Posted by: White Knight | Monday, 17 November, 2008

Helde en verering

Die afgelope week lees ek dat daar op verskeie wyses hulde gebring gaan word aan Miriam Makeba wat Sondag 09 November 2008 oorlede is net na sy opgetree het in Italië. Deel van die hulde wat gebring word aan Me. Makeba sluit onder andere in dat die lands vlag by Staatsdiens geboue halfmas sal hang. Wel ek kan verstaan dat sy vir haar mense en ander musiek liefhebbers baie beteken het en self ’n simbool van hoop was tydens die apartheids jare soos na haar verwys word.

Wat my egter aan die dink gesit het, is die mens se gewoonte om vir hulle helde te skep en dan daardie persone totaal te verafgod. Is dit regtig nodig om iemand wat vir hul geloof, sienswyses, ideale geveg of uitgeleef het so absoluut te verheerlik? Ek kon dit in my eie lewe nog nooit verstaan of begryp nie.

Ek dink juis oor ’n wyse man eendag vir my gevra het of sulke mense dan nou anders as die res van ons toilet gebruik, eet, asemhaal ens. Nee ek glo nie hulle doen nie, was my antwoord. Presies hulle doen net wat ek en jy doen om te bly leef, dit wat hulle meer doen maak nie van daardie mense gode nie. Dis die ander mense wat van hulle afgode maak.

Jy sien daar is ’n ou gesegde dat agter elke suksesvolle man staan ’n vrou met groot ambisie. 😉    Nou behaal die man sukses in sy beroep of roeping in die proses loop hulle paaie uiteen en siedaar hy kry nou ’n meer gesofistikeerde vroutjie wat by sy status pas. Dink maar aan F.W. de Klerk voormalige NP leier en President. Dalk nie so goeie voorbeeld  nie, ek weet maar nogtans, julle verstaan die punt. Sou hy dus ’n baanbreker wees op enige gebied, sal hy geweldig vereer word ten tye sy afsterwe, maar wat van vrou # 1 wat hom deur die moeilike jare bygestaan het en gehelp het om te studeer en selfs die loopbaan van stapel te stuur.

So gaan dit in alle fasette van die lewe, sport het hul helde, die sake wêreld, akteurs en musikante. Indien ek nie ’n rolprent sien nie, of na sekere musiek luister nie, wat beteken daardie kunstenaar in elke geval vir my lewe? Sommige van hulle sal nog buite hul “beroep” ’n poging aanwend om ander te help maar die res geniet die aansien van beroemd wees, maar dis dit, solank die ondersteuners koop en geld spandeer is hulle baie bly, maar meer as dit nooit gesien nie, bly weg.

Ek meen die hele kwessie van die sogenaamde Vryheidspark in Pretoria. Wie kwalifiseer nou om daar vermeld te word? Voormalige SAW soldate van die grensoorlog word geheel en al uitgelaat, maar die vryheids vegter / bomplanter wat onskuldige mense se dood veroorsaak het word daar vereer. Nou wat nou, wie was nou die werklike held.

Laat Ridder tog net gou een saak baie duidelik stel. As ek ooit in my lewe iets goed doen en iemand iewers besluit na ek weg is om my naam te loop skryf op ’n stuk plaat in dieselfde area waar mense water laat loop en vuurmaak sodat hulle kaalvoet kan dans om die Voorvaders te aanbid sal ek by jou kom spook al moet ek spesiale verlof gaan vra by die Hoogste Gesag. Vir my is daardie Vryheidspark ’n plek van euwel wat lynreg indruis teen my geloof en God se voorskrifte vir my lewe, so ek wil nie eers deel van dit wees nie.

Maar dit klaar nog nie die situasie op van word die regte persoon die eer gegee nie. Daar is ontelbare gevalle waar iemand krediet kry vir sekere werk of dinge wat gedoen is om net later te hoor maar die persoon het op ander staat gemaak vir die sukses.

Dis soos om een persoon uit te sonder  vir ’n rugby oorwinning. Joel Stransky was na die 1995 Rugby Wêreld beker almal se held oor die skepskop wat die wedstryd “gewen” het. Maar die ander lede van die span moes hard werk om vir hom die geleentheid te gee vir daardie skepskop.

Mense maak helde van ander mense want dit gee hulle hoop en iets om op te fokus. Maar die hele konsep gaan vir ’n windeier sodra hulle begin om die held te verafgod. Natuurlik is die een se held baie moontlik die ander se vyand wat die volgende probleem veroorsaak. Hoe gemaak as daar twee helde is maar die een se mense verdra nie die ander nie? Kan nogal juis met die huidige politiek situasie in die land oorgaan in chaos en geweld.

My eie persoonlike opinie is natuurlik om mense krediet te gee vir die goeie dinge wat hulle doen en waar dit ander se lewens ten goede verander en verbeter. Maar dis waar dit stop. Mense wat goed en uitsonderlike dinge doen bly mense en jy kan hulle nie verafgod nie. Dis dan wanneer jy sien mense raak lelik sodra hulle besef die held is ook maar net ’n mens met foute.

Binne die raamwerk van ons eie komplekse nasie is daar plek vir mense om goed te doen binne jou eie groep en oor grense heen. Wat ons egter altyd moet onthou is dat wat vir my en jou goed is dalk juis sleg is vir ander. Voor ons te vinnig begin helde vereer, dink aan ander wat nie jou siening huldig oor ’n onderwerp nie.

Die beste nog is vereer en erken die werk wat gedoen word maar moenie die persoon op ’n voetstuk plaas nie.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok. 🙄😆


Responses

  1. Jou kant, my kant en die anner kant! 😆

    Ware woorde, WK!

  2. Net soos Boendoe sê!

    Goeie inskrywing…

  3. Ridder, weer eens, soos altyd, ‘n baie insiggewende post.

  4. Iemand het eendag vir my gesê as jy nie ‘n held het nie, dan dink jy te veel van jouself! Ek het nooit helde gehad nie. Dus ek was toe verplig om vinnig ‘n held te kry, want ek wil nou nie bekend staan dat ek te veel van myself dink nie 😉 LOL
    Vandag kyk ek na my man as ‘n held. Want om met my getroud te wees moet jy ‘n held wees😉

    Alweer ‘n goeie inskrywing Knight!

  5. Al word ek 1000 jaar oud, sal ek nooit verstaan hoekom Anne Frank en Helen Keller helde geword het, maar die mense wat hulle gehelp het is onbekend.

  6. Soos jy se Ridder, hoe kan `n sterfling en dan boonop iemand wat jy nog nooit in lewende lywe ontmoet het my verering kry?

    JEREMIA 17:5
    So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk.

    Stof is hulle en tot stof sal almal terug keer.
    Ek heeltemaal teen sulke vereerings, maar sommige mense verdien krediet, maar nie opdie status van “goddelikheid” nie.

  7. Wolraad Woltemade en Racheltjie de Beer in ons kultuur was helde.
    Verering van wat deesdae?
    Ek verstaan glad nie hoe Miriam ‘n held is nie? Goeie sanger ja, maar gaan Johny Clegg se dood dan ook eendag halfmas vlae hier hê?
    Whats good for the goose must be good for the gander.
    Adrie maak ‘n geldige punt, dis baie keer die mense agter die skerms wat eintlik meer dapper is.

  8. Baie goed geskryf Ridder. Mense verheerliking is nou nie iets waaraan ek vat kan kry nie. En dis nie oor ek teveel VAN myself dink nie. Dis eerder omdat ek teveel VIR myself kan dink.

    Aan die ander kant, daar is darem so iets soos rolmodelle. Miskien moet ek vra wat is nou die verskil tussen rolmodelle en helde? Eersgenoemde is veronderstel om goed te wees vir kinders wat iemand soek om na te aap terwyl hulle groot word.

  9. Ridder praat mooi uit sy blik brein nè! Geldige stelling en ja, ongelukkig is on sop die stadium uitgelewer aan ‘n gesag wat eintlik mos gladnie demokraties is nie want die mense se insette word net in hul gesigte terug gegooi en outokratiese besluite word geneem! Maar terug by die punt ek vra weer:

    Moet ‘n held altyd dapper wees?

    Moet ‘n rolmodel altyd perfek wees?

    Onthou rolmodelle is ook mens – so ek gaan nie my rolmodel se foute na-aap nie maar ek sal graag wil sien dat sy / hy ook uit foute kan leer en vir ander sê moenie jy ook so fout begaan nie of wys vir die kinders wat rolmodelle van bekende mense maak dat daardie persoon nie perfek is nie en leer uit die foute! Daars baie klippe op die lewenspad – en jy het helemal te min tone om almal 4x in jou lewe te stamp!
    😉


Categories

%d bloggers like this: