Posted by: White Knight | Wednesday, 12 November, 2008

Die Mooi Kleed en die vodde.

Pastoor lewer vanoggend weer ‘n uithaler preek. Die getuienis vloei sommer uit sy mond oor wat hy al bereik het. Daar is omtrent nie ’n siekte wat hy nie al gesond gebid het nie en geen ongelowiges staan ’n kans as hy hulle eers beetkry nie.  Hulle gee sonder om twee maal te dink hul lewens oor te gee aan die “Verlosser”. Hier en daar kry sommige nog ’n “woord” ook net sodat hulle weet, dit kan net met jou goed gaan as jy ’n Christen is.

Dan is die diens verby en daar word afgekondig dat die bedrag wat benodig word vir die bou van ’n groter kerk nog nie behaal is nie, maar Pastoor weet die gemeente sal die geld inbring hulle wil mos nie die “werk” van die Here aan bande lê nie. Juis oor daar nog soveel mense daarbuite wat nie kans kry om Sondae by die Pastoor se dienste te kan uitkom nie.

Twee van die gemeentelede wag eenkant tot al die mense eers klaar vir Pastoor gegroet het voor hulle nader staan. Dan vertel hulle vir hom van ’n  belangrike man wat dalk die gemeente sal kan help met die bou van die nuwe en groter kerk. Hulle glo ook hy sal dalk die koste kan verlaag met sy kennis en kontakte in die bedryf. Pastoor knik instemmend, dis reg laat die man hom kom sien.

Gedurende die week wat volg kom verwittig die kantoor dame vir Pastoor dat ’n Direksielid van een van die handelsbanke ’n afspraak gemaak het om hom die volgende oggend te kom sien. Pastoor is sommer baie bly want die mense het hom mos vertel van die belangrike man en die hulp wat hy sal kan bied.

Die volgende oggend is alles in rep en roer om betyds reg te wees vir die belangrike besoeker. Tot die tuin is met ’n vergrootglas deurgegaan en Johannes het spesifieke opdragte om seker te maak dat niks verkeerd is buite nie. Net voor tien uur ry daar ’n ou bakkie deur die hekke en parkeer voor die kerkkantoor se deur. Soos blits is Johannes by en verduidelik verleë aan die man om sy voertuig te verwyder, dis darem plek wat gehou word vir die belangrike man. Hy moet sy bakkie aan die kant gaan parkeer.

Die man parkeer toe maar die bakkie agter die Kerk wil mos nie ’n verleentheid wees vir die mense hier as so belangrike persoon kom kuier nie. Hy dra ’n kakie broek en hemp en sy ou hoed kan jy sien dra die littekens van jare se ondervindinge en behoort al lankal vervang te gewees het. Daar is ook ’n lagie stof oor sy skoene.

Die kantoor dame sien die man en verneem of sy hom kan help? Hy antwoord dat hy nie ’n afspraak het nie maar baie graag vir Pastoor wil sien as dit moontlik is. Sy kyk hom met sulke ronde oë aan asof daar iets makeer. Hoe kan hy nie weet niemand sien Pastoor sonder ’n afspraak nie. Buitendien verwag Pastoor iemand belangrik. Sy beduie dat Hy kan sit en wag in die area langs die kantoor as hy wil, maar sy glo nie Pastoor sal kans kry om hom te sien nie.

Hy knik sy kop en stap verby tot in die wag area en gaan sit op een van die stoele. Na ’n hele ruk hoor hy hoe daar so gedruis opgaan toe die belangrike Direkteur opdaag, wel amper ’n halfuur laat maar die man is mos belangrik en baie besig, dis te verstane.

Kort na die aankom van Direkteur in sy duur Duitse Motor met die bestuurder wat buite wag, bring Johannes se vrou vir Pastoor en die Direkteur tee en fyngebak, die beste wat die gemeente se susters, soos  altyd maar doen. Dan word die deur toegemaak en hulle in vrede gelaat om darem oor die ernstige kwessie te vergader.

Toe Maria verbystap vra sy vir die Kakie man of hy ook iets wil drink ? Hy wil nie pla nie maar as dit nie moeite is nie sal hy dit waardeer, selfs ’n glas water is ook reg. Sy bring die tee en het sommer vir hom ook van die lekker gebak in ’n bordjie saamgebring en op die tafel neergesit.

Hy bedank haar en later toe sy die teegoed kom haal, vra hy of sy en haar man ook hier kerk bywoon Sondae. Nee antwoord sy, die kerk is vir die goeie mense en die ryk mense. Sy en Johannes loop maar kerk naby hulle huis in die Township. Dis beter daar, want die Here help hulle al het hulle nie ’n kerk nie. Hy maak nog elke week self die siekes gesond as hulle bid en vir Hom vra. Die Here seën hulle ook dat al kry hulle nie baie salaris nie kan hulle nog ander ook help.

Heelwat later kom die Pastoor en Direkteur uit die Kerk se sitkamer en groet mekaar hartlik en dan vertrek Direkteur in sy duur Duitse Motor met die bestuurder. Die kantoor Dame fluister vir Pastoor van die Kakie man wat al lank wag, maar hy beduie dat hy nie nou die man kan sien nie, hy is moeg. Sy lig die Kakie man in van Pastoor se besige skedule en dat hy liewer ’n afspraak moet maak, dan kan Pastoor hom dalk volgende keer sien. Hy knik sy kop en groet haar beleef voor hy na buite stap.

Naby sy bakkie sien hy vir Johannes besig in die tuin. Hulle wissel ’n paar woorde en dan groet hy voor die bakkie aan die gang proes en sluk en dan ry hy by die kerk se hek uit.

Jaar later preek Pastoor steeds in die ou kerk en na die diens kondig hulle weer af van die boufonds wat nog nie groot genoeg is nie. Direkteur het nog nie iemand kon kry in die bedryf om Pastoor se groter kerk te bou nie. Hy het immers daardie dag gekom om Pastoor te sien oor sy kind wat ernstig siek is aan kanker, juis oor iemand hom vertel het Pastoor maak die mense gesond.

Aan die buite wyke van die dorp in die  Township is daar groot vreugde vanoggend. Die pastoor en gemeente het rede om dankbaar te wees want hulle kerk, die eerste een met ’n dak en steen mure word vanoggend in gebruik geneem. Die Here het gesorg en vir hulle ’n weldoener gestuur wat nie net  die grond gekoop het nie maar al die ontwikkeling gedoen het tot die Kerk en die skool klaar was. Selfs die meubels is voorsien en hy betaal ook al die maandelikse kostes en pastoor se salaris dat hy voltyds kan bedien en nie meer bedags  in ’n ander kerk se tuin hoef te werk nie. Nou kan hy heeldag aan sy gemeente wy en nie net saans by die behoeftiges uitkom nie.

Tydens die verrigtinge vra Pastoor Johannes vir een van die besoeker of hy nie ’n paar woorde wil spreek nie. Die man met sy netjies pak klere lyk, volgens menslike riglyne, na ’n baie suksesvolle persoon.

Hy staan op en vertel aan die gemeente dat toe iemand vir hom sê om na ’n sekere kerk te gaan want ’n baie gelowige persoon daar het sy hulp nodig, het hy probeer om die Pastoor te sien terwyl hy in die omgewing besig was met ’n ander projek. Aangesien hy weens omstandighede met een van sy firma se werks bakkies daar aangekom het en sy kakie klere en velskoene sodanig vol stof was, het die ander mense hom probeer vermy. Maar een het verby dit gekyk en sy het nie gehuiwer om vir hom nie net tee te gee nie, maar saam die lekkerste gebak in mooi koppies en bordjies voorgesit.

Met haar geloof en die uitleef van God in haar lewe het sy alles wat hulle nou sien, daardie dag reeds betaal.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok 🙄 😆

Advertisements

Responses

  1. Gee daai Kleenex…

    Ware verhaal of fiksie, WK? Hoe dit ook al sy, ‘n pragtige storie wat mens laat dink.

  2. Dis ‘n baie mooi storie. Ek is nou skoon tranerig.

  3. Hi WK

    Dit is inderdaad so waar, hulle sê nie verniet “dont judge a book by its cover nie”.

    Laat dit nou maar weereens vir ons almal ‘n duur les wees.

    Toereldooeeeessss

    Demi

  4. Serves them right.

  5. Dankie Ridder. ‘n Ware inspirasie en so het Jesus ook aan die kruis reeds vir ons sondes betaal.

  6. Dagse Kuiergaste

    Boendoe
    Fiksie gebaseer op ‘n boodskap van moenie vir God vra om jou te seen en dan self besluit hoe die seeninge verpak moet wees nie.

    Groete

  7. Ridder
    Jy mag maar!
    Wat kan ek sê, behalwe dat jy ‘n gawe het om ‘n diep boodskap op verstaanbare wyse te deel.
    Pragtig en dankie!

  8. Goeiedag Ridder en gaste om die Ronde tafel.

    Dit is regtig ‘n besonderse boodskap!!!

    Ongelukkig is die deel waar van leierfigure in die kerkgemeenskap wat wel afkyk op persone se uiterlike en is die bou van ‘n kerk van meer belang as die red van verlore siele en werklike verspreiding van die Woord.

    Grootneus 😎

  9. Wow ek het hierdie inskrywing geniet! Ek stem jy mag maar!


Categories

%d bloggers like this: