Posted by: White Knight | Wednesday, 26 November, 2008

Kinder opvoeding en Liefde

Kinders en Liefde

Gister se gewelddadige inskrywing het my onmiddellik laat besef dat die teenpool van dit natuurlik liefde is. Liefde wat leer dat almal verskillend is en dat ons mekaar moet akkommodeer veral in ons ou sogenaamde reënboog nasie.

Met die liefde wat ek hier bedoel is dit wat jy jou kinders leer om te ervaar en te gee ongeag jou en hulle omstandighede. Hiermee bedoel ek nie kinders oppiep as ’n teken van jou liefde nie, nee duisend maal nee. Die liefde wat leer om ander te respekteer en ook met dieselfde waardes te hanteer as wat hulle self hanteer wil word. Liefde wat hom of haar sal in staat stel om hulle self op te pas en bewaar van alle verkeerde afleidings en kruispaaie wat op hul lewens pad sal kom.

Kinders verskil of hulle nou ’n identiese tweeling is of enkelinge, die individuele karakter eienskappe is nie dieselfde nie, al probeer jy dit ook so verdraai. Die een sal byvoorbeeld sonder om te skroom soentjies en drukkies uitdeel en nie huiwer om jou te laat verstaan dat hulle naby jou wil wees nie. Die volgende een is meer gereserveerd en sal op hul terme toenadering soek. Dis juis waar dit belangrik is om te onderskei en nie toe laat dat die een voel die ander word voorgetrek nie. Laat hulle geborge voel om binne die raamwerk van hul persoonlikheid te ontwikkel.

Liefde is die bewys van ek gee om en ek versorg, omdat daar binne die ouer se vermoë voorsiening gemaak word vir al hul behoeftes. Daar is soms nodig om indien dit moontlik is ook te bederf. Maar die kwessie moet baie versigtig hanteer word want gekoopte goed kan nie ’n ouer se tyd en aandag vervang nie. Die ouer se persoonlike aandag en toewyding aan die kind is nie gekoppel aan ’n prys nie. Dis onbekostigbaar.

Liefde is dit wat ’n kind leer dat hy/sy die reg het om dit wat hulle in glo te verdedig en daarvoor te veg, maar ook om as hulle besef dis verkeerd wat hulle glo, te gaan verskoning vra en reg te maak waar fouteer is. Liefde leer ons kinders ook dat erkenning van hul foute nie ’n teken van swakheid is nie maar ’n manier om te leer en groei.

Liefde maak nie sissies groot nie, maar skep standvastige kinders wat later as respekvolle, beginsel vaste grootmense die lewe kan binne gaan om te weet dat jou ideale en ambisie eerbaar en opreg nagestreef kan en moet word, maar nooit ten koste van jou eie mens wees nie. Dis daardie liefde wat hulle help om te onderskei dat nie almal dieselfde potensiaal het nie, maar dat elkeen wel potensiaal het om die beste te doen in dit wat hulle wel voor aangelê is. Liefde wat dieselfde respek vir die Straatveër het as die Hart Sjirurg.

Liefde wat nie huiwer om kinders te tugtig volgens die Woord van God nie, maar weerhou daarvan om hulle te verneder. Dit stel grense waarsonder enige kind nie behoorlik kan funksioneer nie.  Die wyse van tugtiging aan hulle sal oordra as die metode van herstel waar gedrag en optrede verkeerd en tot hulle eie of ander se nadeel is. Maar ’n liefde wat ook sal leer dat dit wanneer die omstandighede dit vereis, hulle wel die reg het om hulself te verdig met die hoeveelheid mag en krag wat nodig is.

Liefde wat jou kinders onafhanklik sal maak van ander se genade en giere. Die soort wat mure en skanse van oordeel en idees orden en help om húlle voor te berei vir die lewenspad wat nog moet kom. Dis die handeling wat seuns leer dat huis werk nie van jou ’n sissie maak nie, maar help om begrip te hê vir jou ma en later jou geliefde so opofferinge om alles vir jou en ander gereed te hou. Hierdie selfde deel wat Pa sy dogter leer dat haar hande nie sal afval as sy self haar motor se stukkende band kan ruil,  ’n gloeilamp vervang of self ’n muurprop korrek te aansit nie.

Al hierdie dinge help hulle om met self waarde die lewe binne te gaan nooit te hoef terugstaan omdat hulle minder waardig voel nie, Inteendeel, liefde help hulle om te aanvaar wie en wat hulle is en dit wat wel hulle is uit te bou tot die beste, maar altyd sal besef dit kom nie uit die eie ek nie maar die genade van die allerhoogste God.

Liefde wat hulle mee hanteer en opgevoed word sal hulle laat besef en erken dat hul Skepper ook die Gewer is en patente reg houer is van die Liefde, want Hy is Liefde en sonder Hom sal en is hulle niks.

Liefde en genade, voorspoed en wysheid word elke een toewens. Want dis die dinge wat jy gaan nodig hê saam ’n goeie porsie geduld vir hierdie taak wat ons opgelê is om kinders groot te maak.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok.🙄😆


Responses

  1. Sela!

  2. Ridder, soos altyd weer dankie vir ‘n baie interessante en waar post.

    Respek en liefde gaan hand aan hand.

  3. Baie waar. Veral jou laaste paragraaf. 😆

  4. Ek dink dat dit belangrik is om te onthou dat ouers ook vir hulle kinders moet respek toon.

  5. Ek stem heeltemal met jou saam. Netjiese possie.


Categories

%d bloggers like this: