Posted by: White Knight | Tuesday, 28 April, 2009

Binne in die Wolk

Gereeld hoor mens van iemand wat nie meer weet herwaarts of derwaarts nie. Dis vir hulle ongelooflik donker te midde van die situasie waarin hulle op daardie tydstip bevind. Op moedverloor se vlakte en met bitter min hoop huiwer sommige van die mense ook op die rand van ineenstorting of wil net geheel boedel oorgee en nie meer langer sukkel nie.

Die situasie kan vergelyk word met ’n vliegtuig wat binne in ’n wolk sou invlieg en dan daar binne in bly voortvlieg. Ongeag of jy die vlieënier is van ’n makro straler of enkel sitplek mikro ligte vliegtuig. Die enigste veilige manier wat die persoon in beheer van so ’n vliegtuig kan op hoop, is sy navigasie toerusting vir koers en natuurlik hoogte meters en radar om te verhoed dat hulle in berge of ander vliegtuie sou vasvlieg.

Die mense is geensins verskillend van die situasie nie. Jy kan jou in die donker wolke van probleme bevind. Ongeag wie verantwoordelik sou wees, jy persoonlik, iemand anders of omstandighede buite jou beheer.

Dis dan wanneer jy moet weet hoe om die navigasie toerusting, radar en kommunikasie met vlugbeheer korrek te kan gebruik en hanteer. Daar is nie dan tyd om handleidings te lees en begin soek vir instruksies wat jou gaan help om die tegniese terme te verstaan en gebruik nie. Vlieëniers gaan deur ure se teoretiese studies en praktiese opleiding in ‘n simulator voor hulle toegelaat word om die vliegtuie te beheer. Hoe groter die vliegtuig, hoe meer bemanning word vereis om die vrag en passasiers veilig te vervoer tussen die verskillende punte.

Die menslike lewe is geensins anders nie. Jy het nodig om die basiese beginsels van die lewe te verstaan. Jy kan probeer om solo te vlieg jou hele lewe en te navigeer volgens bekende roetines en bakens in jou lewe waarmee jy groot geword en vertroud is. Dit egter help jou glad nie as jy op enige stadium buite jou normale roete geneem word en skielik is alles vreemd nie.

Die enigste waarlik antwoord bly natuurlik om met die Vlugbeheer van jou lewe kontak te maak en te behou, asook jou Navigasie toerusting en Radar te ken en in stand te hou. Die beheer toring en navigasie toerusting vir die mens is en bly natuurlik God, Jesus Christus en die Heilige Gees. Sonder Jesus Christus is en bly daar geen kontak met God die Vader of dan vir die skrywe Die Beheer Toring van jou lewe nie. Anders as met gewone vliegtuie is jou lewe se Beheer toring nl. God ook jou vliegtuig, liggaam, siel en gees, se Skepper en ken Hy jou vermoëns en kragte en kan jou daarvolgens lei.

Die Radio frekwensie wat jou weer in Kontak met die Beheer Toring plaas is natuurlik Jesus Christus. Slegs in Hom en deur Hom kan jy weer met God herenig word in jou lewe. Die Navigasie toerusting en Radar van jou lewe is natuurlik Die Heilige Gees. Dis die belofte van Jesus Christus voor Hy opgevaar het na Sy opstanding om te gaan plek voorberei vir ons. Die Heilige Gees sou Hy van die Vader bid om vir ons te kom vertroos en leer aangaande Jesus Self.

Nou die dinge is en sal nog baie keer oor gepraat word, maar as jy al die toerusting het en jy gebruik dit nie, dan gaan jy in jou wolk bly en selfs in sirkels begin vlieg wat later net eenvoudig sonder brandstof raak en die uiteinde is jy gaan neerstort.

Die vraag sou wees hoe gebruik jy jou toerusting die beste?  Deur die Handleiding te lees. Jy moet jou Bybel as Handleiding vir die lewe en die mens bestudeer en mediteer oor die inhoud daarvan. Dan moet jy gereeld en sonder ophou met die Beheer toring en Skrywer van die Handleiding in kommunikasie bly. Dit geskied deur voortdurend in gesprek met God deur Jesus Christus te bly. Dis hier waar jy oefen om in tye van nood jou korrekte roep seine te gebruik. Die tye wat jy in ’n krisis is met jou lewe, moet jy nie nog eers wil soek vir ’n frekwensie en roep sein nie, maar dit so gemaklike en sonder huiwering kan gebruik dat jy selfs die antwoord wat terug kom, kan ontvang en verstaan.

Dis seker die een belangrikste element van die menslike lewe wat by uitstek verwaarloos word nl. hul gebed lewe. Sodra hulle in ’n probleem situasie is, dan skarrel hulle verward rond opsoek na die uitkoms, maar ken nie eers die roep sein en kanaal om te gebruik nie. Dis die probleem wat baie mense het in dat hulle vir jou sê, Maar ek weet nie hoe om te bid nie, sodra hulle lewe omvêr gegooi is.

Die lewe se vlug is en roete kan net met veiligheid aangepak word as jou kennis van die Toerusting en gebruik daarvan heeltemal in plek en jy die nodige oefening suksesvol afgelê het. Daardie oefening word daagliks gedoen deur die vermoë wat jou knieë het om voor God in erkentlikheid en dankbaarheid te buig.

Die gebeds lewe van die Wedergebore kinders van God, bepaal die sukses waarmee hulle deur die donker wolke van lewe kan beweeg en die gevare vermy wat oor hul pad kom.

Dis die gebeds lewe wat nie net afgerammel word met eie idees en begeertes nie, maar ook tyd maak om te luister na die opdragte en waarskuwings wat die Beheer toring aan jou terug stuur.

Groot vliegtuie vereis meer bemanning om na hul bestemming te vlieg. Net so het ons ook elke een soms meer “bemanning” nodig om ons lewens reis suksesvol te voltooi. Daar kom tye wat ons in eenheid met ander moet inskakel op God se Frekwensie en moet saambid vir uitkoms en oplossing. Ons vind die beste voorbeeld hiervan in Job, dat as hy vir ander bid begin God hom seen. Daar lê ’n groot geheim opgesluit in die gebed van die gelowige wat vir ander bid en God se seen en beskerming oor ander se lewens vra.

Mag julle elke een in die Gees die ware Frekwensie van die lewe vind en weet hoe om dit korrek te gebruik en ook die opdragte ontvang, verstaan en kan uitvoer.

Groete en seëninge van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok 🙄 😆

White Knight

Advertisements

Responses

  1. Ridder jy maak my so skaam… Ek weet al hierdie dinge, maar ek’t vergeet…. dankie…

  2. ek verstaan niks nie jy vlieg te hoog vir my ou veilige hawe

    ek voel mar die lewe so deur my vingerpunte aan en dit maak my baaaaaaaie happy

    peace and love
    anny

  3. Ek verstaan!

    Jy kan nie net opstyg en vlieg nie, ek vlieg tog so graag hoog… maar omdat die navigasie toerusting, radar en kommunikasie met vlugbeheer nie korrek instand gehou en ordentlik gebruik word nie – verloor my vliegtuig time and again beheer!! 🙄

    Dankie Knight!

  4. Baie goeie inskrywing! Thanx

  5. Baie Goed en alles waar!!

  6. Kan jy tog nou asseblief weer aarde toe kom en iets kom skryf???


Categories

%d bloggers like this: