Posted by: White Knight | Tuesday, 18 November, 2008

Die klere wat ons dra

Kyk een ding is verseker en dit is dat daar mense gaan wees wat die Hawe Hoof sal wil stenig oor die skrywe. Maar soos ek al voorheen gesê het, my ouers het nie bang kinders grootgemaak nie. Buitendien het ek nog nooit probeer voorgee dat ek alles weet, of almal die hele tyd hier moet saam stem nie.

Die hele kwessie van kleredrag is nogal iets wat ek oplet by mense. Om die waarheid te sê ek kan vir ure mense in die normale gang van die lewe dophou net om te sien hoe hulle optree en wat hulle alles doen. Selfs in presies dieselfde situasie sal twee mense direk na mekaar verskillend optree.

Kom ons bly by die onderwerp van klere. Ek kyk nou die dag op van my lessenaar en sien twee van my kollegas staan en gesels ’n ent van my. Die eerste ding wat ek oplet is hulle kleredrag. Hy a.g.v. sy daaglikse pligte het beskermende klere aan, iets wat seker nie as mode beskryf kan word nie maar geskik vir die doel. Sy in teenstelling met hom het ’n losserige langbroek en stywe bloes aan. Nou indien sy in dieselfde areas as hy moet beweeg gaan daardie broek baie beslis bydra tot haar beserings wat sy dalk kan opdoen oor al die los toue en tossels wat daaraan hang. Natuurlik is haar oop skoene ook nie geskik vir ’n area waar dit gevaarlik kan raak nie. Om die waarheid te sê sou ek dink sy was eerder reg vir ’n dag in die winkels eerder as werk.

Die ding is baie Vroue trek soos mans aan. Ek bedoel nie nou dat vrou soos mans aantrek omdat hulle langbroeke dra nie. Nee dis hoe hulle dit aantrek en die snit en tipe klere wat hulle dra wat eerder soos ‘n man laat lyk as n vrou of dame. Baie dames dra langbroek en bypassende baadjies of bloese en lyk absoluut wonderlik.

Asseblief ek het nou nie bedoel almal moet weer valletjies rokke met amper twintig onderrokke begin dra nie. Agge nee kan jy jou voorstel die gesukkel om al daardie klere aan en uit te trek. Geen wonder van daardie oudtydse anties het eers na middag ete hul verskyning gemaak en moes dae voor die tyd weet van ’n partytjie om te kon klaar aantrek nie. Sjoe die manne moes seker baie geduld gehad het voor hulle kon kuier by die anties. Maar selfs daardie rokke het ook nog die nodige kurwes en cleavage gewys as hulle wou.

Ek dink persoonlik baie vroue verloor hul bekoring vir die manlike geslag oor hulle mannetjie rig en slordig voorkom. Daar is geen niks so mooi soos ’n versorgde vrou, bedoel nie met grimering besmeer nie, net netjies en met die nodige grimering as sy wil. Daardie vrou wat ordentlik aangetrek is en versorg voorkom.

Kyk maar om julle en sien hoe rond het ons volk geword, maar dit is elke een se eie saak. Dis egter wanneer Ouma van 125 kilogram met haar tights en boob tube in die strate afloop dat sy lyk soos ’n gerolde minibus vol haelskade dat ek weghardloop. Baie mense het mediese probleme of ander, goeie of slegte, redes hoekom hulle oorgewig is. Maar hoe jy lyk met daardie lyf is wat tel.

As mens met verlof is of naweek ontspan, sal jy noodwendig anders aantrek as vir ’n dag op kantoor. Steeds moet dit nie lyk of jy ’n spul lappe op die ashoop opgetel het en besig is om ’n shack te bou vir die weermag se voertuie nie. Hierdie mense wat sandale dra met boerbeskuit hakskene wat mens herinner aan discovery program oor die Grand Canyon, dit werk nie.

As dit warm is trek gemaklik en koel aan, maar doen dit nog steeds met respek vir jouself en ander om jou. Dit is immer die omstanders wat in jou moet vaskyk. Buitendien is jy ’n verleentheid vir ander as dit wat privaat behoort te wees begin uitpeul oral waar dit nie behoort gesien word nie.

Natuurlik die deel wat baie oor kla. Dominee, Priester, Pastoor, my man is nie meer lief vir my nie. Hy gee my nooit meer komplimente of is romanties soos toe ons getroud is nie. Nee jy is reg mevrou, hy is nie, want vroeër het jy jou mooi gemaak vir hom, nou spring jy in verbleikte sweetpak broek en een van sy tien maal te groot t-hemde as jy by die huis kom. Jy lyk vir hom meer soos bondel ongestrykte wasgoed as die liefie wat hy mee getroud is. As jy sommer so gaan slaap ook wat verwag jy moet hy oor opgewonde raak, hmmmm?

Natuurlik is die vroue nie alleen skuldig nie. Meneer jou rugby broek van paar seisoen terug en tenktop laat my sterk lyk hempie saam die plakkies wat drie versolings gemis het lyk ook nie gaaf as sy ordentlik aangetrek is en jy gaan saam winkels toe nie. Sy doen moeite met haarself, al is dit net vir winkel toe gaan, wys vir haar jy respekteer haar en lyk self effe skaflik en nie soos ’n gom gat nie. Dra daardie klere by die rugby oefening of gym, nie as jy saam haar in die openbaar is nie.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok 🙄  😆


Responses

  1. En wat van ‘n man met ‘n groot boep en spataar bene wat met ‘n PT short rondloop?

    Mans kan ook vir pedikure gaan en daar is geen rede hoekom hulle nie versorg moet wees nie.

  2. Hey WK

    Ek stem heeltemal met jou saam!! Ek is ook groot gebou maar probeer om volgens my lyf aan te trek sal nooit iets aantrek wat te klein is nie!!

    Ek is mal oor my mani – en pedikure elke maand en ek blaas omtrent al my geld op my hare en probeer altyd versorgd en mooi lyk vir my man (dis tog afterall vir wie jy dit wil doen – en natuurlik vir jouself!!)

    Jy hoef nie petite te wees om goed te lyk nie!!

    Ek geniet vrou wees!!

    Liefdetjies
    xxxx

  3. Ek het nou die dag die vreemdste verskynsel gesien by ‘n vakansieoord. Die ou het ‘n boep wat daaaar staan, swart speedo en skeloranje crocs. Die ergste is, sy tan is net op sy voorarms en van sy bobene af, die res is spierwit.
    ‘n Vrou moet haar man op sy tone hou wat die mode aanbetref en natuurlik visa versa.
    As dit my man was het ek hom daadlik teruggestuur kamer toe. Nee, allamagtag.

  4. ek stem saam met Adrie en Koeksuster! En verder…die broeke op die mark vir vroue van my grootte sit halfmas tussen jou heup en jou watsenaam. Ek kry nie ‘n broek in my grootte wat netjies tot by my middel kom nie! Vandaar die uitpeul…Toppies wat nie kleef nie is skaars, tensy jy een van die tente koop. Ek hoor wat jy sê aangaande tights en boob tubes en tights, maar ongelukkig (tensy jy kan klere maak)( moet mens koop wat die winkels maak.

  5. Ek stem ook saam, ek het al baie hieroor geskryf. Sommige mense gee net nie meer ‘n flenter om hoe hulle in die straat rond loop nie. Ek kry soms skaam! Afgedopte naellak, hakskene met slote in, die hare is 3 wasse agter. En dis mans en vrouens!

    Ek stem saam Koeksister mens se geliefde moet dan maar vir jou sê as jy nie skaflik is vir die strate nie.

    Eina, ek hoop tog nie die dag moet aanbreek dat my Teddie my moet terug stuur vir beter kleredrag nie whahaha 😆 😳

    Ek sit gereeld buite restaurante en verkyk my aan mense! Dis ‘n stokperdjie! Waar het dinge so verkeerd geloop met die kleredrag stories? As hulle nie verflenterd rondloop nie, is hulle half nakend en/of onversorg.

    O ja, en van hulle swak maniere wil ek nie eers praat nie 😆

    Nee ek is glad nie outyds nie, ek is baie lief vir mooi aantrek en modes, maar daar is ‘n baie fyn lyn tussen mode en trashy!

  6. Hi Julle

    Ek is al 52 jaar oud en gaan weekliks vir my naels en laat sny my hare elke maand. Ek is nie vet of maer nie maar glo dat al het jy op 50 die mooiste lyfie trek jy nie meer ‘n mini of tights aan en loop in die dorp rond nie. Trek aan volgens jou ouderdom.

    Ek gaan nie uit my huis uit sonder dat my hare gewas en geblaas is en ek my oorlogsverf aangesit het nie. Ek doen dit vir niemand anders nie behalwe net vir myself.

    Party vrouens trek so vieslik en uitlokkend aan dat ek skaam kry vir hulle part.

  7. Hallo almal,

    lanklaas hier ingeloer,

    Ek wonder soms of sommige mense nie ‘n spieël het by die huis sodat hulle hul self kan sien voor hulle uitgaan nie 🙂

  8. Ek kan maar net beaam wat die res en jy klaar gesê het, Ridder. Ek geniet dit om ‘n vrou te wees, ek hou van mooi aantrek, en versorgde voete en hande is baie hoog op my lysie. Ek kyk altyd eerste na mense se voete 😳 so ek maak seker dat myne goed lyk! 😆

    Maar ek was al kaalvoet Spar toe… whahahaha! 😆

  9. My pa is een van daardie vet omies. Ek was vanmiddag so geskok om te sien hoe hy sukkel om by die voordeur in te kom – want daar is een klein trappie en hy kan nie daar op kom nie. Maar iets daaraan doen? O nee, eet steeds twee borde kos na mekaar en drink koffie asof dit uit die mode gaan. My ma is ‘n kleremaakster, maar die vet peul oral uit en daar is nou nie juis iets wat sy daaraan kan doen nie – of dalk moet sy seil en vislyn gebruik…

  10. Dellie – hier in ons town gaan ek gereeld kaalvoet dorp toe!

    Ek was verlede week vir die eerste keer in my lewe vir ‘n mani en pedi. En ek hou so baie van die idee dat my naels ‘n slag mooi geverf is, dat ek sommer more of Vrydag weer wil gaan (my hande en voete is goed versorg, maar dis maar min dat ek my vingernaels cutex). Ek verkyk my aan die “ryk” vrouens se gebarste hakstene terwyl ek wat lief is vir tekkies en crox en kaelvoet loop, gladde hakke het! Ek dink nou wel nie ek is slordig op myself nie, maar een van my ouens het my gelos en gesê dis oor ek slordig is. Ek stort en was my hare elke oggend, maar ek leef in denims so ek weet nou nie of dit sy probleem was nie. Maar vandag is hy getroud met ‘n vrou wat amper drie keer my size is met olierige hare en wat klere dra wat of heeltemal te klein of heeltemal te groot is vir haar…


Categories

%d bloggers like this: