Posted by: White Knight | Tuesday, 25 November, 2008

Kinders Grootmaak en geweld

Kinders grootmaak

Die naweek se berig en ook Dellie se inskrywing oor ‘n Pa wat sy tweejarige seun aan hits om ‘n ander kind kleiner as sy eie te slaan tot die bloed loop is skokkend. Na aanleiding van dit wil ek vandag die vraag vra, hoe maak jy jou kind groot?

Ek vir een stem saam dat jy jou kinders, seuns en dogter, moet leer hoe om hulle self te verdedig sou die situasie dit verg. Om te oorleef in elke situasie is belangrik veral in die huidige Suid-Afrika se gewelddadige opset. Maar om jou kind te leer om ’n boelie te wees is sommer pure nonsens en behoort gestraf te word.

Jy leer eenvoudig nie jou kinders om ander en veral kleiner af te knou nie, ongeag van die omstandighede. Ridder het wel net Prinsesse by die huis maar ek laat hulle nie toe om programme soos “fight club” en WWE te kyk nie. Die sulke programme is sogenaamde “entertainment”, maar dit leer kinders dat dit reg is om teen ’n ander op te “team” al is julle groter as die een wat alleen staan. Ook is elke denkbare vuil en laakbare manier geregverdig as jy baklei deur ’n ander met asblikke stoele en selfs hamers te slaan. Twak man, jy is ’n mens en beskaafd, as iemand jou aanval verdedig jouself, maar jy slaan nie ’n vlieg met ’n sestien pond hamer dood nie.

Juis ook die minagting en gebrek aan respek wat mans teenoor mekaar en ook vroue het wat my siek maak van die tipe programme. Pa en Ma en kinders wat mekaar beledig en aanrand hoort nie op die TV-kanale nie, dis gemors en onbetaamlik. Geen manier van blootstelling wat ’n kind nodig het nie. Maar dis nie die Alpha en die Omega van alle probleme wat betref geweld en kinders nie.

Ouers se eie optrede en wat hulle sê en doen voor die kinders wat belangrik is. Geen beter voorbeeld beïnvloed ’n kind so erg soos hulle eie ouers se optrede nie. Skreeu en vloek jy heeltyd op ander gaan jou kinders dit ook aanleer en help nie hoeveel keer jy raas en slaan nie, hulle sien jou dit doen, “Monkey see, monkey do, because the greatest monkeys in the tribe does it” So gedra jou soos ’n aap as jy klein ape wil kweek en grootmaak.

In die geval wat genoem is in Amerika is dit natuurlik ook opvallend dat die ouers geskei is en die seuntjie by sy Pa was toe dit gebeur het. Pa is in die spesiale magte en sy lewe bestaan uit “kill or be killed” baie gevaarlike gebied, maar regverdig nie die rede vir sulke gedrag nie, daar is baie spesiale magte soldate oor die hele wêreld en nie almal maak hulle kinders as boelies groot nie.

My eerlike opinie is dat daar daadwerklik opgetree moet word en as die Pa nie verander nie moet die kind maar liefs nooit weer alleen in sy teenwoordigheid gelaat word nie. Sy optrede is vir die kind meer negatief en skadelik as wat dit sou wees om sy Pa slegs te besoek onder toesig en of dan selfs glad nie.

Kinders wat met geweld grootword, sal as grootmens ’n geweldenaar uitdraai. Hulle kan as groot mense nie konflik hanteer anders as om in ’n stadium gewelddadig en aggresief te raak nie. Sulke mense sal altyd sonder die regte hulp sukkel en nie tot hulle volle potensiaal groei nie.

Wel dis vir eers genoeg oor geweld, Ek sal in die toekoms nog ’n paar onderwerpe rakende kinders aanraak soos gesien deur my helm se skrefies terwyl ek na die wêreld kyk.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok. 🙄 😆

Advertisements

Responses

  1. Monkey see Monkey do…. is so waar. Ouers is die voorbeeld vir kinders.

    My doel met my kinders se opvoeding was dat hulle respek moet hê vir mens en dier.

    Baie goeie inskrywing Knight! 😉

  2. Ek het grootgeword in ‘n huis waar daar soms geweld was. Geweld teenoor my ma, teenoor my. Dit was aaklig. En ek het myself belowe dat geen kind van my ooit daaraan blootgestel sou word nie.

    My seun het begin karate lesse neem toe hy ses was. Ons wou hê dat hy homself moes kon verdedig in enige situasie. As ons ‘n dogter gehad het, sou dieselfde gegeld het.

    Hy het dus van kleins af selfverdediging geleer, maar ook die belangrikste van alles – selfbeheersing. Dat die kennis wat hy het nie daar is om ander mee te boelie nie, maar hom juis sterker maak om sulke aanslae te kan weerstaan, en sou hy wel in ‘n situasie kom waar hy liggaamlik bedreig word, dit die laaste uitweg sou wees. Want hy het geweet dat hy iemand baie seer kan maak, sou hy dit verkies.

    In ons huishouding was daar nog nooit geweld nie. (Behalwe vir die keer toe ek vir liefie met ‘n plastiekbakkie wortelslaai gegooi het… 😳 maar seun was darem nie by nie!) Soms harde woorde, ja, maar ons gil nie heeldag op mekaar nie. En ons vloek mekaar nie.

    Hy het nog nooit erg gehad aan programme soos WWE nie. Hy en sy pa het wel vir ure gestoei op die mat in die sitkamer toe hy klein was – eintlik nog tot ‘n jaar of wat gelede. Toe begin hy vir liefie onderkry. :mrgreen: Maar dit was pure pret, en niks anders nie.

    Hy het uiteindelik opgehou met karate net voordat hy sy swart gordel sou kry, want dit het begin inmeng met sy skoolwerk. Maar omdat hy so vroeg begin het daarmee, is dit deel van hom. En vandag is hy ‘n kalm en beheersde mens wat hom nie laat uitlok tot ‘n geveg nie.

  3. Ek het nog nie kinders nie, maar wonder elke dag hoe mens ‘n kind goed grootgemaak kry in vandag se tye…

  4. Dit sal interessant wees om te weet of die pa in die video uit so huis kom.

  5. Ek dink die pa het maar ‘n skroef of twee los. Geen regdenkende mens sal so iets toelaat nie.

  6. Ag wat, ek sal tevrede wees as my kinders hulle tafels ken. 😆

  7. Ernstig nou.

    Ek wil he my kinders moet vegters en uithouers wees. Hulle moet kan veg vir wat reg is en vir wat hulle uit die lewe wil he. Terselfde tyd moet hulle nooit opgee nie.

    Dit sluit fisiese bakleiery in, maar net as ‘n laaste uitweg. Ek keur ‘n geboelie, afknouery en wreedheid ten strengste af. Daar sal groot MOELIKHEID wees as hulle daaraan skuldig is.

  8. Dagse

    Wipneus
    Baie belanrik dat hulle respek moet he vir ander.

    Dellie
    (((Dellie))) Dis baie eina dinge daardie en nie iets wat ‘n kind mee moet deel nie. Die probleem is ook dat baie later sukkel om daai roetine van geweld te breek en dit agter te laat.

    Netjane
    Deur genade van Bo en baie geduld :mrgreen:

    Skoor en Boendoe
    Baie moontlik dat hy uit sulke omstandighede as kind kom en sodoende geestelike en emosionele letsels het.

    Adrie (nie die Audie soort nie) 😆
    Ek kry die idee jou ouers sal bly wees as jy die dag wel kinders het. 😀

    Om te veg vir jou reg en selfs fisies te raak is baie ver verwyder van sulke sinnelose geweld soos wat na verwys word in daardie video.

    Ek persoonlik verpes sinnelose geweld en dit hoort vir my in dieselfde klas as die tereur wat die Pa as soldaat kwansuis behoort te bestry.

    Groete


Categories

%d bloggers like this: