Posted by: White Knight | Monday, 26 January, 2009

Luister bietjie.

Daar is iets wat die Ridder nou al geruime tyd baie opval, so asof sy sintuie daarvoor ekstra sensitief geraak het. Dis nou die manier hoe mense praat, meer spesifiek die manier hoe hulle praat van omstandighede en die mense naby aan hulle. Dis nie net beperk tot sekere groepe of mense met huweliks probleme nie, dis alom teenwoordig. 😦

Vra jy iemand hoe dit gaan, dan kla hulle oor die ekonomie en alles wat duurder word. Luister jy mooi dan word die eggenoot, “geliefde” ook nog bekla en beswadder. As jy nie pasop en mooi jou fokus behou nie sal jy sowaar die ander helfte summier van kant maak, hoe durf hulle dit waag om te leef en asem te haal sodoende die persoon wat met jou gesels se lewe te kom versuur.

Jy sal die vrou hoor kla: “Maak nie saak hoeveel moeite ek doen nie, hy kla alewig oor die kos en eet nie eers behoorlik nie dan krap hy die kos vir die honde” Die man weer aan die anderkant kla: “Die kos is alewig of koud en as dit nie daarvoor is nie dan smyt sy die goed so vol spices, geen ordentlike mens kan dit in sy lyf kry nie”

Die een kla en die ander kla maar daar word nie met mekaar gepraat oor dit wat werklik saak maak nie. Hy hou nie van kos met speserye in nie, want dit krap sy gestel om, sy en die kinders hou weer daarvan, dus sal die oplossing wees om eers vir hom kos uit te skep voor sy dit begin kleur en geur. Maar die idee van die ander een in ag neem het jare gelede by die deur uit verdwyn. Hy werk laat en hulle eet voor hy by die huis is, dus is die kos koud en nie smaaklik nie. Maklik kan dit opgelos word deur die kos net weer op te warm en by gebrek aan ’n mikrogolf oond hou dit warm in die oond sonder om dit uit te droog.

Die een kla oor die ander nie wil help met die tuin of die huis as hulle tuis is nie, die ander voel weer hulle werk heelweek en betaal die huishulp en tuinier hoekom nog self ook dan ekstra dinge doen. Dis hierdie persepsie van mense oor wat nodig is en nie, wat lei tot konflik oor hulle nie geleer het hoe om sonder dat jy die ander persoonlik aanval jou kant van die sak te stel dat julle albei op die probleem fokus. Dis wanneer julle gesamentlik oplossings vind, maar nee die mense het so verval om te kla oor alles dat hulle nie mee omgee of hulle mekaar beswadder en afkraak nie.

Selfs oor die swak diens van die regering en ander instansies is dit net een groot geween en gekners van tande dat jy wonder of daar enige iets goed in die ou wêreld van ons oor is? Alles en almal is sleg en besig om te vrek agter die lessenaar, by gesê natuurlik die wat reeds lankal dood is en so ruik ook.

Werklik, is dit regtig so sleg, of is dit net ons wat te polities korrek geraak het om nie die saak sommer net daar en dan uit te sorteer en finaal op te los nie?

Onthou, wat jy sê, hoor jy.

Wat jy hoor onthou jy.

Wat jy onthou word jy self met tyd.

Begin ag slaan op dit wat jy van jouself en ander sê dit maak ’n groot verskil op die lang termyn. As jy bly vir jouself en almal sê jou eggenoot is sleg en alles wat ‘n normale mens nie is nie, dan glo jy dit later en maak jouself negatief teenoor die persoon en jy sien later niks goed raak nie. Ongeag hoe hard hulle probeer. Maak eerder tyd om met mekaar te praat oor die dinge wat pla en vind oplossings daarvoor en soek die positiewe in mekaar en begin daarop konsentreer en gee krediet waar dit nodig is.

Diesélfde geld vir diens lewering en swak diens hetsy van die staat en ander instansies. Begin om elke keer as daar ’n probleem is dit spesifiek en doelgerig te hanteer, weier om dit enigsins te aanvaar of net daar te laat. Hoe gouer ons dit kollektief en positief maar ferm hanteer, hoe gouer sal ons begin om nie herhaaldelik met dieselfde twak gekonfronteer te word nie.

Die hou op moan en kla en raak positief oor jouself en die mense om jou en jy sal verbaas wees oor die resultate wat dit vir jou bring.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok. 🙄 😆

Advertisements

Responses

  1. Ridder, baie dankie vir die post. Ek het myself herken en gaan definitief van vandag af werk maak daarvan en jou raad aanvaar.

  2. Ware, ware woorde!

    Ons het heeltemal te lief geraak vir kla. En as ek eerlik moet wees, dis die enkeling wat nie goeie diens gee nie. Maar dis tog te lekker om bek uit spoel oor daai vrot appeltjie en hom verteenwoordigend van die staatsdiens/hospitaal/polisie/wat ook al te maak.

    Jy sien te veel goed raak, WK! 😉

  3. Dis ‘n happy day die dag wat ek kos gekook kry daar in my huis, niemand kla nie, hulle is so bly hulle eet dit!

  4. Jy praat so waar hier dat dit scary is! Ek is self soms skuldig hieraan, ek moet erken. En dis tog glad nie so moeilik om aan te pas en almal gelukkig te hou nie. Bietjie moeite ja, maar is dit dan nie lekker om moeite te doen vir die mense vir wie ons lief is nie?

    Maar is dit nie ‘n vreemde verskynsel nie – ons sal die mense die naaste aan ons, daai vir wie ons so liefhet, soms met woorde sooo seermaak. Maar jy sal nie waag om so met jou buurman te praat wat jy skaars ken nie. Hoekom doen ons dit?

    Ek gaan weer bietjie let op my woorde, en my houding teenoor my mense. Dankie vir ‘n goeie possie! 😉

  5. Ek is deesdae stout. As ek oproepe kry met ‘Hello medim, I am …. calling from … How are you today?’

    Dan haak ek af en se ‘very BAD’. Die terugvoer: ‘I em faain, thankyou!’ !!!!

    Dan kry ek sommer sulke mini horries deur my selle.

    Mense hou van kla. Dis mode om te sien met wie dit eintlik die ergste gaan. Maar niemand is bereid om vir 5minute briek te trek en regtig te luister as dit werklik sleg gaan nie.

    Ek stem met jou skrywe, mens ‘her-programmeer’ jouself deur dit wat jy van ander dink (en hoor, en ervaar). En as dit negatief is, nou ja, dan is dit nou een maal nie ‘n dag vir smaails nie.

  6. Ja ek sien en hoor dit ook baie.

    Mmmm ek is ook skuldig, ek het my mond die laaste tyd al goed uitgespoel oor Telkom en SARS! :mrgreen:

    Ek is geleer mens praat nie uit die huis uit nie, dus ek kla nie oor my geliefdes na buite nie. Ek het in elk geval niks om oor te kla nie.

    O en ek kla omdat ek nou te veel werk het, ek sal dadelik ophou, want gelukkig het ek nog werk! 😆

    Positiewe inskrywing!

  7. Hello WK’kie!!

    Jinne en daar trap jy nou so op my tone dat hulle eintlik bloei!! 😳

    Dankie vir die stuk ek sal defnitief probeer ophou kla 😛

    Liefdetjies
    xxxx


Categories

%d bloggers like this: