Posted by: White Knight | Monday, 2 March, 2009

Om vir Ting-a-ling te dra

By die vorige skrywe oor ting-a-ling het baie verwys na die gebrek van sekere mense om te help as ting-a-ling nie self kan of wil loop nie. Sapphire Gem se verwysing na die Prinsesse wat moontlik baie gedra word?
Ja dis korrek, ek dra hulle fisies baie keer rond. Hetsy of dit net is om te speel of kamer toe dra as hulle van moegheid op ’n ander plek as hul beddens aan die slaap raak. Selfs die keer wat hulle kom sekuriteit soek in die nag dan dra mens hulle weer terug kamer toe sodra hulle weer rustig is. Maar dit is alles fisies dra, soos optel en die klein kinderlyfie ronddra.

Ting-a-ling het ook ‘n ander behoefte waar Pa en Ma moet help dra en dit is baie meer as net optel, dit sluit geestelike en emosionele oplig en dra ook in. Die toerus van die kind vir die lewe wat voorlê en nog gelewe moet word. Dis hier waar die stelling doen wat ek sê jy moet doen, moenie doen en sê wat ek doen nie, heeltemal verkeerd en onvanpas raak.

Indien jy as ouer jou soos ’n hooligan gedra en uitdruk elke dag kan jy maar weet jy is besig om ook ’n hooligan groot te maak. Jy kan nie jou kind slaan en straf as hulle vloek maar jy self vloek soos die beste middel eeuse matroos nie. As jy alles met geweld wil oplos gaan jou kind bes moontlik ook daardie voorbeeld volg.

Pa kan nie maak soos hy wil en dan verwag Ma moet alles regmaak met opvoeding nie. Onthou “monkey see monkey do” is nie verniet ’n spreekwoord nie. Wat jy doen, sal eerder jou kind se aandag trek as wat jy oor “preek” vir hulle. Dit vat nie ’n “rocket scientist “ om te verstaan hoekom daar verwys word na die appel val nie vêr van die boom nie.

Die eerste sewe jaar van ’n kind se lewe bepaal grootliks hoe hulle die lewe gaan hanteer en of hulle sal oorwin of wegkruip sodra daar die geringste teken van probleme is.

Om ting-a-ling te dra verg baie meer van ouers as wat die meeste wil erken of besef. Wat meeste egter nie wil aanvaar nie, is dat Pa net so groot rol speel in sy kinders se opvoeding en leer proses vir die lewe wat voorlê as wat Ma wat tradisioneel aanvaar is die verantwoordelikheid moet dra.

Pa en Ma is albei nodig om die boustene van ‘n suksesvolle mens in plek te plaas. Eerstens is dit natuurlik nodig vir elke ouer om die swak plekke in hul eie mondering aan te spreek en reg te stel anders dra ons daai probleme oor. Ouerskap is nie vir sissies nie en baie beslis ’n verantwoordelikheid vêr bo wat baie bereid is om op te offer.

Sterkte, dit verg eerlikheid met jouself en behoorlike oefening en bereid willigheid om te leer as jy kinders wil grootmaak. Geen twee is dieselfde nie en jy bly leer soos jy aangaan. Byt vas en erken jou foute dan sal jy makliker deur dit kom en so sal jou kinders ook leer dat menslikheid beteken nie swakheid nie.

Die beste plek om te leer bly maar by die voete van Hom wat hulle vir ons leen. Knie werk en nie brood knie nie, bly maar die beste oplossing vir enige vraag of probleem rakende kinder opvoeding.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok.  🙄  😆


Responses

  1. Mens kort ook deesdae hare op jou tande om hier te kan lees. Ek was nou al 10 keer lus om die Pc uit die 7de vloer se venster te gooi. En nie oor wat jy skryf nie . . .

    Ek stem oor die algemeen saam met wat jy se. Veral dat ‘n kind ‘n ma en ‘n pa kort.

  2. Knight ek stem 100% saam met jou, kinders grootmaak is verseker nie vir sissies nie. Harde werk maar ai! tog so lekker!

    Maar ek sê nogsteeds deur self die voorbeeld te stel is jy al halfpad daar. 😉 As mens regtig lief is vir jou ting-a-lings dan is dit maklik….

    Adrie 😯 maarjy is kwaai so vroeg op ‘n Maandag oggend!

  3. Dagse Kuiergaste 😉

    Adrie
    Bedaar kind, bedaar. Jy weer vergeet om jou geduld pilletjie te drink vanoggend? 😕

    Wipneus
    Voorbeeld is belangriker as woorde.
    Sien jou kind se wind is weer agterstevoor vandag 😆

    Groete


Categories

%d bloggers like this: