Posted by: White Knight | Tuesday, 3 February, 2009

Besigheid of blatante gelieg.

In sekere opsigte sal die Hawehoof nie ’n goeie besigheid persoon maak nie. Dit is moontlik normaal om nie altyd jou kaarte te openbaar as jy in besigheid is nie. Maar om blatant vir mense te lieg is nou maar eenmaal nie my manier van dinge doen nie.

Indien jy en ‘n ander maatskappy se verteenwoordigers vergader en die inhoud daarvan kan verskeie mense affekteer moet jy soveel versigtiger wees in wat jy sê of doen. Jy kan seker nie ’n maatskappy laat blyk dat jy van plan is om jou operasies te verskuif na ‘n ander groep omdat jy weet hulle kan operasioneel nie meer aan jou vereistes voldoen nie. Die huidige finansiële situasie het hulle net so negatief geraak as vir baie ander maatskappye en kan as gevolg daarvan nie ten volle opereer nie.

Die probleem in sulke gevalle is altyd dat daar mense is wat gevolglik gevaar loop om hulle werk te verloor. Dis juis hier waar die kinkel in die kabel ontstaan. In sulke besprekings weet die firma se mense dat daar ’n moontlikheid bestaan vir sommige om hulle werk te verloor, daarom kan jy verwag dat een van die mense sal vra of julle beplan om hulle kontrak te beëindig.

Nou dis hier waar jy baie diplomaties moet wees en verkieslik sekere inligting nie met hulle deel nie. Dit klink verkeerd, maar dis beter as om valse hoop te genereer by die mense. As jy nie inligting het volgens hulle kennis nie, kan niemand die blaam later op jou skouers pak en verwyt nie. 😕

Altyd maar altyd kry jy natuurlik die blikskottel wat maak of hy belangrik is en dan blatant vir die mens lieg. Met ’n tipiese stelling soos: Nee, nooit gesien nie, ons firma en julle kom al so lang pad daar is nie ‘n manier wat ons julle sal verlaat nie. Dis dan diesélfde vent wat net die vorige dag in ’n ander vergadering verklaar het, “Ek sal die storie sommer vinnig afhandel, voor hulle kan oë knip is ons reeds weg by hulle en kry die goedere van ‘n ander verskaffer af”

Skynheilige bliksem, vir so persoon het ek nie baie tyd nie, jy speel nie met mense se lewens nie, veral nie in die huidige moeilike omstandighede nie. Dit juis as jy nog nie alle opsies ondersoek het om die situasie te beredder nie.

Wel dalk is ek net te krities oor hoe mense behandel word en miskien nie goed vir enige besigheid nie, maar lieg bly lieg in my boek en basta. Moontlik is ek dalk meer verkeerd as hy deur nie alle inligting te wil deel nie.

Hoe sal baie dit stel? Die waarheid is, wat jy verstaan dit moet wees, of miskien nie.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok. 🙄 😆


Responses

  1. Ridder
    As geld en wins die aansporing is asook egos dan is dit ongelukkig so dat sommige mense sonder gewetes kan “operate”
    Ek wonder altyd hoe so ‘n mens in die nag slaap, maar miskien het hul al so dikvellig geword dat dit hul geensins pla nie.

  2. Hawehoof

    Lieg? Ek kan dit nie verdra nie. In hierdie ekonomiese onseker tye, is dit eers erg, want dis hele famililes wat daaronder ly. Blinde sambok sal daardie ou nog kry…als sal hom nog inhaal.

    Sorry ek was regtig lanklaas hier. Dinge het dol gegaan van middel Nov af. Dit is nou weer beter, dankie.

  3. Dagse Kuiergate 😉

    Sammi
    Dis hartseer as geld en arrogansie belangriker word as mense. Veral as dit nog aan gehelp word deur ‘n “kleinmannetjie sindroom” 😈 😡

    Sigeuner :Roll:
    Jy lewe regtig nog. 😯
    Toemaar ek weet almal is besig, terg net. 😆
    Jy is reg, maar die meeste van hulle erken nie eers as die blindesambok eers begin slaan nie, blameer altyd ander mense.
    Sterkte daar by julle kraal, alles wat mooi is.

    Groete

  4. Ridder, die besigheidswereld is “tough”, mens moet gedurig jou rug dophou – almal veg vir die behoud van hulle onderskeie ondernemings veral in hierdie onstuimige finansiële tye – uit persoonlike ondervinding doen sommiges dit op ‘n onderduimse manier en sonder enige integriteit – dit maak vir diegene nie saak wat die langtermyn nagevolge gaan wees nie. Ek gebruik altyd die terme “business is not about being nice” – maar dit beteken nie dat enige besigheids geleenthede oneties, sonder integriteit of professioneel hanteer word nie.

    “The future is being formed in the womb of the present

    And unless we weigh todays’s actions in terms of tomorrow’s consequences

    We shall expose our lives to anarchy and improvisation” – BZ Bokser

    Sigeuner – jy was omtrent skaars – hoop ons sien jou hier darem bietjie meer gereeld.

  5. Dagse Sharona

    Baie dankie vir jou bydrae ook, aangesien ek weet jy deel heeltyd met die besigheid wereld.

    Ek weet dat Rand en Sent ‘n groot rol speel hier, maar die wyse van hoe dit gedoen word, en moet ek ook se die mense buig letterlik agteroor om dinge te maak werk, is wat my die meeste omkrap, daar word ‘n onrealistiese verwagting geskep.

    In elke geval kan ons seker nie almal se foute regmaak en verantwoording doen vir dit nie.

    Alles van die beste

    Groete

  6. Hi Knight

    Deesdae steek hulle jou van agter in die rug. Ons sit juis nou met die groot hofsaak en dit oor leuens, bedrog en sommer in plein Afrikaans “steel”

    Ek is nie’n goeie besigheidsvrou nie, as dit van my afgehang het, was ons lankal bankrot. Die rede bloot omdat ek te maklik vertrou! 🙄
    Ek moet leer om nie so “nice” te wees nie!

  7. Wipneus, al wat saak maak is dat jy jou regmatige deel eis – wat jy op regmatige wyse verdien het. Ek het ook te maklik vertrou in my besigheids assosiasies, en “amper” ‘n duur prys betaal – gelukkig was die beskermengel daar om my te waarsku en te beskerm (ek het instinkte wat my oorweldig en SOS’e na my toe uitstuur by gese) – en wat ek in 2 jaar (in die begin- doer in die 90’s) bitterlik hard voor gewerk het en so ampertjies verloor het, het ek weer herwin omdat ek kon bewys my rigting was eties, opreg en sonder enige skadelike intensies aan die betrokke besigheidsparty. Sjoe ek kan nog baie meer insette gee maar dit is Ridder se spasie hierdie en ek het reeds my “welcome” overstay. Rustige Nag Almal en Veilig wees.


Categories

%d bloggers like this: