Posted by: White Knight | Thursday, 30 July, 2009

Helde, wat / wie is ‘n held?

Welkom by die Hawe, neem julle sitplekke in en ontspan terwyl ons die dinge rondom ons bekyk en van nader betrag.

Vanoggend lees ek ‘n koerant plakaat wat lees: “Nuwe swem held kry goud” Wel die berig gaan oor die prestasies van die Suid-Afrikaanse swemmer, Cameron van der Burgh, se wêreldtitel en -rekord in die 50 m-borsslag by die Wêreldswemkampioenskap in Rome.

Die term “held”,  het my grysstof aan die beweeg gekry en die gedagte begin rongooi oor wat is nog vandag werklik die regte beskouing van ‘n held. As jy na die verlede kyk was die term held in die meeste gevalle gebruik vir wanneer iemand hom of haarself sou opoffer terwille daarvan om ander te bevoordeel, sonder om eer hul eie welsyn te oorweeg.

As mens die geskiedenis bestudeer kom name soos Wolraad Woltemade na vore. Hierdie man het homself en natuurlik sy perd opgeoffer om veertien mense van verdrinking te red in 1773.

Die volgende persoon wat ek aan kan dink is natuurlik Racheltjie de Beer wat in 1843 haar eie lewe opgeoffer terwille van haar broer, deur hom in ‘n uitgeholde miershoop te versteek en haarself as skans voor die ingang te plaas. Sy het gevolglik verkluim, maar die boetie het oorleef.

Daar is seker nog geweldig baie ander mense wat as helde deur hulle onderskeie groepe en gemeenskappe gesien word. Ek kan aan Gen. Christiaan de Wet, Gen. Koos de la Rey en vele ander wat tydens die ontstaan en behoud van ons land, volk en taal opofferinge gemaak het.

Vanuit die oogpunt van die post 1994 geskiedenis kan jy seker maar aanvaar dat mense soos Nelson Mandela en Oliver Tambo as helde beskou word deur ‘n groot deel van die huidige land en selfs wêreld bevolkinge.

Dit sluit nie eers elke blinkoog dogter en seun se held in of dan die wat hul helde veronderstel is om te wees nie nl. hulle eie Pa en Ma.

Wat my vraag egter vandag is, is nie wie van die mense wat hier genoem word werklik vir almal helde was nie. Die een se held is baie kere die ander groep se vyand en of dalk nog terroris. Die gedagte wat ek mee worstel is naamlik:  Het die term held nie te goedkoop geraak vandag nie?

Elke tweede persoon wat bekend is en hulle naam word aan ‘n spesifieke saak gekoppel, is sommer onmiddelik  ‘n held. Is dit nie die hoofrede hoekom ons so geweldig ontnugter word sodra die “helde” se lewens ‘n ander draai maak as wat ons verwag nie.

Vir my persoonlik is daar een HELD wat uitstaan bo alles en almal en dis Jesus Christus self.  Geen skand, vlek of gebrek kan teen Hom as persoon ingebring word nie. As God word Hy mens en gee Homself prys as offer vir die ganse mensdom. Dis waarlik iemand wat jy kan volg en bewonder, self ‘n persoonlike verhouding mee kan bou. Hy wat jou nooit teleur stel nie.

Hieraan gemeet sal enige ander mens of figuur nooit goed genoeg wees as jy die term held wil gebruik of toeken nie. Dit sal natuurlik ook geheel onregverdig wees, daarom onderskei ons tussen Jesus as Verlosser en gewone mense as slegs helde.

Het die toeken en aansien van die mens as held goedkoop geraak?

Of is ek maar slegs oor krities in my eie ontleding van die saak?

Wie sou julle as helde klasifiseer?

Groete en seëninge van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok :roll: :lol:

White Knight


Responses

  1. Ek stem nogal saam met jou dat mense dig deesdae sommer baie maklik die term held aan iemand toe.
    Myns insiens kan ‘n held sommer ‘n gewone ou wees. Die ou wat by ‘n rooi robot stop al jaag 3 ander oor. Die ou wat sy belasting betaal al kan hy konkel. Die ou wat getrou is aan sy vrou, al het hy al die geleentheid in die wêreld om ontrou te wees. Die ou wat die fluitjie sal blaas op wanpraktyke, al kos dit sy werk. Die ou wat al hierdie dinge doen omdat dit die regte ding is om te doen en nie omdat hy dopgehou word nie. Die ou wat die dinge doen ten spyte van enorme groepsdruk deur ‘n verrottende samelewing, daai ou is ‘n held in my oë.

  2. Dagse Plaasjuppie

    Dankie vir die kuier.

    Jou stelling : “Die ou wat die dinge doen ten spyte van enorme groepsdruk deur ‘n verrottende samelewing, daai ou is ‘n held in my oë.”

    Dis wat my grystof laat rondmaal tussen die gedagtes. Die verotting wat sulke afmetings aan neem dat mense wat nog volgens moreel korrekte waardes lewe en optree so min raak dat hulle uitstaan eerder as jare gelede waar die vrot appels uit gestaan het.

    Ten minste stem ons hoop ek dat dinge sal verbeter eerder as nog slegter raak.

    Groete


Categories

%d bloggers like this: