Posted by: White Knight | Wednesday, 28 January, 2009

Die Boom is dood, kap uit.

Met sy oë gestaal teen die oggend son staar seun in die rigting van die groot boom agter die huis. Dis ook hier waar Pa hom kry. Die staan toe ook eers om te sien wat seun dan nou so bekyk. Wat is fout, wil Pa na ’n ruk weet ?  Hy sien niks buite orde by die stalle of hoender hokke in daardie rigting nie.

Nee dis die boom Pa, dit is dood met die ryp en weerlig ons sal hom seker moet uithaal.  Die takke afkap en dan uitgrawe sodat ons die stam kan verwyder en opkap vir brandhout.  Pa kyk asof hy die boom nou vir die eerste keer raaksien.

Het jy mooi gekyk vra Pa. Is jy seker alles is dood aan daardie boom, dat dit nou net ’n droë stam en takke is? Seun kyk weer, die keer meer aandagtig as die vorige keer, Nee antwoord hy na ‘n ruk, maar die meeste van die boom is beskadig ons kan dit maar uithaal.

Pa vryf oor sy baard en dan na ’n ruk beduie hy vir seun dat hulle die saag, byl en ander toerusting moet gaan haal in die pompkamer. Seun moet ook nie vergeet om die dik tou en katrolle saam te vat nie, dis onder in die kas by die trommel.

Met sy terugkeer is Pa en John reeds by die boom en beduie Pa vir hulle watter takke eerste afgekap of saag word voor die dikker takke aan die beurt kom. Hy ondersoek eers elke deel voor dit gemerk word, om te sien wat bly en wat moet verwyder word. Sodra Pa klaar is met die deel begin seun en John stelselmatig eers die dun takke en dan die dikkes verwyder soos Pa se merke wys. Pa self het na ‘n ruk geloop maar keer terug met ‘n blik en kwas en die takke wat teen die stam afgesny is verf hy die plekke. Kompleet soos een wat wonde behandel.

Sodra hulle klaar is en al die takke in kleiner stukke gesaag het om later weer te gebruik, ruim hulle die area op en pak alles op ’n hoop waar dit nie ‘n gevaar vir brand kan wees nie. Dan gaan sit seun en Pa op die stoep vir ’n koffie voor hulle vêrder met die dag se take aangaan.

Hoe lyk die boom nou? Pa kyk voor hom uit terwyl hy seun die vraag vra. Baie beter as wat ek gedink het antwoord seun. Dink jy nog ons moet die res ook afkap en uithaal ? Nee, glad nie, dis nie nodig nie, ek sien nou daar is nog baie lewe oor in die boom.

Dan is ek bly antwoord Pa. Jy sien seun daardie boom is net soos ons mense, sodra iets gebeur wil baie tou opgooi en die boom uitkap. Maar sien jy daardie stam? Dis nes ek en jy, eers begin ons klein dan word ons groter en sterker en begin éérs dun lote vorm met blare en dan later word selfs die takke dikker as wat die stam aanvanklik was en oordek hulself met blare wat weer later genoeg koelte kan gee as jy daardie soort boom is.

Elke boom is uniek op sy manier nes die mens verskil dit van mekaar. Elke een het ’n ander doel en is bedoel om op verskillende plekke te aard.

Daardie ryp en weerlig wat die boom getref het, is maar niks anders as die verloop van die lewe se teenspoed wat ons ook maar oorkom nie. Dis in sulke tye wat ons eers moet mooi besin en na die hele boom kyk voor ons handel en nie dalk die hele boom vernietig inplaas van net die dooie takke te verwyder nie.

Die jong lote wat uitgroei is soos ons drome en daardie jongmens verhoudings. Dis dieselfde as kalwer en jong mens verlief wees op ’n meisie. Sommige van hulle word maar met die tyd gesnoei en kry nie kans om te ontwikkel nie en dis die merke aan die stam wat ons daaraan herinner. Nie slegte herinneringe nie, maar net die bewys dat alles nie altyd beskore is nie.

Ander is soos die dele wat Pa vandag geverf het om te keer dat daar weer jong lote vorm omdat daardie nooit moes gewees het nie, dis soos die besluite in die lewe wat jy neem wat verkeerd was asook jou vriendskappe en verbintenisse wat vir jou net teëspoed en hartseer besorg het. As jy daarmee klaar is, moet jy dit met verf toemaak soos vandag om seker te maak dit groei nie weer nie.

Dan kry jy ook die gevalle waar jy die tak halfpad saag en dan skeur dit los en laat lelike merke. Daardie is die soort waar mense jou per ongeluk of met opset seermaak en dit sny dieper en laat meer sigbare wonde op jou lewe. Dis hulle wat jy na die tyd moet terug gaan en die plek aan die stam skoon sny anders gaan jy die een wees wat ander weer seermaak met jou uitstaan splinters.

Jy moet verstaan dat die boom in sy geheel jou lewe verteenwoordig en dat al sou dit ryp kry of weerlig slaan raak, dan weet jy daar is nog lewe in jou, jy moet dit net soek. As siekte, teleurstelling soos vriende wat hulle rug draai of seermaak of selfs dood jou pad kruis, kyk na die hele boom en verwyder net die dele wat nodig is.

As jy dit doen, kan jy soos vandag met die katrolle en tou die situasie beheer sodat die dooie tak nie sommer net val en in die proses ander beskadig wat nie nodig was nie. Anders kan dit die oorsaak wees dat jy dan nog takke wat jy voor omgee ook onnodig verloor.

Onthou net seun dat die stam altyd kans op oorlewing het as hy reg geanker is en sy wortels is stewig in die regte grond geplant. Daarom is dit nodig om nie net na die boom se uiterlike te kyk nie maar daar waar die wortels begrawe is, waar niemand kan sien nie ook gereeld reg te stel en aanpassings te maak.

Dan kan die boom groei en sterk staan. Weet maar dan ook dat al sou die boom vreemd lyk na so herstel en verwyder proses, dat die nuwe beloftes alreeds binne in die boom wag om te begin bot en uitloop.

Seun kyk na ‘n ruk vir Pa en dan vir die boom. Net ‘n knik van die kop wys dat hy verstaan, lewe soms binne in die dood self kan skuil of as gevolg daarvan kan begin. Dat lewe soms fyn na opgelet moet word, maar eers gesien kan word as jy na die hele boom kyk. Een dooie tak nie bedoel die hele boom is nou klaar nie. Maar dat dooie takke nie aan die stam kan bly hang nie oor dit ander kan breek en onnodige las op die stam plaas.

Seun verstaan nou, dat lewe mooi kan wees as jy jou boom instant hou, dan sien hy waar van die dooie takke was die mooi blomme van die veld sigbaar word en weet om te sny en snoei soms nodig is, sodat ons ander mooi dinge kan sien in hulle plek.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok.🙄😆


Responses

  1. Wow en dit is hoekom hierdie een van my gunsteling blogs is!! 🙂

    Dankie Knight!
    (Dit reën lekker nê?)

    Groete

  2. Eish. Dis ‘n mooi storie. Iets om oor na te dink.

    Dit reen net so lekker hier, Wip!

  3. Voorwaar is seun bevoorregd om so ‘n pa te hê. Ouding sou nie omgegee het om so ‘n pa te kon ken nie.

    Mooi vertel, Ridder. Dankie vir die deel daarvan.

  4. Hmm, ding sê nou presies wat ek wou sê – van bevoorregd wees, Ridder. Wyse, geduldige pa maar tog ook ‘n seun wat kan stilstaan en leer. Dit klink asof daar ‘n pragtige diep verhouding tussen hulle is.

    Baie mooi analogie Ridder, oor die lewe.

    Dit klink asof Jozi storms te wagte is😯

  5. Dankie Ridder, baie insiggewend. Het dit baie geniet.

  6. Mooi boom storie, Ridder. Toe ek klein was het ek gedink bome lewe vir ewig.


Categories

%d bloggers like this: