Posted by: White Knight | Tuesday, 9 December, 2008

Ongelukke, Rampe en Dankbaarheid

Sedert laat gister middag is al wat ’n koerant en nuusberig, gevul met die afgryslike getuienis van ’n weghol vragmotor wat weereens chaos, dood en verwoesting gesaai het in Pretoria se reeds berugte Potgieter straat. Mens kan nie begin om dit te beskryf, self al kyk jy na foto’s van die toneel wat kort na die gebeure geneem is, van die seer, hartseer en trauma wat daar afgespeel het gistermiddag nie.

Vanoggend reeds is die wit sement op die ryvlak, platgetrapte verkeerslig en stukkende motor handelaars gebou die stille getuies van ’n verwoestende chaos wat hom afgespeel het.

Oppad werk toe vanoggend kon ek net my Skepper dank dat ek nie soos beplan was vroeër gery het en dalk ten tye van die gebeure op juis daardie stukkie pad langs die motor handelaar was toe die vragmotor sy pad van verwoesting oop geploeg het nie.

Klein Prinses het gister verjaar en Pa wou vroeg ry om hulle te gaan haal by die skool en meer tyd saam deur te bring, maar soos met vergaderings soms gaan, het dit langer aangehou en is ek eers ’n uur later as beplan weg. My geduld was gister ook natuurlik tot die uiterste beproef deurdat die verkeer in die middestad van Pretoria nie gevloei het nie.

Die ergste was om na die 16H30 en 17H00 nuus op Jakaranda te luister terwyl jy, jouself nóg stééds in dieselfde straat blok bevind. Juis oor die Suid-Afrikaner en ja nie net die Taxi’s nie, maar ieder en elke kleur geur en ras hulleself skuldig maak aan onnoselheid in die verkeer. Mense ry mos ’n verkeers interseksie binne sonder dat hulle kan oorbeweeg en as die lig groen word vir die dwars verkeer kan hulle nie ry nie, want daar staan ’n paar ape in die pad. So hou dit aan en aan, met geen oplossing as om jou pad deur te vleg tot jy later veilig kan wegkom van die situasie af nie.

Tydens die gebeure is jou bloed eers verby kookpunt en dan later is jy al hoe meer verstom vir die kortsigtige, arrogansie en breinlose optrede van sommige mense. Waar het die brein vermoë van mense heen verdwyn, of is dit net in Pretoria, sodat basiese verstand en bedagsaamheid nie bestaan as hulle agter die stuur van ’n motor inskuif nie.

Dit het my laat dink dat, behoede ons as daar enige gebeure moet plaasvind wat Pretoria in ’n volskaalse ramp gebied verander. Die mense sal deur sulke optrede soos gister mekaar uitwis eerder as die werklike oorsaak van die ramp.

Dink natuurlik nie die vermoë van die Metro Polisie en SAPS om sulke situasies korrek te hanteer is meer so ingeskerp soos paar jaar gelede nie. Moenie my verkeerd verstaan nie, hulle het goeie werk gedoen rondom die ongeluks toneel gister maar vêrder weg was hulle onsigbaar en het chaos geheers. Dit is die saak wat ek probeer stel met die skrywe.

Maar ongeag die omstandighede van gistermiddag is ek dankbaar teenoor my Skepper die Lewende God, dat ek, al was dit later as beplan, klein gesiggies kon optel en hulle vasdruk en nie saam met ’n boodskap van ’n trauma werker by die huis gekom het nie.

My en die gesin se gebede gaan op vir elke een wat deur die gebeure gister op een of ander wyse verliese gely en of veel erger, geliefdes verloor het.

Mag die wat om hul lewe veg tans, genadiglik die helende krag van die Lewende God ervaar op hul lewens. Die wat geliefdes aan die dood afgestaan het, vir julle vra ons dat die Vertrooster julle elke een sal versterk en krag gee asook perspektief en kalmte in die tyd van rou en verlies.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok.🙄😆


Responses

  1. Ek kan nuuskierige agies nie klein kry nie. Veral die wat net wil sien hoe seer die mense gekry het.

    As jy nie kan help nie, hou verby. Gee die mense ‘n tikseltjie privaatheid en waardigheid. Hoe sal jy gevoel het as jy hopeloos was en almal staar jou aan?

  2. Ek is ook bly jou beskerm engel het sy werk gedoen gister. Dit kan so maklik anders wees…

  3. Dagse Kuiergaste

    Adrie
    Stem 100% saam. Wat die spul ook nie wil verstaan nie is dat hulle rondstanery ‘n gevaar skep vir ander wat besig is om te werk en in die proses kan hulle verhoed dat iemand se lewe gered word.

    Daar is ook altyd die potensiaal van verdere ongelukkedeur onnodige mense en karre op die toneel.

    Carina
    Ons is baie dankbaar vir die beskerming.

    Groete

  4. Telkens wanneer iets gebeur wat veroorsaak dat ons planne moet verander of uitstel of dat ons later ry as wat ons wou en so aan, dan wonder ek wat die doel daarmee is. Want daar is altyd ‘n doel! So bly jy was laat.

  5. Hi WK,
    Bestiering van Bo dat jy nie gister daardie roete gery het nie. Daar’s duidelik nog werk vir jou!

  6. Ek glo glad nie aan toeval nie. Dit was in Sy raadsplan dat jy moes laat wees. Daarvoor is ek opreg dankbaar. Ek kan net saam met jou bid vir Sy vertroosting vir die wat nie so gelukkig was nie…

  7. Amen Ridder.


Categories

%d bloggers like this: