Posted by: White Knight | Wednesday, 5 November, 2008

Egskeiding en die dinge rondom dit.

Egskeiding en die Bybel

Sodra jy die woord Egskeiding hoor of gebruik spring mense onmiddellik in verskillende kampe en elke een het ’n opinie rondom die saak. Die Tradisionele kerk siening is natuurlik jy mag nie skei nie en iedere en elke skrif gedeelte word aangehaal uit die Bybel om jou te oortuig dat dit sonde is en jou gaan in die hel laat brand tot die spoeg spat en selfs as die spoeg klaar is nog laat brand.  😯

In sommige kerklike groeperings en denominasies sal die wat skei natuurlik onder sensuur geplaas word en gevolglik verbied word om selfs Nagmaal te gebruik. Jy is mos nou heeltemal van sonde deurdrenk en totaal verlore.

Die Bybel het egter ’n hele paar verwysings na die onderwerp van egskeiding. In die tyd van Moses het die skeibrief die eerste keer by die Joodse volk of Israeliete ter sprake gekom. Dit word gesien in die gesprek met Jesus Christus en die vraag is gevra oor die skeibrief.

Matteus 19:7 Hulle sê vir Hom: Waarom het Moses dan beveel om ‘n skeibrief te gee en van haar te skei?

Christus ontken nie hier dat die skei brief wel bestaan nie, maar Sy antwoord werp in die volgende verse egter meer lig op die saak. Hy verduidelik aan hulle die rede waar onder dit wel toegelaat is nl.

Matteus 19: 8 Hy antwoord hulle: Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie.

Matteus 19: 9 Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ‘n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.

Die hele kwessie van Egskeiding gaan dus in meer as een opsig oor die hardheid van die mense se hart. Daardie deel in jou wat weier om ’n ander te vergewe. Christus self meld dat Egskeiding wel geoorloof sou wees in die geval waar owerspel plaasgevind het, maar soos gister reeds verwys is, het Hy ook die mense wat die vrou wou aankla daarop gewys dat niemand sonder sonde is nie en geensins geoorloof is om ander te oordeel nie.

In terme van die Bybel se weergawe ten opsigte van Christus se leerstelling oor Egskeiding is daar absoluut geen regverdiging daarvoor nie, maar sleg die mens se onvergewensgesindheid wat dit noodsaaklik maak.

Kyk ons egter na die Bybel vêrder sien ons dat God die Huwelik tussen Man en Vrou in baie gevalle gebruik as voorbeeld van die verhouding tussen die volk en God self. Hierdie verhouding moes onder die ou bedeling suiwer gehou word en is deur die optrede van die volk binne of buite God se opdrag geskaad of nie.

Soveel het God die band tussen Hom en Sy volk, die Israeliete, in dieselfde lig gesien as die Huwelik dat Hy in tye wat hulle afgode aanbid het daarna verwys het as hoerery met afgode en gevolglik Sy afkeur te kenne gegee as dat Hy hulle die skeibrief sou gegee het.

Jesaja 50:1 So sê die HERE: Waar is tog die skeibrief van julle moeder waarmee Ek haar verstoot het? Of wie is daar van my skuldeisers aan wie Ek julle verkoop het? Kyk, weens jul ongeregtighede is julle verkoop, en weens jul oortredinge is julle moeder verstoot.

Jeremia 3:8 En Ek het gesien toe Ek uit oorsaak van die owerspel van die afkerige, Israel, haar verstoot en haar, haar skeibrief gegee het, dat die ontroue, haar suster Juda, nie bevrees was nie, maar gegaan en ook self gehoereer het.

Ons sien ook dat Hy hulle selfs gestraf het in sommige gevalle, deur hulle selfs te laat wegvoer in ballingskap. Dis egter ’n gesprek op sigself. Sodra die volk egter opreg berou gehad het, het Hy hulle vergewe en weer die band met hulle herstel. Sien God kan vergewe as mens opreg berou het ’n eienskap wat die mens geweldig mee sukkel in die lewe.

Moet ek dan toelaat dat ander my vertrap?

Daar is egter ’n baie groot verskil tussen God se opdrag en jou Christelike beginsels uitleef teenoor om sommer toe te laat dat ander jou en dit wat vir jou kosbaar is vertrap. Sien selfs God het nie toegelaat dat die Sy volk hul verhouding met Hom verniel en vernietig nie.

Dus sou enige persoon ’n ander fisies of sielkundig verniel sonder waarlik berou en regstel asook verandering, is dit nie aanvaarbaar nie en sal ek vir een glad nie so persoon wat skei veroordeel nie. Voor jy my nou wil oordeel oor ek dan sou Egskeiding goed praat of promoveer, dink net vir ’n slag aan die vrou wat by die Dominee sit en hy sê vir haar, “Al rand jou man jou aan of dreig jou met ’n vuurwapen, God se woord sê jy mag nie skei nie dis sonde.” Twee weke later begrawe diesélfde predikant dié vrou omdat haar man haar dood veroorsaak het toe hy haar weereens aangerand het.

Onthou om getroud te wees beteken julle sal mekaar liefhê, beskerm, versorg en nooit verstoot nie. Dus indien jy die dinge nie nakom nie is jy as mens reeds skuldig. Sonder berou en permanente verandering, wat slegs deur God se hulp bereik word sal jy nie lank in ’n huwelik bly nie.

Die wetlike deel van Egskeiding.

Die wetlike sy van Egskeiding is natuurlik heeltemal vêr verwyderd van die Bybel se sienswyse. Onder die Suid-Afrikaanse reg hoef partye net te verklaar dat die huwelik onherstelbaar verbrokkel het om die hof te nader en sodoende die huwelik te laat ontbind.

Self al sou een van die partye beweer dis nie so nie het jy nie ’n keuse nie, op die mees uiterste kan jy dalk die proses uitrek, maar stop gaan jy nie. As een party wil skei gaan geen Hof, hom of haar, dwing om binne die huwelik verbind te bly nie.

Tragies maar waar, mense hoef nie soos in sommige ander lande eerste vir ’n tydperk apart te bly of verpligte berading ontvang nie en eers na die verslae ingedien is, sal die hof besluit of hulle mag skei.

Ten slotte

Daar is baie wat nog geskryf kan word en al geskryf is oor dit, maar die kern van dit alles bly, jy mag nie ander oordeel nie. Al sou enige persoon alles in die stryd werp, maar die huweliks maat wil niks weet nie dan sal hulle skei. Dis die werklikheid ten opsigte van die wetlike beëindiging van ’n huwelik wat in baie gevalle nooit eers met God se seën begin het nie.

Die feit is egter dit gebeur en mense wat skei het ondersteuning en hulp nodig. Nie die veronregte vriendin of vriend wat hulle aanhits tipe nie. Die wat aanhits om die ander een sovêr moontlik kaal uit te trek, omdat dit daardie een se straf en verdiende loon is. Hulle het gewoonlik self n geraamte of onverwerkte sake in die agtergrond. In baie gevalle waar huwelike nog ’n kans op herstel het, is sulke mense gewoonlik die spreekwoordelike finale spyker in die kis oor hulle negatiwiteit en gekarring. 👿 😥

Nee wat, jaag hulle by voorbaat weg. Omring jou met positiewe en nugter denkende mense wat jou kan help om die krisis te verwerk en hanteer. Die proses van Egskeiding moet nooit gaan oor wraak nie, maar ongeag die omstandighede, behou jou menswaardigheid.

Dit raak nie net jou en die ander party nie, julle kinders as daar is, asook beide families en vriende word deur dit geaffekteer.

Een van die groepe is natuurlik die kinders en volgende sal daar gekyk word na die gevolge van egskeiding op hulle.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varhok. 🙄 😆


Responses

  1. Goeie inskrywing, WK.

    Baie keer skei mense vir die verkeerde redes. Soos omdat hul huwelik nie meer passievol is nie. Of hulle is bloot geirriteerd met die ander een. Ek glo vas dat daar nog salf te smeer is aan sulke huwelike.

    Dis natuurlik ‘n ander saak as jy in ‘n huwelik is met iemand wat jou (en jou kinders) emosioneel of fisies verrineweer.

    Ek het persoonlike ervaring van albei gevalle. My ma het vir 26 jaar by my pa gebly omdat sy geglo het dis sonde om te skei. Ons kinderlewe was eintlik maar nag, omdat hy so onstabiele mens was. Mens kon nooit weet wanneer hy sou ontplof nie.

    Aan die ander kant is ek geskei uit blote kriewelrigheid uit. Ek het ‘n goeie lewe saam met my eks gehad. Hy was ‘n liefdevolle pa en man. Ek is vandag baie gelukkig getroud, maar die skuld en selfverwyt oor wat ek my kinders aangedoen het, sal vir ewig bly.

    Skuus, nou het ek ‘n opstel hier by jou kom skryf!

  2. Knight soos altyd ‘n goeie inskrywing!

    Ek sien baie seerkry in egskeidings!

  3. Hallo White Knight

    Jou inskrywing is deurdag en loop in lyn met my oom Krap se perspektief.

    Ongeag wie of wat die oorsaak is, almal kry seer, almal.

    Egskeiding is so goed soos dood.

    Emma

  4. White Knight

    Hallo. ek loop dae reeds met my eie worsteling en soos ek toe nou onbeplan gelei word beland ek toe eerste op jou blog. jy het heelwat punte aangeraak waarmee ek worstel en ek dink ek het ‘n goeie antwoord gekry.

    groete

    Berdine

  5. Berdine, welkom.

    Ridder, baie goeie post soos altyd. Baie dankie.

  6. Dankie Linda

    groete

  7. Dagse aan al die Kuiergaste

    Boendoe dis heeltemal waar dat mense deur tradisie en geloof meer skade aanrig as goed aan hulself en kinders. Baie huwelike kan gered word as die mense net hulp kry.

    Emma Dixon
    Dankie vir jou kuier ook hier en jy is absoluut reg niemand stap ongeskonde uit ‘n egskeiding nie.

    Berdine
    Welkom hier sien Linda was so gaaf om jou tuis te laat voel. Dankie ook vir jou Linda. As daar net een persoon is wat voel die skrywes is vir hulle van nut dan is ek tevrede en die arbeid nie verniet nie.

    Groete

  8. Hi,

    Ek lees nou wat elkeen skryf. Ek het na 8 jaar besluit ek stap uit genoeg is genoeg. Maar ai die seer wil nie weg gaan nie. Ek was met ‘n drank verslaafde getroud (hemel alleen weet ek het al die gevaar tekens gesien maar nogsteeds met hom getrou. Dit was die wonderlikste dag in my lewe, net jammer hy het nie dieselfde gevoel nie. (so sè hy vir my. Drank, die gevloek verneedering voor mense en vriende het net te veel geword. Hoe gaan ek ooit reg kom. Dit is soos vandag. Ek sit my oë en uithuil en hoekom? Dalk sal ek later verstaan maar op die oomblik verstaan ek glad nie. Hy is na 1 maand in ‘n verhouding en trou glo Januarie 2009.

  9. Ek is self deur `n egskeiding en moet saam stem dat dit werklik soos die dood is baie hartseer gaan daarmee saam.Maar as twee mense nie meer liefde vir mekaar het nie is dit die enigste uitweg.

  10. White, ek hou van jou inskrywing omdat dit nie oordelend is nie en weerspieël wysheid.


Categories

%d bloggers like this: