Posted by: White Knight | Tuesday, 11 November, 2008

Kerstyd in die winkels

Nou onlangs stap ek met die twee Prinsesse in ’n winkel sentrum. Prinses wil toe by my weet wat se groot en groen ding is daar oorkant, so vol blink goeters. Ek verduidelik toe aan hulle dat dit die winkel se manier is om ’n boom voor te stel en een van die dae is dit Kersfees. Nou versier hulle die “boom” met die blink balletjies en liggies om die kopers in die Kersfees stemming te bring sodat hulle kan begin geskenke koop vir almal.

Dis toe dat ekself kyk na hoe die winkels al weer versier is en party gaan ten volle om die stemming te probeer oordra. Selfs Kersliedere en musiek begin al in sommige winkels speel. Stadig word mens bewus dat die jaar omtrent verby is en dis amper Kersfees.

Die winkels begin vroeg al met spesiale kers aanbiedinge en omtrent elke tweede advertensies is gerig op Kersfees.

Met die wat ek oor alles dink kom die stem van die oudste Prinses deur my gedagte gange gebreek en sy sê die volgende: “ Jesus hou nie van Kersbome nie”. Ek bly toe vir eers stil en reageer nie op haar stelling nie. Toe sê sy weer, “Dis mos Sy verjaarsdag, Kersfees en hy is nie onder ’n boom gebore nie, maar by die diere in die stal”

Nou ons het glad nie ’n Kersboom in die huis nie, maar sit wel mooi liggies in die huis aan oor Kerstyd, maar die stelling van haar het my laat dink. Hoeveel van ons besef nog regtig hoekom ons Kersfees vier. Gaan dit werklik oor Christus vir ons en wat Hy vir die mensdom beteken het of het die kommersiële sy van die gebeure ons nou al so oorweldig dat ons vergeet het wat die werklike rede is.

Selfs lande soos Japan vier Kersfees maar definitief nie vir die redes soos die Christen dit behoort te onthou nie. Nie almal is noodwendig Christene net omdat hulle in Suid-Afrika woon nie. Ook is almal nie op dieselfde vlak in hul geloof nie. Vir een groep is dinge rag solank dit reg lyk, die ander weier om deel te neem aan enige saak as dit nie 100% in lyn is met hoe sy kerk dit voorskryf nie.

Wat egter vir my uitstaan van Kersfees is Sy geboorte wat plaasgevind het, juis om vir ander iets te beteken. Hoeveel is ons bereid om vir ander te doen en beteken solank dit nie persoonlike opoffering vra nie. Ek moet dus nie in die proses te na gekom of tekort skiet nie.

Ons koop geskenke, maar sodra die etes klaar is en elke een ry in sy of haar eie rigting, hoeveel neem hulle saam om iets vir hulle te beteken behalwe dit wat uit blink papier gekom het en dalk in die haas nog die prys etiket aan vergeet is. Die ander gedagte gaan oor hoeveel kinder neem hierdie jaar ’n welverdiende ruskans maar Oupa of Ouma bly alleen agter in die tehuis? Dis hartseer maar harde werklikheid.

Wat maak Kersfees spesiaal vir jou en die geliefde en vreemdes om jou. Al wat ek weet is dat ons dalk minder voorwaardes aan ons gee, moet koppel en dit nie net beperk tot die kommersiële sy daarvan nie, maar dalk moet besluit om meer van onsself aan ander te gee.

Wat beteken dit en die simboliek van Kersfees vir julle. Hoe kan elke een meer vir ’n ander beteken.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok 🙄 😆


Responses

  1. In baie families is daar gewoonlik ‘n bakleiery oor wie gaan waar wees met kersfees.

    Ek is op my gelukkigste as ek en my man en ons kinders bymekaar is. Om vir mekaar liefde te gee en dan natuurlik ons tyd om daardie dag saam te spandeer, want ons kry maar min tyd saam deur die jaar. Ons hou ook daarvan om vir die kinders iets spesiaals te gee wat hulle nie noodwendig deur die jaar sou kry nie, net om vir hulle te wys hulle is baie spesiaal. Ek en my man koop gewoonlik nie vir mekaar iets vir kersfees nie. Ons koop wel iets groots wat ons graag vir die huis wil hê.

  2. Ja, Kersfees is vir my spesiaal omdat dit die een tyd is dat ons almal saam kan wees. Geskenke…ja, die kinders kry geskenke, maar van vanjaar af gaan ons afskaal daarmee. Op die ou einde begin hulle eise stel en elke jaar moet dit groter en beter.

  3. Ek gaan voluit met Kersfees. Ek is mal oor geskenke en die hele gees van Kersfees. Ja, ek spandeer der duisende aan Kersfees. Ek is een van ‘n gesin van 6 en daar is boonop ‘n amper skoonsuster. Ek kan ook nie net by my ma’le afpak sonder om my deel te gee nie. (Wel ek kan seker, my ouers sal nie omgee nie, maar dit is darem nie reg nie.)

    Kersfees het vir my drie bene wat in mekaar gevleg is. Jesus, familie (wat geskenke insluit) en liefdadigheid. Dus gaan ek kerk toe en onthou hoekom daar Kersfees gevier word. Ek spandeer tyd met familie en gaan GROOT met liefdadigheid.

  4. Dit is vir ons familie tyd sonder selfone en email en net balspeel op die strand of bergklim en nie omgee hoe laat dit word nie.
    Rustyd. Met geskenke wat elkeen graag wil hê. En baie kos! 🙂

  5. WK – net iets op die stelling wat Prinses gemaak het met betrekking tot die Kersboom en dat Jesus nie van Kersbome hou nie, dat dit Sy verjaarsdag is en dat Jesus in ‘n stal gebore is.

    Dit was nog altyd vir my baie belangrik dat my kinders nooit die werklike betekenis en viering van Kersdag moet “vergeet” nie en net aan die heerlike verassing van kersgeskenke moet dink nie. Derhalwe het ek altyd onder die Kersboom ‘n “Nativity” uitbeelding – die stal, die diere,Jesus in die krib met Maria en Josef en die wyse manne – veral die kleiner kindertjies wat dan kom kuier vind dit baie amuserend – en die storie van die geboorte van Jesus moet dan oor en oor vertel word. So sien ons dan nie net die kommersiele voorstelling van Kersfees raak nie (die boom) maar word ons herinner waaroor Kerfeesdag eintlik gaan.

  6. Reason for the season: Jesus is better than Santa

    Santa lives at the North Pole: JESUS is everywhere
    Santa rides in a sleigh: JESUS rides on the wind and walks on the water
    Santa comes but once a year: JESUS is an ever present help
    Santa fills your stockings with goodies: JESUS supplies all your needs
    Santa comes down your chimney uninvited: JESUS stands at your door and knocks and then enters your heart
    You have to stand in line to see Santa: JESUS is as close as the mention of His name
    Santa lets you sit on his lap: JESUS lets you rest in His arms
    Santa doesn’t know your name, all he can say is “Hi little boy or girl, What’s your name?”: JESUS knew our name before we did Not only does He know our name, He knows our address too He knows our history and future and He even knows how many hairs are on our heads
    Santa has a belly like a bowl full of jelly: JESUS has a heart full of love
    All Santa can offer is HO HO HO: JESUS offers health, help and hope
    Santa says “You better not cry”: JESUS says “Cast all your cares on me for I care for you
    Santa’s little helpers make toys: JESUS makes new life, mends wounded hearts, repairs broken homes and builds mansions
    Santa may make you chuckle but: JESUS gives you joy that is your strength
    While Santa puts gifts under your tree: JESUS became our gift and died on the tree
    It’s obvious there is really no comparison. We need to remember WHO Christmas is all about.

  7. Knight ek gaan groot met kersfees, liggies, Nativity scenes, ons sit dan ook elke jaar vir die klein kinders die kersverhaal dvd op voor ons geskenke uitdeel. Die doen ons oukers aand. Kersdag word stil gevier. Baie lekker kos. Liefde, geluk en omgee. Almal is mos altyd in ‘n vriendelike bui oor kersfees! :mrgreen:

    My kinders is nou al groot maar ek kan darem sê dat hulle nog altyd geweet het waaroor kersfees regtig gaan.

    Baie mooi stukkie Plaaspad!

    Lekker kersfees vir jou en jou geliefdes Knight!

  8. As ek eendag kinder van my eie het, sal ek advent by die huis inbring. Dit maak Kersfees 4 weke lank en konsentreer op die ware boodskap.

  9. Dagse Kuiergaste

    Soos Sapphire Gem, Boendoe en Carina tereg opmerk is dit die geleentheid om aandag te gee aan familie en saam tyd te spandeer. Die prys en groete van geskenke moet nie die rede oorheers nie.

    Sharona, jy is reg as mens die korrekte boodskap oordra, is al die ander dinge net bydraend om dit nog meer spesiaal te maak. Sulke blink kinder ogies by so geleentheid is altyd sonder ‘n prys en verhewe bo enige iets anders.

    Wipneus, ekke ken van daai fees vieringe oor Kersfees uit my kinder dae al. Ridder se ouers kon ook die tafels so oorlaai met kos. Vandag is dit nog steeds so, al is hulle nie meer met ons nie.

    Adrie, hmmm, is jy dan nog self vir kinders? 😉 Koes Ridder nou agter sy skild in. 😆

    Plaaspad
    Baie dankie vir daai aansluiting en bevestiging van die boodskap dit is uitstekend. Baie welkom ook hier by die ronde tafel, hoop ons sien jou meer gereeld in die toekoms.

    Groete

  10. Toe seun nog klein was, het ons ook groot gegaan oor Kerstyd met versierings en al daai dinge. Die laaste paar jaar het dit nie meer so groot uitgekom nie, dit was lekkerder om net bymekaar en goeie vriende te wees oor die tydperk.

    Hierdie jaar gaan dit ekstra spesiaal wees, omdat ons hom so lank laas gesien het. Ek dink ons gaan die samesyn baie meer waardeer as voorheen, veral omdat die moontlikheid daar is dat ons dit dalk nie volgende jaar saam sal kan vier nie. En hierdie jaar is daar ander kiddies vir wie ons dit ook spesiaal wil maak.

    Ek het dus ‘n afwagting en opgewondenheid binne my, wat ek lanklaas ervaar het. En ons sal onthou waaroor Kersfees eintlik gaan.

    Dankie Ridder, dit was ‘n mooi stukkie, en Plaaspad – daai kommentaar van jou is vir my baie besonders. 😉

  11. Is dit ‘n kompliment of ‘n belediging as ‘n ridder vir jou bang word?

    Ek beskou dit as ‘n kompliment. 😆

  12. Dit is nou die eerste Kersfees dat my dogter en haar familie nie by die huis gaan wees nie. My skoonseun het elke jaar ons huis so mooi met kersliggies versier – binne en buite. Vele mense het voor ons huis gestop en ons gekomplimenteer. Ons oorweeg nog of ons die liggies hierdie jaar gaan opsit.

    Ek beplan om twee oumensies by die oue tehuis wat niemand het nie, die dag te nooi vir ete en gelukkig is my seun en sy familie nog hier.

    Plaaspad, dankie vir ‘n baie besonderse stukkie leesstof.

  13. Linda ~ is wonderlik van jou om oumensies te wil nooi, ek is seker hulle sal dit baie waardeer.

    Ek kan gelukkig met trots sê dat my laaitie weet waaroor Kersfees gaan en dat dit niks met kersbome en geskenke en sulke goed te doen het nie. Nie dat dit beteken hy wil nie geskenke hê nie! My ouers het vir my ‘n Bybel vir Kersfees gegee met my eerste skooljaar en is dit ook omtrent een van die enigste kersgeskenke van my kinderdae wat ek nog het en waarvan ek onthou. My laaitie is mos hierdie jaar skool toe en sy Bybel is reeds toegedraai en gereed vir Kersfees. Ek hoop en glo dat hy dit net soveel sal waardeer.

  14. Ek’s versot op die tyd van die jaar. Ons weet waaroor dit gaan, ons was immers elke jaar van kleintyd af vertel oor die geboorte van Christus ens.
    Wat is kersfees sonder ‘n uitbeelding van Jesus in die stal?
    Maar ek’s bevrees met tyd is dit nie meer so belangrik nie, net die feit dat familie weer kan saamkom en geskenke uitruil.


Categories

%d bloggers like this: