Posted by: White Knight | Tuesday, 4 August, 2009

Foto stories

Dagse kuiergaste van die Hawe. Ek met die huidige koue wil ek amper eerder aanbeveel dat ons sop en broodjies nuttig eerder as net die gewone koffie en beskuit tydens ons kuiers hier.😀

Die naweek tydens die rugby toets met Suid-Afrika wat voorloop en dis heel gesellig in die sitkamer met ‘n warmte wat die koue buite hou is daar meteens ‘n biep biep geluid. Jy het ‘n boodskap kom die koor tot lewe. Ek is nie nou lus vir boodskappe nie dink ek, dis rugby die boodskap kan wag. Maar dalk is dit dringend, so ek lees maar. Boodskap is van ‘n  kollega, dis nie WP teen Bulle nie so hoekom soek hy my kom die vraag by my op. Dan lees ek die volgende “Kollega X is oorlede, hartaanval vroeër vandag, Kollega WP”.

Die ander kyk vraend, hulle weet van die gekskeerdery tussen die provinsiale ondersteuners, maar dis nie nou Curriebeker nie,  dis toetsrugby en boonop teen die All Blacks.

Kollega X is oorlede antwoord ek die vrae op die gesigte, 54, hartaanval. Geen verdere inligting nie, net ‘n kort sms met harde feite.

Sondag kuier ons saam vriende. Ek en vriend gesels, ek dink nie jy kan hom net vriend noem nie, hy is meer as dit, een van daardie wat jy maar oorlog toe kan gaan en weet jy kan op hom staat maak. Daardie stil tipe met inbors en onbesproke karakter, die sout van die aarde. Een van die Prinsesse bring ‘n foto album en wil hê dat ons saam haar moet kyk en vertel wie is wie op die fotos.

Ek verduidelik vir vriend en prinses wie elke persoon is. Die is oom en tannie van daar af, ma se familie. Die is neef en niggie aan pa se familie kant en so gaan dit aan. Vriendin met die nekstut kort na motorongeluk, nou reeds oorlede, nie van ongeluk, natuurlike oorsake.

Ander vriend, golfmaat, ook reeds oorlede, hartaanval. Die mense by hulle aantafel, man gediagnoseer met kanker twee jaar gelede. Nou in remissie en hopelik om nie weer terug te keer ooit nie. Ander paartjie wat so lekker lag, gelukkig getroud, ongelukkig nie meer met mekaar nie. Derde paartjie is die man tans in intensief, dubbele hart omlyning gehad in die week.

Ons beweeg aan, die twee is darem intussen getroud en gelukkig. Die volgende paartjie het intussen na baie jare se trane, hatseer vrae en gebed ‘n baba ryker geword. Die groep aan hul regterkant het die man en vrou na ‘n moeilike tyd weer albei werk gekry en dit gaan nou minder benoud.

Hier en daar is nog familie en vriende wat ons vooruit gegaan het. Dan weer ander wat ondanks moeilike tye weer kan glimlag en die koppe kan optel. Darem is al die fotos nie net getuienis van hartseer en teenspoed nie.

Maandag oggend stap ek in die kantoor in en sien dat die mense in groepe staan en gesels. Die een klomp stry oor watter speler die beste gevaar het in die toets. By ‘n ander raak iemand iets kwyt wat die groep in ‘n lagbui laat uitbars.

Dis toe wat ek weer besef, kollega X en al die foto stories ten spyt, die lewe gaan voort. Vader tyd stap aan en niks keer daardie gebeure nie. Ek besef dis beter om elke deel van dit wat ons het ten beste te benut en seker te maak daar is nie verwyte en selfverwyt nie.

Maak reg wat verkeerd is en lewe asof jy nooit gaan kans kry om foute reg te maak nie. Dus doen wat jy doen na die beste van jou vermoë, moenie uitstel nie, sodat nie jy of ander ooit na foto’s hoef te kyk en te wonder of jy nie maar kon reg gemaak het of beter kon doen nie.

Groete en seëninge van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok :roll: :lol:

White Knight


Responses

  1. Die lewe is so bitter kort. En elke sekonde is spesiaal daar sodat elkeen van ons iets daarvan moet maak! Diepe skok tot realiteit. Groete Ridder!

  2. Dagse Pikkie

    Die lewe het soms ‘n manier om ons terug te ruk na die werklikheid en te laat onthou dat ons net sterflinge is en nie vir ewig gaan rondsluip op aarde nie.

    Alles van die beste Pikkie

    Groete

  3. Ek is een van daardie dankbare mense wat nog bitter min mense in hul jong jare aan die dood afgestaan het – my ma was 60 en behalwe vir ‘n oom wat jare terug verongeluk het, was sy die jongste. So my albums is vol mense wat nog leef. Daar is enkele van my oudkollegas dood nadat ons paaie geskei het en jare terug het een aan kanker gesterf terwyl ons by dieselfde eenheid was.

    Gister is ‘n aangetroude tannie dood aan kanker en dit voel onwerklik omdat ons in jare nie met mekaar kontak gehad het nie.

    Ek weet dat ek bevoorreg is en ek vind elke afskeid na ‘n kuiertjie bitter moeilik omdat ek altyd wonder of dit die laaste keer is. Ek sien vreeslik uit na September wanneer ons hele gesin (minus my ma natuurlik), weer bymekaar gaan wees!

  4. Hi Knight

    Jammer oor jou kollega wat oorlede is.

    James Dean het gesê:
    Dream as if you’ll live forever. Live as if you’ll die today

    Ek stem, maak reg wat verkeerd is – vergewe ander en vra vergifnis indien nodig. There’s an old saying: if you want to know what people will say about you when you are gone, write your own epitaph. I don’t want people to look at my potraits and say: rest her sole, the poor woman was negative, bitter and unforgiving!!😆

    Jy is gelukkig om so goeie vriend te hê waarmee jy oorlog toe sal kan gaan. Jou vriend dink jy het net sulke goeie kwaliteite – ek is doodseker daarvan. 😉

    Groete van my Pandok!

  5. Dagse Wipneus

    Daar is baie verlossing in vergifnis.

    Voormalige Amerikaanse President Bill Clinton het een dag vertel dat die grootste les wat hy kon leer in die lewe was van oud President Nelson Mandela. Dit dat “Sonder vergifnis bly jy die ander mense se gevangene”

    Wat mense vergeet is dat ons verwag God moet ons vergewe, maar ons self wil nie self vergewe nie, ten spyte van die deel wat ons gereeld bid : “Vader vergewe ons, ons skulde nes ons, ons skuldenaars vergewe”.

    Groete

  6. Dagse Jo-Ann

    Errstens verskoning dat ek nou eers op jou skrywe reageer.

    Die afstaan van vriende en familie aan die dood is ‘n onderwerp wat ons nie aan herinner wil word nie. Tot op ‘n dag wat iemand te sterwe kom en jy besef dat dit die eerste een is van jou generasie, dis nie meer net die “ou mense” wat sterf nie.

    Gelukkig is julle wat nog die meeste van julle mense kan groet binnekort. Mag dit ‘n vreugde volle tyd wees.

    Groete


Categories

%d bloggers like this: