Posted by: White Knight | Wednesday, 14 January, 2009

Wie is Julle?

Wie is regtig jou familie? Watter mense kan jy aan vashou as jou werklike vriende? Die vrae klink seker vir baie mense onnodig en seker voor die hand liggend. 😕

Die aanvaarde idee van alles is mos dat dit eers begin by eie ouers, Pa en Ma en dan jou broers en susters. Dan volg natúúrlik Oupas en Oumas en vandaar kom die uitgebreide familie nl. die ooms en tannies met die neefs en niggies. Wel dis die gekose en aanvaarde weg wat tradisie ons leer en natuurlik is die kwessie, bloed van my bloed en asem van my asem mos ter sprake.

Wel dis die bloed familie of stamboom familie wat almal na verwys. Die ouer garde ken mos nog die saak van: “Aangename kennis ek is “Koos Klopper”

Oom groet terug en wil dan dadelik weet: “Aangenaam jongman, en van watter Kloppers is jy nou afkomstig?” “Is julle van die Vrystaat se Kloppers of daardie hanskakies wat in die Kaap agter gebly het se familie?”

Daardie soort familie wat jou reeds by voorbaat met ’n voorsprong of agterstand laat nog voor jy begin het. Die wat jy nie regtig kan afskud nie al wil jy, tensy jy jou hele “stamboek” laat wysig by Binnelandse sake.

Wat egter vir my die roete laat in laveer het vandag is juis die gedeelte waar vir Christus gesê word sy familie soek na Hom.

Matteus 12 (Afrikaans 1953)

47 Toe sê iemand vir Hom: Dáár staan u moeder en u broers buite en wil graag met U praat.

48 Maar Hy antwoord en sê vir die een wat Hom dit vertel het: Wie is my moeder? En wie is my broers?

49 En Hy steek sy hand oor sy dissipels uit en sê: Dáár is my moeder en my broers.

50 Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.

Hier vind ons dat Christus reeds begin het met Sy bediening en die verkondiging van die evangelie. Die bloedfamilie saak was dus nie meer vir hom die prioriteit waarom alles gedraai het nie.

So baie van die mense in die wêreld deur het nie goeie en aangename herinneringe van dit wat hulle moes beleef en ervaar juis aan die hand van “bloedfamilie” nie. Sommige was verwaarloos, mishandel en selfs gemolesteer terwyl die wat hulle moes beskerm nie dit gedoen het nie.

Hiermee kan ek dus verstaan as enige persoon wat in so posisie was nie die “bloedfamilie” wil erken of enige kontak wou hê nie. Ander omstandighede speel ook ‘n rol soos byvoorbeeld die immigrasie van mense na ander lande wat families versprei en baie self nooit weer sien nie ongeag die tipe verhouding wat hulle vroeër sou gehad het of nie.

Die kern van die familie, hetsy die een waarin jy sou grootword, of jou eie, is belangrik aangesien dit die wyse is waarop mense ook leer hoe interaksie met ander mense plaasvind. Dus sou dit negatief wees kan jy wil uitvlug en ook ander mense vermy of eerder aangryp om die vorige te vervang.

Dit is in hierdie konteks dat die vraag dus ontstaan, wie is my werklike familie? Vir my beteken dit almal wat ek kan vertrou om nie net my en die gesin te ondersteun en bystaan nie, maar hulle wat dieselfde beginsels handhaaf asook by wie ek myself kan wees sonder om altyd my aksies en die van my gesin te moet regverdig.

Baie mense kan dieselfde beginsels handhaaf maar nie noodwendig godsdiens beskouinge nie. Sien godsdiens en die aanbidding van God is twee verskillende dinge en dus hoekom dit so geweldige mynveld kan word. Die een is jou verhouding met die Lewende God die ander is mense se beskouing van hoe God aanbid en gedien moet word.

Christus se antwoord spruit uit die feit dat Hy deur die Vader gestuur is en almal wat die wil van die Vader doen is dus vir Hom, Sy familie. Hy onderskei nie tussen vriende en familie nie, vir Hom is dit die maat waarmee Hy meet.

Vir ons egter is daar baie ander sake wat belangrik is in die oorweging voor ons na iemand sou verwys as familie al sou hulle nie “bloed familie” wees nie. Baie keer het ek al gehoor dat mense die stelling maak, daardie is my ander seun of dogter, of selfs Ma en Pa. Die gevolglike oog trekkery en wenkbroue is natuurlik ook aan die orde van die dag met so stelling omdat baie kinders nie wil weet Ma gee om vir ’n ander ook nie, of my kind kry nou aandag by ander nie. Ontspan die spiere al wat dit beteken is dat jou kind, vrou of man erkenning kry van ander as ‘n persoon wat geweeg is en goed genoeg bevind is vir daardie rol. Soms baie nodig as julle vêr is of besig en nie die aandag kan gee wat nodig is nie.

So wie is dan jou familie as die “bloed familie” deel nie werk nie of hulle is vêr? Daardie wat jy “aanvaar” as jou eie sonder voorbehoud.

Die mense wat jy kan vertrou met jou hele lewe. Iemand wat al het hulle jou vir jare nie gesien nie, nog net so lekker kan kuier of stil wees saam sonder om ongemaklik te raak. Mense wat eerlik met jou kan wees oor dinge wat pla of verkeerd is. Die persone vir wie jy nie kwaad word as hulle jou op foute wys nie omdat jy weet hulle bedoel dit opreg. Iemand by wie jy kan vertroosting en berusting sal vind ongeag van wat jou omstandighede en niks in ruil verwag daarvoor nie.

Opgesom dus, hulle wat die wil van My Vader doen, hulle is my familie. Hulle wat die naaste liefhet soos hulself.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok.  🙄 😆

Advertisements

Responses

  1. Baie waar inskrywing. My familie is ‘n handjie vol goeie vriende en my gesin. My skoonpa is ek ook baie erg oor.

  2. Toe ek vanoggend uit die stort kom speel daar ‘n liedjie oor KFM oor die liefde van God en jou liefde vir jou naaste. My dagstukkie (Efes 3: 18-19) gaan oor die liefde van God.

    Dit is al opdrag wsat God vir ons gegee het: om Hom lief te hê en ons naaste soos onsself.

    Ridder, dankie jou post is maar weereens net vir my ‘n bevestiging en ek stem saam met jou.

  3. Ek het ook ‘n klein groepie vriende. Familie…mens kan hulle nie kies nie, ne?!

  4. Sonder dat ek dit geweet het, het ek vandag oor dieselfde onderwerp geskryf. Selfs my familie is nie almal ewe naby aan my nie, en ongelukkig is daar van hulle wat ek ook nie vertrou nie, maar ek skryf hulle nie af nie.

  5. Dagse Kuiergaste

    Carina
    Mens se fokus verskuif maar soos die jare verby gaan en jou prioriteite verander.

    Linda
    Altyd goed om jou raak te lees as jy hier kuier. Dankie vir al jou ondersteuning ook.

    Boendoe
    Dis hoekom ek die onderskeid probeer tref tussen “bloed familie” die wat jy mee “geissue” en die vriende familie wat jy ‘n keuse het voor.

    Attie
    Mens kan niemand in jou “bloedfamilie” afskryf nie, jy hanteeer hulle net versigtiger en of anders. Die res van die mense maak deur hulle eie optrede en handel deel van jou “ander” familie uit. Ek glo daar is ‘n rede hoekom meer as een oor dieselfde onderwerp moet skrywe.

    Groete

  6. Baie lekker inskrywing wat mens laat dink en wonder moet jy nie maar weer die hand uitsteek nie.
    My vriende is fantastiese mense meer soos familie, omdat ek hulle self kan uitsoek.

    Met die familie het mens nie ‘n keuse nie! Sug …. laasgenoemde nie altyd maklik nie 😆 Ek pas ook nie in die boksie waarin hulle my wil plaas nie.

  7. Laat mens dink. 😳

  8. My familie is my vrou en my kind.Basta met die res, ek het alleen in die wereld gekom en gaan alleen hier uit.

    Ek is anti familie, my familie is eerder die verminktes, armes,onderdruktes, en wat my vriend deur dik en dun is.


Categories

%d bloggers like this: