Posted by: White Knight | Tuesday, 10 February, 2009

Ek is maar so……

Opvallend hoeveel mense die stelling maak “Ek is maar so gemaak en laat staan. Wie nie van my hou so nie moet maar ander plek kyk of gaan.”

Die gesegde word op meer as een saak toegepas wat mense weet in werklikheid “verkeerd” is in hulle lewens, maar nie weet hoe om dit reg te stel nie of alternatief is hulle maar te bly dat hierdie ‘n fokus punt is wat die aandag aflei van moontlik ander probleme wat dalk daar is.

Hierdie manier van optrede waar mense vir die geringste dingetjie wat gebeur ontplof en dadelik luidkeels almal wat volgens hulle deel is van die probleem, in kennis stel hoe erg die ongelukkigheid is. Sou mens die voorbeeld gebruik van iemand wat vir aankope by ‘n winkel wil betaal en die kredietkaart word afgewys, sal die arme winkel assistent verskreeu en self sleg gesê word en indien jy op daardie tydstip in die rigting van die bohaai kyk is jy ook sommer in lyn vir tong straf.

Dan kry jy ook die “regskenner” wat alles weet van wetgewing en sommer vinnig vir elke een wat wil hoor duidelik laat verstaan hier gaan moeilikheid wees as jy nie jou sin kry nie. Die winkel of diensverskaffer oortree die wet en jy gaan hulle aan die pen laat ry. Die enigste probleem is dalk net jou wetboek was moontlik geldig in 1652 to Jan van Riebeeck in die Kaap anker gegooi het, intussen het dinge so effens verander. Kry jou feite reg en nie die idees van jou slim buurman nie, die ware feite.

Moenie vir my kom vertel jy is maar net so en dat jou woede uitbarstings en geskel in die openbaar, wat in die meeste gevalle onskuldige mense nie toekom nie, is maar hoe jy is.  My onomwonde verklaring aan jou vandag is, jy praat nonsens, gaan kry berading of sielkundige hulp vir jou probleem. Jy kan verander mits jy dit wil doen.

Ek verstaan mense word vies vir swak diens en dat jy as verbruiker ‘n reg het om jou misnoeë bekend te maak en aan te dring op verbetering veral waar jy gereeld van die diens gebruik moet maak. Jy kry egter baie meer reg deur ordentlik met mense te praat maar nogtans ferm te wees as om te skreeu en vloek. Jy is ‘n verleentheid nie net vir jouself en familie nie maar ook vir jou mede verbruikers.

Dieselfde vind jy by mense wat nie hulself versorg nie. Hiermee wil ek dit duidelik stel, daar is mense wat deur mediese probleme sukkel met hul gewig, maar steeds versorg is en moeite doen met hul voorkoms. Baie mense gee egter glad nie om hoe hulle lyk nie maer of oorgewig. Wel dis nonsens dat jy maar net so is, jy is net gewoonweg lui en baste met die res. Dit vat nie baie om ‘n skoon en netjies voorkoms te hê nie.

n Wyse man het eendag gesê dat armoede kan baie mense oorkom en is nie ‘n skande nie, maar slegtheid is sommer net nonsens. Ek wil dit beaam vandag, om lui te wees is ‘n skande.

Elke mens kan verander, dit hang net af of jy regtig wil. Kry vir jou hulp anders jaag jy almal om jou weg deur jou optrede. Moenie vir een oomblik mislei word deur mense wat jou altyd saam vat as daar ‘n “probleem is om dit te help oplos nie”, hulle is nie jou vriende nie, anders sou hulle lankal met jou oor die probleem gepraat het. Daardie mense is vir jou ‘n groter vyand as vriend en gewoonlik die een wat agter jou rug vir lag en bespotlik maak.

Begin na jouself kyk en doen ‘n keuse wil jy die res van jou lewe ‘n wandelende tydbom wees of nie. Die keuse is joune en ook die eerste stap op die pad van herstel of in dieselfde rigting as die afgrond.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok. 🙄 😆


Responses

  1. Too true!
    Mense begin seker nou meer luidkeels protesteer omrede hul dalk meer kwaad is as voorheen. Ons nasie het mos nooit mond oopgemaak nie en ek self sien ook nou meer mense dit doen MAAR wees gematig en regverdig. Persoonlik laat ek my stem BAIE stiller en laer word wanneer ek iets ernstigs aanspreek – dis asof die ander party dan REGTIG luister en moet strem om te kan HOOR.

  2. WK ek like jou nuwe prentjie 😀

    Ek myself is nie die tantrum tipe nie ek is mos maar stil mens 😛 maar ja ek dink dis ongeskik om so te kere te gaan as mens dit ordentlik kan uitpraat !

    Voorkoms wel ek dink ook net lui mense lyk sleg 🙂

    Sien julle weer op ‘n ander dag as ek terug kom 😀

  3. Dagse Kuiergaste 😉

    Sammi ek stem saam, daar is baie faktore wat tans mense se gedrag kan beinvloed maar die ware jy sal maar altyd na vore kom.

    Daar is maniere en maniere om dinge te doen en dis altyd beter om die ander om jou nog in die ooe te kan kyk as jy klaar is en nie jou kop in skaamte te laat sak nie.

    Thasia
    Jy die stil terug getrokke tipe 😯 Nooit wie sou dit kon raai. 🙄
    Ek stem, dis nie nodig om altyd ‘n lawaai te maak nie.

    Groete

  4. Moeilik om te glo, maar ek gooi nie tantrums om n geskil te besleg nie. Ek het lankal agtergekom dit lyk belaglik en is selde suksesvol. Hulle is dan ook minder lus om te help.

  5. Ek het dadelik my hare mooi gaan blaas en my mooi uitgevat :mrgreen:

    Dis waar Knight, dit help in elk geval nie om tantrums in die openbaar te gooi nie.
    Ek is te skaam om my naam in die openbaar met ‘n plank te slaan! Dis ook nou nie eindelik goeie maniere nie.
    Ek sien die ding baie in restaurante en skaam my dood vir daardie mense! Mens moet kla, maar dis nie nodig om almal maagpyn te gee met jou geteem nie! Dit neem sommer my eetlus weg. Mens kla diskreet en saggies!

    Ons het laasweek ‘n vreeslike ding beleef, ‘n gesin het heerlik geëet, en so in die helfte is die vrou se pasta nie wat sy bestel het nie. Hulle gooi toe tantrum en vat pad! Die waitress het hulle gaan haal, en hulle is in die restaurant in, ek weet nie wat verder gebeur het nie. Ek het net my kop geskud! Kan jy glo, hulle wil toe vir niks van die etes betaal nie??? 😯

  6. Jip, jy kry die beroeps *a*makers, en die restaurant boelies.

    In my geval is ek telkens die een wat die verkeerde kos, of onsmaaklike kos in die restaurante bedien word. Nie een of twee keer al nie, maar genoeg om ‘n post te doen! Ek is kort van draad – nie almal is met ewe lang lontjies beloon nie, maar ek kan ‘n waiter in ‘n fluisterstem ook goed laat verstaan ek sal sommer my eie kos in hulle kombuis loop aanmekaarslaan!

    Dan kry ek altyd die tou wat die stadigste beweeg, en net voor my tot halt kom, omdat daar ‘n fout is met ‘n prys.

    Ek word beproef, en ek faal soms liederlik! Ek sal nie lieg en se ek is die geduldigste mens wat ek ken nie, maar sigbare onvermoe laat my beenhare ingroei. Ek sien nie iets daarmee verkeerd om ‘n bestuurder wat hang-staan teen rakke en klets met personeellede, te versoek om op te tree volgens sy/haar rang nie. Gits, iemand moet die mense reg help, as hulle opleiding dan so swak was.

    Nou ja, daar is ek self-ontblotend gewees as iemand wat nie bang is om te kla nie. Maar ek doen dit NOOIT sonder rede nie. En as daar nie geld op my kaart is nie, sal ek dit darem wragtag nie aanbied as betaalmiddel nie!

    😆

  7. Ridder, pragtige nuwe prent wat my baie rustig stem. Ek is ook nie die geduldigste mens nie maar werk baie baie hard daaraan. Elke ou met wie jy ‘n probleem het, het ook maar sy eie probleme.

  8. Ek is ook nie die geduldigste mens nie – ek vind dit bitter moeilik om veral swak diens te aanvaar omdat ek in ‘n bedryf is waar klientediens van kardinale belang is – my kliente verwag 110% professionele diens en ek (en die personeel)moet “deliver” – of ek sien my allie good en solid en die maatskappy reputasie ly daaronder. Ten spyte van die ongeduld probeer ek tog te alle tye in die publiek ook redelik te wees en die stemtoon op ‘n redelike vlak te hou indien dit nodig is om iemand aan te spreek. 😡

  9. Dagse Kuiergaste 😉

    Adrie
    Gooi jy nie tantrums nie. 😯 Wel ek moet erken jy steek jou aggressie baie goed weg dan 🙄 😆

    Wipneus
    Daai deel oor die gesin wat pad vat is deel van die volgende post oor Slimjanne. 😉
    Baie bly as jou voorkoms netjies is voor jy hier kommentaar lewer. 😉

    Skoor
    Geen persoon het nodig om swak diens of produkte te aanvaar nie, maar hoe jy dit hanteer is wat belangrik is en bepaal of jy resultate gaan kry.
    Buitendien behoort mens die probleem aan te spreek en nie sommer die eerste en beste persoon nie.

    Linda
    Baie dankie, ek probeer die Hawe maar so vriendelik en verwelkomend moontlik laat lyk.

    Sharona
    Jy beaam beslis wat die ander ook voel en dit is dat met oredentlike ferm optrede kry mens meer gedoen as om jouself soos ‘n “vark” te gedra.

    Groete


Categories

%d bloggers like this: