Posted by: White Knight | Saturday, 8 August, 2009

Op die oog af …

Dagse Kuiergaste om die Ronde tafel in die Hawe. Lekker langnaweek vir sommige, mag die ander wat nie so gelukkig is nie hulle beurt binnekort kry om te rus. 😉

Wel die onlangse gebeure, waar mense mekaar so in die koerante aanval en die een die ander se karakter met die eerste en die beste paar vuil modder skoene vertrap en uitmekaar skeur het my nogal laat dink.

Die meeste gevalle, sou jy die tyd neem om daaraan te herkou en dit te bepeins, sal vir jou duidelik raak dat mense geneig is om te reageer voor hulle seker is wat die ander persoon bedoel met sy of haar skrywe.

Ek lees dat selfs predikante mense bedank wat uit hul kerk weg is omdat die nou so vermetel is om een van die “gesiene” teologiese reuse van die kerklike denominasie te bevraagteken.

Dit alles herinner aan ‘n ander verhaal wat ek as jongman gehoor het. Nou of dit net ‘n verhaal, gelykenis of die reine waarheid sou wees kan ek vandag nie by sweer nie, maar dit gaan as volg.

Klein Jan het nou soos die gewoonte was by jong manne wat rooihakskene ontwikkel, by die buurplaas se dogters gaan besoek aflê. Nou oom Gert en tant Marie het twee pragtige dogter gehad en natuurlik het dit nou Jan se planne omver gegooi. Hy kon nie heeltemal sy gedagtes orden oor watter een van die dogter nou eindelik die beste sou deug as sy lewensmaat nie.

Soos dit nou maar gaan in die tyd waarin hulle leef, was beide  wat jy as voorslag boere dogters sou beskryf. Hulle hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Koek bak, koskook, naaldwerk en as dit nodig help met die boerdery was vir hulle alledaagse dinge en dan nog so netjies op hulle self ook. Enige jong boerseun se droom.

Die tyd het begin aanstap en omdat Jan nog nie amptelik vir oom Gert gevra het of hy maar met een van die dogters kon opsit nie, het daar natuurlik van beide oom Gert en tant Marie en sy eie ouers sulke aanmanings gekom dat die lewe nie stilstaan nie en ”n lewensmaat vir hom nou nie heeltemal onvanpas sou wees nie.

Jan kon maar nie sy gedagtes in een kraal gejaag kry oor die saak nie. Gevolglik besluit hy om ‘n proefneming te maak en dan sal hy op grond van die dogters se reaksie besluit watter een die beste maat vir hom sal wees. Gewapen met sy plan van aksie is Jan weer die Saterdag middag by die buurplaas.

Amal weet mos dis ‘n gekoffie en koek so met die kuier saam. Emma die oudste dogter bring toe die skinkbord met koffie stoep toe waar die mense kuier en dis net hier waar Jan orentspring om soos ‘n gelante heer die skinkbord by haar te neem dat hy ewe lomp ‘n koppie koffie oor haar rok mors. Nadat die koppie en piering weer veilig op die skinbord is en die vloer opgeruim is, verdwyn Emma in die huis. Met haar terugkeer is sy weer skoon en netjies aangetrek en glimlag asof daar absoluut niks gebeur het nie.

Met die volgende koffie drink sessie bring die ander dogter, Elsie natuurlik die drink en eetgoed stoep toe. Met die aangee van die koffie stamp Jan per ongeluk die koffie koppie om en daar is haar rok bemors. Elsie laat nie op haar wag nie en  die arme Jan het omtrent behoorlik verstaan wat sy dink van sy onbeholpenheid die dag. Sodra die gemors opgeruim is verlaat sy ook die geselskap en met haar terug keer het sy ook ‘n skoon rok gaan aantrek en gesels en lag saam asof niks gebeur het nie.

Sowat ‘n jaar later is Jan en Emma getroud en na die wittebrood is hulle op die plaas gevestig wat Jan van sy Oupa gekry het. Op ‘n dag kuier Jan en sy Pa, oom Hendrik so onder by die windpomp. Oom Hendrik vra toe wat pla vir Jan en dis toe wat hy vertel dat hy nie kan verstaan dat sy liewe sagte vroutjie nou so regte geitjie geword het nie. Hy verduidelik vir sy Pa dat Emma hom al sy dae gee en dat niks ooit reg is die eerste keer nie.

Oom Hendrik se mense kennis is ook maar met die jare saam geslyp en hy vra dus maar hoe Jan besluit het om met die spesifieke dogter te trou. Jan vertel sy pa die hele verhaal van sy plan en ook die gevolge daarvan wat hom sy besluit “help” maak het.

Oom Hendrik aandagtig geluister tot Jan klaarmaak met sy storie. Na ‘n tyd van bepeinsing sê Oom Hendrik vir Jan dat hy met die verkeerde sussie getrou het. Jan kyk gevolglik sy Pa verstom aan, as die een wat sy vrou is so erg is hoe onhoudbaar sou die ander een nie wees nie.

Oom Hendrik verduidelik toe sy stelling as volg: “Jy sien Jan, toe jy Elsie se rok loop en bemors het sy jou dadelik laat verstaan hoe sy daaroor voel en nadat sy verklee het was die saak verby en vergete. Emma het egter stilgebly en dit het jou laat dink sy is die beste een. Wat jy egter nie geweet het nie, was  toe Emma gaan verklee het, sy eers ‘n hap uit die kas in haar kamer gebyt het van woede oor jy haar rok so bemors het. Sy het wel kalm voor almal opgetree, maar waar niemand gekyk het nie, was dit ‘n ander storie.”

Oom Hendrik het toe vir Jan vertel dat alles nie altyd op die oog af is soos wat dit mag voorkom nie. Enige iets wat jy met die eerste aanblik dink is  goed of reg, beteken nie altyd dit is werklik so nie. Self al voel jy anders as die persoon wat iets doen of vertel beteken dit nie daardie persoon is van hulle wysie af nie. Mens moet jou eers van al die feite vergewis voor jy besluite neem of uitsprake maak.

Indien ‘n Kernwetenskaplike jou sy vakgebied verduidelik is dit nie vanself sprekend dat alle Wetenskap onderwysers hom gaan verstaan nie. So ook maak dit nie dat iemand wat ‘n motor besit noodwendig kenners van F1 renmotors is nie. Daarom beteken dit ook nie van selfsprekend dat alle Predikante bekeer is of goeie huweliks beraders en kenners is nie.

Groete en seëninge van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok :roll: :lol:

White Knight


Responses

  1. Hallo Ridder

    Ja, mens moet maar versigtig wees wanneer jy probeer voorgee wat jy nie is nie – dit opgesom, is wanneer jou innerlike bots met jou uiterlike en jy is in meeste gevalle nie eens daarvan bewus nie.

    Met tyd, en met die mensekennis wat mens opdoen is dit wel moontlik om hierdie allerdaagse optrede te identifiseer, nie net by ander nie maar wanneer mens geneig is om dit self te doen.

    Die ergste is, mens is nog so onnosel om nie te besef dat die persoon vir wie jy as dom sien en vir wie jy ‘n rat voor die oe wil draai eintlik slimmer is as jyself omdat die persoon jou pretensie kan waarneem en identifiseer in jou optrede en verandering in gedrag.

    In Klein Jan se geval is dit moontlik dat hy nie waargeneem dat Emma reeds ‘n geitjie was voordat hulle getrou het nie omdat hy jonk was en/of die mensekennis nog skraal was – miskien was hy so halsoorkop verlief dat hy nie die pretensie kon raak sien nie – of Emma was net te slinks vir arme Klein Jan in die jaar voordat hulle getroud is.

    Groetnis

  2. Dagse Sharona

    Dis baie waar dat mense soms ‘n innerlike stryd voer tussen dit wat hulle wil wees en dit wat ander van hulle waarneem. Paulus waarsku mos mooi teen daardie gedeelte. 😉

    Die probleem met baie gevalle is dat mense, en juis uitgesonder die joernalistieke veld, eerder dit uit ‘n gesprek sal publiseer wat sensasie veroorsaak as wat hulle die volle feite weergee.

    Aan die ander kant maak die publiek weer nie seker van hul feite nie en raak op loop met een enkele sin of deel wat aangehaal word as die volle omvang van dit waarvoor iemand staan of sou probeer deur gee as ‘n boodskap.

    Ek dink daar is baie Janne en selfs Emmas wat maar met ongeloof lewe na die huwelik of selfs sake vennootskappe omdat die ande party nie is wat hulle gedink het die persoon voor gee om te wees nie.

    Gelukkig is die wat wel die Prins of Prinses wat hul hart begeer ontmoet het en dan die Koning of Koningin van hul lewe kan word vir die res van hul tyd saam.

    Groete

  3. Hello mnr met die swaard ;-P

    Ek stem 100% saam, vra my, ek’s weer so-pas daardeur. Dan vra mens baie vrae aan jouself, hoe kon ek nie deur haar sien nie, ek is tog ‘n besigheidsman wat sy brood en botter verdien om met MENSE te werk. Ek ken mense, moes dit gesien het!!!

    Dit laat mens net weereens besef, soek aller eers die wil van ons Here, beywer jou vir Sy werke, Maak Hom no een in jou lewe en Sy genade sal goed genoeg wees 🙂 🙂 🙂

    Cheerio

  4. Dagse Johann

    Baie welkom by die Ronde Tafel. Die vrae wat na die tyd bly maal en sonder antwoord voort storm in jou gedagtes is meestal baie erger op die lang duur as dit wat gebeur het.

    Ek sien jy verstaan egter die uitkoms van dit alles en dat vertroue en geloof in die Skepper die beste oplossing vir alle probleme en situasies is.

    Ek glo en hoop en vertrou dat die toekoms vir jou een sal wees waar die paaie gelyk gemaak sal word en die genade jou berusting sal bring.

    Groete

  5. Hi Knight

    Wat my die laaste tyd opgeval het is hoe mense vir Gretha Widd aanval, dis sommer nonsens. Ten minste probeer sy iets doen. Ek kyk altyd so na ‘n saak… voor ek kritiek lewer, kan ek dit beter doen? Het ek die kennis? regtig die kennis, nie net my weergawe nie. (Mens is nie altyd reg nie) As die antwoorde nee is, bly ek maar doodstil in my hoek sit. Dis onmoontlik om alles te weet, dis hoekom ons lewe, om kennis op te doen, elke dag tot aan die einde van mens se lewe.
    My Teddie sê altyd: Die dag wat jy besef hoe onnosel jy is, begin jy eers slimmer word.

    Groete

    ps: Ons het ook so Jan in ons lewe gehad. Iemand wat voorgegee het wat hy nie is nie. Dit het lank geneem om te vergewe en mense weer te vertrou.

  6. Nope ek moet regstelling kom maak. My teddie het hier kom “opcheck” 😉 die regte woorde wat hy gebruik is: Die dag wat jy besef hou min jy weet, begin jy iets weet. Daarsy!!! 😆

  7. Dagse Wipneus

    Ek stem saam met jou dat mens nooit genoeg kan weet of leer van ‘n saak af nie.

    Wat ek wel aflei van jou tweede inskrywing is dat jy nie altyd mooi luister as daar met jou gepraat word nie. 🙄 😆

    Groete


Categories

%d bloggers like this: