Posted by: White Knight | Monday, 12 January, 2009

Gee hulle om, of nie?

Die gedagtes dwaal vandag veral oor ‘n spesifieke saak. Daar is met die jaar wat begin, of nooit werklik opgehou het nie, reeds hordes mense wat verjaar, troudag herdenkings en allerhande geleenthede om  verskillende redes te vier.

Sou jy vandag verjaar en ‘n iemand spesiaal kontak jou nie, gee hulle nie om nie of is dit as gevolg van ander redes?

Verjaarsdae en veral Huwelik herdenkings beteken vir party mense baie en vir ander maak dit nie regtig saak nie. Dalk  jok hulle maar net daaroor om nie te wys dit maak seer as die ander daarvan vergeet het nie. Dis mos maar die tipe van ding wat baie mee groot word as spesiale dae.

Daar word ‘n ophef gemaak en kleintyd word die maatjies genooi en ma en baiekeer pa ook, maak spesiaal planne vir ‘n tema en doen alles om die tye vir hul kinders spesiaal te maak. Daardie dag is hulle mos nou die hoof Prinses of  Cowboy / Breker van die groep en almal moet net deel in die pret.

Natuurlik word kostes ook nie ontsien nie en spesiale plekke vir partytjies en funksies is nie meer ‘n rare verskynsel nie.

Dan is daar natuurlik ook die uitsonderlike verjaarsdae, soos vroeër was dit mos 21jaar oud dan was die kind mondig en moes self begin verantwoordelik wees vir hulle sake. Wat ‘n mylpaal was dit nie, groot makietie en opskop soos glad nie te vore nie. Nou se dae het die wet mos verander en is die kinders se nattigheid agter die ore skielik op 18 jaar opgedroog.

Na daardie een is dit mos die ronde verjaarsdae wat tel, nl. die 30, 40, 50 ens. Die mense noem dit mos mylpale en begin dink hulle word oud as hulle uiteindelik daar uitkom.

Wat my laat wonder is egter die saak van om iemand geluk te wens. Met vandag se hedendaagse tegnologie is e-pos, selfoon en alles tot jou beskikking, self die radio as jou vriend in ‘n ver land sit en jy wil hom geluk wens.

Die probleem is net as jy nie om een of ander rede iemand se kontak besonder hede nie meer het nie of die persoon het verhuis of weens omstandighede is dit nie moontlik om mekaar te kontak nie, wat dan?

Beteken dit nou jy gee nie meer om nie?

Is die beloftes van die verlede dan nou nietig en onbelangrik?

Ek persoonlik laat nie sulke dinge my onder kry nie, hoofsaaklik ook maar te danke aan ‘n broer wat van jongs af die dinge maar altyd vergeet het. As ma of pa hom nie onthou het nie sou hy dalk sy eie verjaarsdag ook vergeet het. Daarom weet ek dat dit nie vir almal dieselfde prioriteite is nie en sal ek op my verjaarsdag as ek een mis hulle bel en sommer in die proses onthou ek verjaar. Nie om hulle in die verleentheid te stel nie maar juis omdat ek en hulle nie na die tyd sleg voel nie. As een nou die datum met ‘n paar dae verkeerd het, haal ek maar die skouers op en gaan aan, hulle het ten minste probeer.

Dus vir die my is dit nie ‘n krisis wat die hawe se walle sal oorstroom en die aarde van sy wentelbaan sou afgooi nie. Vir ander is dit egter baie belangriker, vir verskeie redes, wat dit ook àl mag wees.

Die gevoel van verwerping deur iemand wat jou spesiale dag vergeet is seker maar direk gekoppel aan emosionele toestand wat jy jou in bevind op daardie stadium asook jou verhouding met die spesifieke persoon.

Maar wat as jy deur jou eie optrede mense van jou vervreem het, of deur jou gedrag en die rigting wat jy ingeslaan het in die lewe mense agter gelaat het? In sulke gevalle kan jy mos nie ander kwalik neem omdat hulle jou nie wil of dalk self kan kontak nie.

Dit bly maar vandag deur my gedagtes draai en die antwoorde is nie eenvoudig nie, juis oor ons as mens so geweldig kompleks wil wees met al ons geite en dinge. Daar is ‘n legio van dinge en redes hoekom iemand nie ‘n ander kan of dalk wil kontak nie.

Hoe maak ‘n kind wat ‘n Pa of ma wil bel wat geskei is maar die een by wie hulle is weier?  Hoe maak ‘n Pa of Ma as hulle so graag ‘n kind wil kontak maar die ander party wil nie die kind foon toe roep nie?

Wat dink julle, is iemand minder lief of gee glad nie om as jy ‘n ander nie geluk wens nie, of hang dit af van jou persoonlike omstandighede? Vertel asseblief hoe elke een van julle eerlik oor die saak voel.

Vêrder wil ek die skrywe afsluit met die volgende boodskap aan elke een wat hier lees, weet dat julle spesiaal is vir iemand al vertel hulle dit dalk nie vir julle elke dag nie of maak hulle nie gereeld kontak nie. Hulle gee dalk meer om as wat julle ooit sal besef.

Vanuit die Hawe, wil Ridder en die Koningin en Prinsesse aan elke een wat ‘n spesiale dag vier, vandag of enige ander dag vir die res van julle lewens. Die mooi en voorspoed van ‘n liefdevolle en vreugde gevulde in God se teenwoordigheid dag beleef, waar vrede en liefde wat alles insluit en omvou sodat dit julle verstand te bowe gaan sal beleef en uitleef elke dag. Elke een is welkom om die boodskap hul eie te maak maar veral gerig aan elke een van julle wat deur omstandighede, nie deur geliefdes en die wat spesiaal is vir julle persoonlik geluk gewens kan word nie.

Wees geseënd in julle in en uitgaan en mag die klowe oorbrug word en die dale opgevul, sodat julle paaie gelyk gemaak en die pad verlig sal wees deur Sy liefde en genade vir julle elke een.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok. 🙄 😆

Advertisements

Responses

  1. Eerlik?

    Ek voel erg ongemaklik as daar ‘n groot hoe-haa gemaak word van my verjaardag. Maar ek waardeer die goeie wense en die feit dat hulle my onthou het. Ek weet net nie waar om my kop in te steek nie. As iemand my nie geluk wens nie, sal dit nie die einde van ‘n vriendskap beteken nie. Asseblief! 😆

    Huweliksherdenkings? Wat’s dit? Ek en my liefie vergeet elke jaar ons troudag. So what? Dit verander nie hoe ons oor mekaar voel nie. 😉

  2. Ek hou niks van my verjaarsdag nie – dit plaas my op ‘n “spot”.
    Ek sou veel eerder verkies dat iemand my uit die bloute bel of sms of epos NET om te hoor hoe dit gaan, nie om te se geluk nie. Dus kan mense wat my bel op my verjaarsdag van wie ek anders nooit hoor nie, dit netsowel ook maar los. Huweliksherdenking is iets wat ek eers later van onthou weer en ons moet elke jaar eers weer uitwerk hoeveel jaar ons nou wel getroud is 🙂

  3. Ander mense se huweliksherdenking het niks met my te doen nie.

    Verjaarsdae, ek sal seker vies wees as my ma’le nie onthou nie. Verder gee ek nie regtig om nie. Ek sorg gewoonlik dat ek verdwyn by die werk. Ek hoef dan nie koek te koop nie.

  4. Die herdenking van my geboortedag is die dag wat ek met groot dankbaarheid vier en ek deel dit graag met my geliefdes, vriende en vriendinne.

    Dus sal ek maar bieg en erken dat ek graag uitsien na al my geliefdes en vriende/vriendinne se telefoonoproepe, eposse, Skype boodskappe en SMS’e met die herdenking van my geboortedag. Ek weet wie gaan reeds 06h00 die oggend skakel en wie gaan die agteros in die kraal wees – die spesiale aanraking met elke persoon al word daar nie duk stukke deur die jaar gekommunikeer nie gee my dan ook weer kans om diegene te bedank vir die ondersteuning en liefde wat ek van hulle af ontvang . Dit maak egter nie vir my saak as iemand my verjaarsdag vergeet nie hetsy vir watter rede ookal – ek vergeet immers tog ook (en dit word al hoe erger soos wat die jare aanstap) en ek verloor kontaknommers gereeld. En as dit dan vir ‘n ander rede is (behalwe vergeet en kontaknommers verloor) dat ‘n persoon my nie kontak nie is dit vir my ook nie “train smash” nie – ek aanvaar dit so.

    By die kantoor is dit baie moeilik om die dag te “dodge” – as “baas” van die plaas word almal ingelig (die wat nog nie weet nie) en sien almal uit na die dag omdat “die baas” gewoonlik die personeel so bietjie bederf met een of ander “take-out” versnapering en dit is nooit dieselfde nie en is nooit net die soetkoek en souttert ding nie – soms laat ek so paar spyskaarte sirkuleer en dan mag elkeen sy keuse uitoefen – dit gee natuurlik ‘n groot geskerts af omdat daar pittige kommentaar gelewer word oor die individuele keuses – nodeloos om te sê “groot Nic” maak behoorlik gebruik van die kans en is sy “order” altyd die grootste en duurste.

    Ridder, dat ‘n ouer (geskeide) nie inskiklik kan wees om vir‘n kind die geleentheid te gun om met die ander ouer wat verjaar te kommunikeer nie is vir my totaal onverstaanbaar en onaanvaarbaar. Dit moet ‘n baie onvolwasse en onstabiele persoon wees om so op te tree. Maar ek weet, daar is sulke gevalle.

  5. Ek probeer maar altyd ander se verjaardae onthou en hou daarvan om n geskenkie te koop. Maar ek wil ook nie n bohaai maak oor my verjaardag nie is altyd bly as mense my gelukwens maar wil nie parytjies hou of koek en tee nie, is glad nie nodig nie. Ek hou maar altyd vir my man iets as hy verjaar n braai gewoonlik. Ek verjaar wel een van die dae (6 Februarie) en ek het alreeds genoeg ek wil nie n bohaai maak daarvan nie, dis in elkeval net nog n jaar ouer word!

  6. SNaaks, maar die dae is vir my nie regtig belangrik nie, maar… ek onthou graag die dae wat vir ander belangrik is omdat ek weet dat hulle nie soos ek dink en voel nie.

  7. Naandsê, Ridder

    Ding het vir jare lank al ‘n ritueel oor hoe Ding jaarliks sy verjaarsdag vier. Die aand en nag voor die tyd slaap Ding bitter min, indien wel. Ding lees dan nogal Bybel (Ding doen daai nie baie nie). En worstel nogal en soebat en sulke nommers. Elke jaar daai aand en nag is Ding se Jabbok. Skaars breek die dag, of Ding praat met Moedertjie. Wens haar geluk met Ding se geboortedag en bedank haar weer eens dat Ding haar kon kies as sy moedertjie. En so aan. Ding se naastes weet al vir jare om nie vir Ding lastig te val met gelukwense nie – hulle kan Moedertjie gelukwens. Dit kom haar toe. Glad nie vir Ding nie. Dis ‘n herdenking van my geboortedag – ek het niks gedoen nie; ek lewe net. Vir Ding is dit nuwejaar. Sedert verlede jaar het Ding besluit om homself jaarliks op sy verjaarsdag te bederf. En dit sal Ding voortaan doen – jaarliks sal Ding een of ander mal perd opsaal.

    Lang relaas – jammer, Ridder. Net nog dit: Ding probeer onthou, soos Doom vir dieselfde redes. Groot was Ding se verbasing toe hy anderdag na haar dood uitvind, Mama Afrika het dieselfde siening oor haar verjaarsdag gehad as Ding oor syne.

    Dankie vir die geleentheid – en soos jou ander: puik, deurdagte, sagte, maar besliste inskrywing. Ding geniet jou.

    Grondgroete

  8. Ding het n interessante sienswyse.

    Ek koop elke jaar vir my verjaarsdag en kersfees vir myself n geskenk.

  9. Dagse Kuiergaste 😉

    Boendoe
    Jy en liefie vergeet julle troudag? Hmmm nie nice nie. 🙄 🙂
    Soos jy dit stel, dit maak nie die huwelik beter of slegter nie.

    Carina
    Stem saam met jou dat konstante kontak beter is as net eenmaal per jaar. Dan weet jy hulle doen dit omdat dit wil en nie moet nie.

    Adrie
    Skryf duisend maal uit: Dis lelik om suinig te wees: 😆 Jy neem jou ma hulle kwalik as hulle vergeet, hoekom 😕

    Sharona
    Dis mos een van die dae? Dus byvoorbaat geluk en alles wat reeds genoem is hierbo vir elke een wat verjaar. 😎
    As die baas betaal is dit seker nie ‘n sleg ding om haar verjaarsdag te wil onthou nie. 😉 Die wat werklik omgee en kontak is altyd aangenaam, maar soos jy noem as iemand nie kan nie is dit nie die einde van die wereld nie.
    Ongelukkig is daar ouers wat kinders vir eie gewin as wapen teen ander gebruik en dis hartseer en maak die Ridder persoonlik warm onder die kraag.

    Parkes1
    By voorbaat geluk, dan vir jou ook. Jy weet sodra mens met jouself eerlik is en nie toelaat dat verwagtinge jou emosionele seermaak in die proses nie dan is dit alles mos ten goede.

    Attie
    Soos ek jou opgesom het al, ander se gevoelens is vir jou belangrik en jy maak altyd voorsiening vir dit in jou lewens wandel.

    Ding
    Dis vir my ‘n baie waar saak wat jy daar aanhaal. Dit dankbaarheid kom Ma en Pa en natuurlik bo alles die Skepper toe vir die geleentheid wat ons het om hier te mag wees. Ma wat haarself opoffer vir ‘n langtyd wat om ons hier te kry, maar die Skepper wat jou vir haar voorberei het vind jou elke jaar op dieselfde plek sodat julle die kontakte vir die nuwe jaar kan hernu.
    Ding dankie vir jou kuiers en nee jou relaas is nooit te lank nie, mag jy nog lank die hawe se ronde tafel kom vereer met jou rustigheid.
    Ek hoop van harte jy bederf jouself groot elke keer, jy verdien dit.

    Adrie
    Laat Ma jou al darem toe om self te betaal of moet sy nog vir jou doen 😈 😛

  10. Ons is maar ‘n ou klein familietjie en solank my kinders, my broer en suster my onthou is alles dood dollies.

  11. Jong, mense vergeet vandag makliker as 10 jaar terug, en dit het nie veel met die ouderdom te doen nie.

    Wel met A, die tyd wat so vlieg – jy besef nie regtig waar die almanak trek nie, en B, die gejaagde pas van elke dag, en die volgepaktheid van die minute binne in die dag se ure.

    As jy ‘n liggeraakte mens is, of bietjie oorsensitief, sal jy seker vir ‘n tyd met ‘n seer gedagte aan ‘n persoon dink wat bv. jou verjaardag vergeet het, maar daarinteen, as jy soos ek is, en elkeen se naam en sy oortreding wil onthou, gaan jy NOOIT tyd he om aan iets moois te dink nie.

    Vee daai wrokkige gedagtes oor vergete verjaardae uit! Wees eerder vir iemand vies wat jou REGTIG te na gekom het.

    Groetnis

  12. Ridder

    Ek is glad nie suinig nie, net spaarsamig. My ma het nie veel van ‘n keuse oor wat ek met my geld doen nie.

    Ek het gese ek dink ek sal omgee. Aangesien ek uit my ma geval het, sal ek hoop sy onthou. My pa het regtig die afgelope 2 jaar my verjaarsdag geignoreer, maar dit is ‘n ander dag se storie. Ek ignoreer nog nie syne nie.


Categories

%d bloggers like this: