Posted by: White Knight | Monday, 19 January, 2009

Die onwetende onreg?

Dit klink omtrent soos donderweer self as seun om die hoek gegalop kom. Wat is nou weer die keer fout? Hy ken die toneel, dit al voorheen gesien. Daarom weet hy om te vra gaan nie help nie, die antwoord is so bekend asof dit reeds vir jare op ’n koper plaat graveer is en in sy eie klip monument vasgemessel vir elke een wat die tekens ken om te weet en nie onnodig te karring nie.

Die standaard antwoord op enige vraag nou sal wees “Grootmens dinge, loop speel of gaan doen jou werk” Daarom staan seun maar net roerloos in die skaduwee van die koemkwats boom en kyk hoe *Johannes  se besittings oor die heining “vlieg”. Pa is in ’n bemoerde bui en die spreek woordelike bul wat ’n rooi lap gesien het, is verseker ’n vulletjie in terme van die toneel wat hom hier afspeel.

*Johannes  probeer nog ’n slag pleit, “asseblief baas”, maar die toe hek is al wat sy lewe op die stadium red anders het die “baas” hom so seker as vandag die son skyn dalk net hospitaal toe gefoeter. Met ’n, “Jy kan bly wees ek bel nie die polisie vir jou nie, ………..”, weet seun dis die teken om verkieslik buite sig te bly en verdwyn maar weer om die hoek na veiliger gebied.

Later die middag speel die kinders weer in die veld agter die huis. Seun en die res van die “soldate” is weer besig met ’n wafferse aanval te loots en die “terroriste” behoorlik op hul maai te gee. Na ’n paar noue ontkominge is die troepe almal veilig met slegs enkele skrapnel wonde. Die “terroriste” is egter nie so gelukkig nie en hul hele basis is verwoes met geen enkel oorlewendes om eers te ondervra nie.

Die grofgeskut het hulself weer totaal buite perke gegaan en alles wat beweeg tot volkome stilstand geskiet en dit wat nie beweeg nie tot hope rommel verminder. Dan keer die manne terug basis toe om aan hoofkantoor te rapporteer oor die sukses van hulle operasie en die eliminasie van die vyand.

Dis hier waar die verwarring en kopkrap ontstaan, sien die basis se radio is weg en hulle het gistermiddag nog daarmee gerapporteer. Nou verstaan hulle dit nie, wie het die radio verwyder, dit was dan deeglik onder die plaat weg gebêre en met graspolle bedek.

Daardie middag gaan die manne uit mekaar met die tergende vraag in hul gemoed, wie het die radio gesteel? Die plaat is opgelig maar nie verwyder nie, net die radio is weg. Hulle was juis so heilig op hul toerusting, juis oor dit so baie na ’n regte army radio gelyk het. Wel nou sal hulle maar ’n ander plan moet maak.

Dis ’n hele paar jaar later wat seun en die ander kyk hoe speel hul kinders in die tuin. Die spul hardloop en spring soos waffers bokke en perde. Dis wegkruipertjie, bok in die hok en so gaan dit aan die hele tyd met ’n gereelde swem sessie ook nog tussen in.

Dis sulke tye wat die ouers begin met onthou jy nog?  Dan word staaltjies vertel oor hul eie kinder jare vir die wederhelftes om darem te moet hoor hulle was ook eens kinders. Dis met hierdie gesprekke dan ook wat hul die mense wat deel was van daardie tyd onthou. Seun kyk op met ’n frons, daar is iets wat hom nog altyd pla en dalk weet een van die ander. Pa en Ma is nie meer met ons nie dus sal hy maar die ander vra.

Wie van julle kan nog vir *Johannes onthou ? Eers is hulle nie seker nie, maar toe seun vertel van die een wat hulle in die kruiwa rond gestoot het as Pa nie kyk nie, toe skielik is die fronse weg en het elke een ‘n ander staaltjie te vertel oor *Johannes. Hy was n goeie mens beaam ousus, net jammer dat hy gesteel het. Steel, wil seun weet, wat het hy dan gesteel?

Onthou jy die ou radio van Oupa wat Pa altyd in die buite kamer gebêre het,? vra ouboet. Pa het dit eendag in die veld gekry onder ‘n sinkplaat weg gesteek, nogal met graspolle toegemaak. Seun word bleek, hy onthou die dag goed.

*Johannes se klere en goed vlieg weer voor sy geestes oog oor die heining en al wat hy kan sê is askies *Johannes ek het nie geweet nie. Die res van die familie kyk hom verbaas aan, hulle verstaan nie hoekom daar trane oor seun se wange loop nie.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok.  🙄 😆

Advertisements

Responses

  1. Ja verseker weet sy pa nou dat arme Johannes nie die radio gesteel het nie, hy en Johannes is waar hulle nou is nie meer kwaad vir mekaar nie.Hulle rejoice al die pad in hul skepper se hemelse woning.

    Maar soos my oupa altyd gese het ” moer die boy voor die beeste wegraak”

    Hastilla Vista.

  2. Ai tog. En daar is niks wat die storie kan omkeer nie. Ek kan my die selfverwyt indink.

  3. Ai Arme Johannes, ek huil sommer saam

  4. So doen ons baie keer mense onwetend ‘n onreg aan en dit is hoekom ek my Here elke aand om vergiffenis vra as ek mense onwetend seergemaak het of te nagekom het. Soos Johannes is daar baie mense wast seerkry maar net stilbly of nooit die kans kry om hulself te verdedig nie.

  5. Ek dink daar was heeltemal te veel Johannesse. Dis ‘n hartseer storie, en ongelukkig is dit nou te laat. Hoe voel Johannes (en sy kinders) nie vandag nie? Wrewel? Haat? En kan ons hulle regtig kwalik neem?

  6. Ouens. Verskoon groot asseblief die blatante advertering…maar ons het julle hulp nodig!!
    http://die-werf.co.za/?p=1946

  7. Ek stem 100% saam met Boendoe.

  8. Dagsê, Ridder

    Sorgsaam vertel en ja, die lewensles is duidelik – misverstande, onreg, so maklik, so onwetend. Een van die konstante, blywende groot vraagstukke waarmee Ding gereeld worstel: wat is die regte ding om te doen.
    Dankie vir die vertel.

    Darem net: vir die tydgleuf (soldate en terroriste) was Pa eintlik heel billik – aan Ding se kant van die land sou *Johannes oor die heining gevlieg het…

    Maar ja, ten minste het tye verander en mense daarmee saam.

    Grondgroete

  9. Ding, hoe sit jy nou ‘n glimlag op my gesig.

  10. Skryf KAN jy, Ridder – klink na ‘n grepie van die verlede wat nog spook, maar soos die ander se, onwetend en onskuldig.
    Mooibly!

  11. Ai, dis ‘n hartseer storie. Maar baie goed geskryf. Ek dink baie van ons ken ook ‘n Johannes.

  12. Arme Johannes, arme seun….

    Soos Brein sê ek dink hulle het nou vrede gemaak daarbo!

    Ek wonder of ek nie dalk ook êrens onwetend iemand verkeerd beskuldig het of in die moeilikheid laat beland het nie? 😯

  13. Dagse Kuiergaste van die Rondetafel. 😆

    *Johannes in die verhaal was ‘n persoon van ‘n ander kleur en dit speel af teen die agter grond van die apartheids jare. Maar die werklike gevalle van *Johannes wat onskuldig, skuldig bevind word en dan summier weg gejaag word van vriende, werksplek en ook ander omstandighede is alles daagse verskynsel wat deur lopend voorkom selfs vandag met al sy mense regte wette dwars oor die wereld.

    Brein
    Jy is reg dat die tyd hierdie waarheid ontbloot het en ‘n skuldgevoel niemand sal help om dit reg te maak nie. Die beste wat enige een kan doen is om te leer uit so situasie en dit sover moontlik te verhoed in die toekoms.

    Linda / Boendoe / Adrie / Dellie / Parkes / Roer / Wipneus
    Selfverwyt sal daar wees in sulke gevalle, solank ons net nie dit daar laat nie maar positief aanwend in die toekoms. Dit is ook hier waar baie van ons tekort skiet om te verstaan hoekom baie mense met ‘n wrok loop geslagte na iets gebeur het.

    Ding
    Solank mens die regte plek gaan leiding soek en luister na die stem wat jou waarsku of rustig maak is mens meeste van die tyd nie verkeerd nie. 😉
    Jy is reg met die stelling dat baie keer het *Johannes self oor die hek gevlieg en soms nog erger.

    Sammi
    Ridder probeer ook maar op sy manier om boodskappe oor te dra. Dit help party keer as mense kan sien wat ander oor ‘n onderwerp dink. 😉

    Pagoda32
    Vir ‘n goeie doel kan jy enige tyd adverteer, sterkte met jou projek. 😛

    Groete


Categories

%d bloggers like this: