Posted by: White Knight | Monday, 2 February, 2009

Studie en opleiding

As daar een ding is wat die Hawehoof baie bly maak is dit om te hoor dat een van die jong mense gaan studeer. Nog blyer is die dag wat so student sy of haar studies voltooi en suksesvol is in die lewe, veral as hulle dan self ‘n loopbaan en ’n lewe kan uitkerf in die moeilike dae wat hulle tegemoet gaan.

By studeer sluit ek enige vorm van formele en behoorlike opleiding wat ’n persoon aanpak om hulle te bekwaam vir die taak of beroep op hande. Hetsy of jy aan ’n erkende Universiteit, of dan selfs ‘n ambag of watter vereiste gestel word vir jou tipe van loopbaan. Almal is nie ingestel op en vereis Universiteit opleiding en studies nie, maar ons het mekaar nodig op alle vlakke van die samelewing. Die dokter net so die loodgieter.

In die verlede was die opleiding behoorlik vasgestel en die vereistes om aan te voldoen was geredelik beskikbaar en sonder uitsondering gehandhaaf.

Deesdae natuurlik het soveel strukture verdwyn en veranderinge is aangebring sodat standaarde makliker haalbaar is, selfs die slaag syfer vir skoliere in Matriek of nou Graad 12 is verlaag. Wat my die meeste grief is die huidige bestel se onvermoë om ‘n erkende en volhoubare stelsel te implementeer wat wêreldwyd erken sal word.

Dan ook die nuwe tendens dat daar op elke hoek en draai, soos die ou dae Griekse kafees, nou “Academies” opskiet. Hierdie spul het natuurlik almal een of ander oorsee se kursus en hoofkantoor en as iemand navraag doen het van die Pous tot Petrus en Brad Pitt by hulle al studeer. Maar sodra die student hul kursus voltooi en begin werksoek, trek al wat firma is hul neus op en stel nie belang in die papier waarop die ink meer werd is as die sogenaamde kwalifikasies nie.

Dis hoogtyd dat die regering hierdie tipe van ding wortel en tak uitroei. Die mense betaal duur vir opleiding wat van nul en gener waarde is. Selfs as jy daardie “kwalifikasie” by ’n ander “erkende” instansie inhandig trek hulle die skouers op en sê jammer, jy sal weer van voor moet begin, geen krediet nie. Dit terwyl hulle nog meer vra as die erkende instansie vir die sogenaamde studies, opleiding.

Ek neem nie die erkende instansies kwalik nie, waar het jy gesien iemand doen by hulle opleiding en studies vir vier jaar, maar “Jack flash in the pan Academy” gee dieselfde kwalifikasie na slegs een jaar volledige studies wat gerek is deeltyds oor driejaar.Dis hartseer om te sien as kollegas en vriende se kinders so benadeel, (lees besteel), word omdat die regering sulke snert toe laat.

Ja ek weet hulle kon by SAQA seker gemaak het of dit erken word, sowel as by die verskeie beheerrade of instansies. Die probleem is net dat alles nie by SAQA en ander altyd behoorlik in plek is nie en daar leemtes bestaan vir die tipe van korrupsie en diefstal om plaas te vind.

Al wat ek vandag kan sê vir enige een wat wil studeer of iemand ken wat beplan om te studeer, maak seker die rigting wat jy gaan volg en die instansie waarby jy dit wil doen, is erken en geregistreer asook geakkrediteer om wel die opleiding te mag aanbied.

Sterkte vir elke een terwyl ek gou paar omgevalle bome opkap sodat daar van frustrasie ontslae geraak word, voor ek iemand iets aand doen. 😡

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok. 🙄 😆

Advertisements

Responses

  1. Dalk moet skole tieners waarsku om, as hulle wil studeer, seker te maak of die kwalifikasies geregistreer is. Hulle moet ook vir tieners leer waar en hoe om seker te maak. Want die oorgrote meerderheid mense wat binnekort sal wil studeer, is nou op hoërskool.

  2. Howzit Witridder

    Ja welkom by die Bananna Republick of South Efrica.

    Ek stem saam met Retha skole kan begin om leerders inligting rakende affiliasie, akkreditasie en wie volgens die regerings se tersiere standaarde gevolmagtig is om sekere kursusse en studie rigtings aan te bied.

    Soos jy se alles is nie altyd in plek by SAQA nie omdat van die mense wat daar werk korrup verby is.

  3. Dan wonder ek net partykeer hoeveel van ons regering se besluitnemers het daardie nodige kwalifikasies? Verstaan hulle dit self? Indien nie, is hulle kwalik bevoeg om hierdie besluite te neem.

    Dit is allerbelangriks om deesdae seker te maak dat watter rigting ookal gekies word, verkieslik internasionaal ook herken word, al is dit met ‘n ekstra jaar daar.

  4. Iewers moet Jan Alleman ingelig word want hoeveel mense op straat weet van die SAQA en dit is ‘n goeie roeping om by die tieners op skool te begin.

  5. Dagse Kuiergaste
    Retha
    Baie welkom hier in die Hawe se kuierplek.

    Welkom Brein, Sammi en Linda altyd goed om van julle ook te hoor.

    SAQA en die akreditasie van opleiding is ongelukkig nie aan almal bekend nie en dus misbruik baie instansies die gaping.
    Ek stem saam dat kinders beter ingelig behoort te word rakende die situasie, maar ook die publiek behoort dit te weet.

    Sammi is reg dat kwalifikasies eerder aan international standaarde ook moet voldoen.

    Groete

  6. Dagse Kuiergaste

    Aan almal wat die Arabiese sluiper 🙄 geluk gewens het met sy verjaarsdag.

    Hy het laat weet dat dit baie waardeer word en sal kontak maak sodra die internet beskikbaarheid opgeklaar is. 😆

    Groete

  7. Ons is geakkrediteer deur ISETT SETA en ons kursusse voldoen aan SAQA standaarde. Maar dit is ‘n geweldige proses om deur te gaan, en dit skrik moontlik kleiner opleidings instansies af. En ja, hulle sien die gap en vat dit.

    Ek stem saam dat skoolverlaters en die publiek meer bewus gemaak word daarvan dat hulle hierdie akkreditasies moet nagaan voordat hulle swaarverdiende geld daarop uitgee.

    Ek het so ‘n paar jaar terug ‘n student gehad wat by so ‘n instansie was – sy volledige kursus betaal, was naby aan voltooiing, en toe maak hulle oornag hulle deure toe. Sonder dat hy enigiets gekry het om daarvoor te wys. Sad.

  8. Ek het twee jaar gesukkel om by Isett Seta te registreer. Alles gedoen wat vereis word.
    Die saak is nooit afgehandel nie want elke keer wag hulle so drie maande en laat weet my ek moet asb. weer aansoek doen want die dokumente het verlore geraak. Later was dit nie meer die dokumente wat verlore geraak het nie. Nee, toe is dit elke keer, “daar het drie maande verloop vandat die dokumente gedateer is tot nou, tog asb weer ‘n stel”
    Hulle onbevoegdheid is die wapen wat hulle gebruik.
    Nodeloos om te sê, ek het hulle later net na hulle dinges gestuur.


Categories

%d bloggers like this: