volmaan!! Die lewe is ‘n lied en ek sal sorg dat ek baie liefde uitdeel!!! 😉

    Volmaan groete!! :mrgreen:

    • Dagse Wipneus

      Hoop net nie almal wat jou ken moet wegkruip oor dit volmaan is nie. 🙄 😆

      Geniet elke oomblik van dit.

      Groete

      • Natuurlik kruip hulle weg, is net sommiges wat vasbyters is. 🙄 😯

  3. Ridder, ek het hierdie post van jou gedruk en dit op lentedag vir my Engelse vriendin (vertaal) gelees, ek kon die verwondering in haar oë nie miskyk nie. Sy begin nou my verlawing verstaan. 🙂 My siel word gevoed op wp. Dankie vir hierdie manna. Soms lewer ek nie kommentaar nie, maar ek lees getrou my gunsteling blogs, waarvan hierdie beslis een is.

    • Dagse Mefri

      In Ingels vertaal???? 😯 En ek dog nog al die tyd ek skryf Ingels :mrgreen:

      Baie dankie vir jou kuiers en mag dit altyd vir jou aangenaam bly om die Ronde tafel. 😉

      Groete

  4. Dankie Ridder, dit IS baie aangenaam en ek glo dit sal so bly.

    LOL ek het dit nie skriftelik vertaal nie, net verbaal.


Categories

%d bloggers like this: