Posted by: White Knight | Monday, 24 November, 2008

Vrate, Varke en Geveinsdes.

Daar is nou maar net sekere elemente in die samelewing wat maak dat mens jou tande kners mooi glimlag en vêrder jou “pose” hou. Indien jy nie die dinge kan volhou nie gaan jy iets kwytraak of doen wat net baie probleme kan veroorsaak.

Dis nou die mensdom van ons in die werk opset en meer spesifiek die jaareind funksie en self ander geleenthede soos “spanbou” of algemene sosiale geleenthede. Baie van die mense in hul natuurlike omgewing kan jy nie stil kry nie en bring nou ’n funksie byderhand met ’n paar van die duiwel se aftreksel in bottels en siedaar sosiale Vark van die dekade.

Die oorvrete duur kos vrate.

Die eerste oortreding is natuurlik solank iemand anders of die firma betaal eet ons alles wat voorkom op die spyskaart solank dit eksoties en baie beslis duur is. Hulle sal self nie eers voor of nagereg eet as hulle die rekening self moet betaal nie, maar laat die rekening nou ’n ander naam kry dan is dit oesters, skulpvis en alles wat “prys op aanvraag” gemerk is op die spyskaart. Nie net menslike porsies nie, nee die grootste en dikste wat beskikbaar is. Dieselfde geld natuurlik met buffet etes, die borde word oorlaai en ook die tweede bord gepak asof die sewe jaar hongersnood môre gaan begin. Slegs enkel happies van bord nommer twee en dan kan hulle nie meer nie en alles word gemors.

Moet natuurlik nie van die “nuwe” Suid-Afrikaners en ander vergeet wat by sulke funksie van die vinger ete of buffet geregte “doggy bag” vir die vrou en kinders by die huis nie. Dit gebeur met tye ten koste van ander wat weens verpligtinge nog nie eers ge-eet het wanneer dit begin inpak nie. As jy regtig ‘n probleem het vra, maar wag ten minste tot almal klaar ge-eet het.

Die Drank is verniet Varke

Die spesie is gewoonlik goedkoop bier by die huis en self enige plek waar hulle self die vog verskaf en ook baie gematig met die inname volumes. By die funksie weer sal die Meneer en Mevrou natuurlik uithang en dis natuurlik net die topklas biere. Geen Black Label vandag nie nee, dis Heineken, Amstel en wie weet watter ingevoerde bier vir die opwarm. Sodra hulle nou seker is dat daar nie self gaan betaal word nie is dit sommer oor op Whiskey en geensins die “cheapies” nie, nee Glenfiddich, Johnny Walker of Chivas Regal is al wat sal deug. Dan kry dit ook nie ’n drankie en drink dit beskaaf klaar nie. Nee wat, ons kuier mos en as ek in die proses my drankie “verloor” gaan haal ek sommer ’n nuwe een.

Laastens die Geveinsde groep

Die laaste kategorie is natuurlik die spul wat my die meeste laat lag, juis oor ek dalk verkeerde dinge sal doen as ek nie lag nie. Hierdie groep bestaan uit verskillende kategorieë en jy sal seker in ’n skrywe soos die nie almal kan bespreek nie. Maar enkeles van die is natuurlik genoeg on enige oplettende persoon se kuite te laat styf trek.

Kruppel Jan en dooie Sannie is sommer die eerste model van die spesie. By die werk en in die kantoor opset kan hulle net genoeg doen om te regverdig dat hulle wel ‘n bestaan regverdig in die firma. Laat die sosiale funksies net begin vergeet hulle gou van die beperkinge op hul lewens vaardighede en beweeg rond en bont sonder probleme. Ek meen as jy by die werk met ’n loopring moet beweeg oor jou rug na die operasie so broos is, waar is die verdomde ding by die werk se Jaareind funksie?

Uitspattige Frikkie en Saartjie wat by elke funksie dans en hoe later, hoe kwater, dan dans ons sommer op die tafels ook. By een spanbou vroeër die jaar was julle die voorbokke om in die swembad te spring net met julle onderklere, wel dit was toe die “ander” mense nog daar was, die res is “van hoorsê lieg mens veel” en kan nie oorvertel word nie. Opvallend dat beide van julle nie eers behoorlik groet of pruim kan sê sodra julle eggenote byderhand is nie. Dans is ewe skielik ook nie ’n aangename tyd verdryf nie en na gelang van julle gedrag moes dit nie eers deel gewees het van die verrigtinge nie.

Moet nie van Meneer en Mevrou Lang vingers vergeet nie. Die firma het dit goed gedink om vir elke paartjie ‘n geskenk te gee, nie duur en groot nie maar baie bruikbaar en buitendien dis die gedagte wat tel. Soos met elke geleentheid is daar van die kollegas wat weens verskeie rede nie by die onthaal opdaag nie. Dus is hulle geskenk saam met die oop stoele aan die einde van die aand steeds by julle aan jou tafel. O nee moenie glo nie, julle voorneme om dit Maandag by die werk vir hom of haar te gee verdwyn soos mis voor die son sodra jy en Koningin terugkeer na die tafel. Sien van die ander wat ook daar gesit het, het intussen vinnig geloop sonder om te groet en so in die verbygaan het die geskenk saam hulle in die motor gespring en verdwyn. Of jy dit nou wil glo of nie, dis diefstal en jy kan maar elke Sondag in watter kerk wees ek gee nie om nie, jy steel.

Daar is natuurlik ook die wat al is man of vrou byderhand nou maar net nie hulself kan gedra nie en tot heel laaste sal bly en in baie gevalle nog uitgedra moet word tot jou eggenoot se verleentheid. Dis duidelik dat jy geen respek vir jou eggenoot of mede werkers het nie en baie keer wonder ek oor julle gedrag as daar nie ander by is nie, maar laat ons liewers nie nou hier vêrder klassifiseer nie.

Wel wat is julle ervarings in die tipe van situasies al gewees?

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok. 🙄 😆


Responses

  1. Ridder, ek het al by sulke funksies gesien dat die “nuwe” Suid-Afrikaners tot die grondboontjies op die tafel in hulle hempsakke gooi en hoenderboudjies in hulle broeksakke druk as hulle dan nou geen ander houer het nie.

    Ek het ‘n broertjie dood aan uitspattige Frikkies en Saartjies en as jy my nie kan groet of vriendelik met my kan wees as jou vrou by is nie, ignoreer my liewer as jy alleen ook is.

    Sterkte aan almal wat nou weer jaareindfunksies gaan bywoon en met al hierdie verskynsels te doene gaan kry.

  2. Hie-hie, ek het nogal lekker gesit en grin vir jou beskrywings. Ek is gelukkig die enigste ene in my besigheid, so ek hou nie jaareindfunksies nie. Mens drink mos nie alleen nie… :mrgreen:

    Maar ek was al saam met Liefie by ‘n paar, sommerso vir al die mense wat in dieselfde bedryf werk, nie noodwendig dieselfde firma nie. Verlede jaar het iemand die buffet behoorlik leeg gedoggy-bag, en sommige mense het sowaar nie kos gekry nie. 😯

    Gelukkig was die drank nie gratis nie, maar dit het nie gekeer dat ‘n paar dames in tale gepraat het wat my mond laat oophang het nie! En ek praat nie van moer en donner nie, rerige kru taal wat my laat bloos het. En dit vat nogal baie om my te laat bloos… :mrgreen: In die normale omgang met hulle, sou jy nooit kon dink dat sulke woorde oor daai rooi lippies kan kom nie. Dit het nogal my opinie van hulle drasties verander.

  3. Knight gelukkig gebeur dit nie by die funksies wat ons vir ons mense aanbied nie. Ek dink hulle weet ek is te kwaai :mrgreen: hie hie

    Vir die ander funksies wat ons bywoon, ja ek sien gereeld die dinge waarvan jy hier praat! Veral die doggy bags wat huis toe geneem word. 😯

    Ek weet van ‘n hele paar wat altyd rooi gesig van skaamte Maandag moet aanmeld vir werk!

    Ek sê ook sterkte aan almal vir die jaarfunksies wat voorlê!

  4. Oi, my laaste jaareindfuksie was so lank terug, dit was amper ou SA. Wee jy, van ek kan onthou, oud en nuut, was daar van al daardie elemente teenwoordig. Ek weet nie van jou nie, maar ons vrouens het ook by die geleenthede gereeld te doen gekry met dwalende hande.

    Wat my ook altyd die duiwel in gehad het, was die gerofstoei oor die tafelruikers! En dan was dit die mense wat die vroegste geloop het wat dit weggedra het – kerse en al!

  5. Hi WK

    Baie goed geskryf vanuit die oogpunt van ‘n gas op ‘n jaareindfunksie.

    Ridder laat ek jou vertel dit is ‘n totaal ander prentjie as jy die funksies reel en alles doen van begin tot end. Mense julle het nog niks gesien nie, julle moet die storie van die anderkant af kan sien. Dis 10 x erger

    Nee kyk na gemiddeld 35 jaareindfunksies per jaar vir die laaste agt jaar, is ek bly ek mis die sardientjie run die jaar.

  6. Ai, ai, ai. Ek gaan staan eerder in die hoekie en bloos oor my vergrype aan vry drank… 😳 😆

  7. Goeie inskrywing. Hier by ons reel ek gewoonlik die jaar eindfunksies. Ons kry n sekere bedrag per persoon. Daaruit koop ons elkeen se vleis en wat daarmee gepaard gaan , en elkeen kry ook n bedrag kontant en dan koop elkeen sy eie drank. Van die ander skofte gaan eet by n restaurant , n mens kan dan ook net soveel vreet soos die hoeveelheid geld wat jy het .

  8. Dagse Julle

    Linda weet van sulke gevalle dan is dit nog die Burgemeester self. 😯

    Dellie
    Daar is baie wat hulle uit respek uit drink op sulke funksies. 😕

    Wipneus
    Jy kwaai? 😆 Solank jy net nie met ons raas nie is dit regso. 😉

    Jo-Ann
    Gelukkig laat ek nie ander manne se hande oor my dwaal nie 😈 Maar ja ek moes al in my lewe by so ‘n funksie iemand se hande wat ‘n kollega gepla het, maniere leer. Natuurlik is daar die souvinier hunter ook. 👿

    Boskind
    Ek is oortuig as mens ‘n gas is sien jy nie die helfte van die dinge nie. Geniet jou rus tyd. 😉 Is die groot wag al amper verby?

    Boendoe
    😯 My eerste gedagte was jy moet dit dadelik gaan terug gee, maar ek dink los dit liewers. 😳 😆

    Klip
    Eerstens baie welkom, hoop om jou weer hier raak te kuier. Sien jou idees is goed deurdink en baie prakties. Dink van die ander kan by julle leer oor dit.

    Groete aan almal.


Categories

%d bloggers like this: