Posted by: White Knight | Saturday, 1 November, 2008

Skrywes en onderwerpe

Om te skryf of nie.

Die dag toe Ridder die besluit neem om wel met ‘n blog te begin, het ek my voorgeneem om ook met tye sekere onderwerpe aan te raak. Die skrywes mag dalk nie in almal se smaak val nie, soms bietjie skaaf aan sienswyses of selfs irrelevant wees wat party mense aanbetref. Die keuse bly by elke een wat hier aandoen om dit te lees of nie, die inligting te gebruik, verwerk of dood eenvoudig net te ignoreer. Almal is welkom om hul eie siening oor ’n saak bekend te maak onder kommentaar of selfs per e-pos aan die Hawe hoof te stuur. Enige skrywe wat ontvang word en relevant is, sal ek self plaas soos met Siele, Seer en Trauma vroeër die week, met dank aan Sapphire Gem. 😉

Arabier het die ding begin om na die Ronde Tafel te verwys waarby almal kuier hier in die Hawe. Dit is natuurlik korrek want hier is almal gelyk, jy is wie jy is en jou opinie geld, maar omdat almal gelyk is bring dit ook verantwoordelikheid om mekaar met respek te behandel en elke een se opinie te verdra met die nodige volwassenheid.

Iets wat die Ridder persoonlik baie na aan die hart lê is mense en hul welstand. Daardie welstand wat nie alleen gemeet kan word in Rand en Sent nie. Persoonlike gemoedstoestand, fisiese en geestelike welvaart as ’n geheel. Dit is ook deel van die beplanning agter sekere skrywes oor onderwerpe wat mense in hul alledaagse handel en wandel mee te doen kry. Eerstens wil ek net weer beklemtoon dat ek nie ’n kenner is op al wat ’n gebied is nie. Maar my doel is juis om mense sovêr te kry om bewus te wees van die dinge en hul gedagte gang te verander sodat hulle deur ander se deelname en eie navorsing en studie, meer oor die onderwerpe leer en hulself bewapen met kennis.

Kinders se gereedheid vir die grootmens wêreld, emosionele volwassenheid is nie iets wat jy kan koop nie. Omstandighede rakende werk wat almal ’n effek het op ons en die mense om ons ens. Een van die onderwerpe is Egskeiding en die trauma rondom dit, die effek op die mens self asook en veral die kinders sou daar wees.

Vanoggend basuin Beeld se opskrifte natuurlik die nuus “Steve skei” Onmiddellik maal hordes gedagtes deur my verstand. Die wat die SSSB gelees en selfs deelgeneem het, sal weet dat daar op ’n stadium die “morele polisie” ontstaan het wat hulself die eksklusiewe reg toe geëien het, om alles omtrent Steve aan die groot klok te hang en dit wat hulle nie weet nie uit te snuffel op elke moontlike manier sodat hulle die hele wêreld kan oortuig van sy “boosheid” Hierdie het ook aanleiding gegee tot die reeds bekende slak en parra gevegte. 😡

In my eie opinie ’n onnodige en onsmaaklike episode wat deur sekere enkelinge begin en aangeblaas is. Hierdie enkelinge het beide die SSSB en and blogs gebruik om ’n persoonlike vendetta teen ander te voer en in die proses het verskeie mense onnodig betrokke geraak. Dit het ’n lekker kuier plek ontsier en n wrang smaak gelaat.

Die “morele polisie” hou seker die naweek ‘n feesmaal en brassery ter viering van hul oorwinning. Want dis mos wat gesê is al by verskeie geleenthede, dat hulle nie sal rus voor Steve en Natasha geskei is nie en hy kry wat hom toekom. Baie kortsigtig om die minste te sê. Natuurlik sou hulle wel skei, kan hy mos daarna maak wat hy wil, wel volgens die standaard van die morele polisie, wat reken as jy nie getroud is nie kan jy saam wie en wat, wanneer en hoeveel keer jy wil jy is mos nie getroud nie.

Wel na bewering gaan hulle nou skei, maar onthou een ding, Satan is ’n vuilgoed, sodra hy jou klaar gebruik het om ander te benadeel, gooi hy jou vir die wolwe. As jy oor ’n ander se seerkry jou verlustig moenie te lank besig bly met jou feesvieringe nie, jou dag van smart is naby. 😯

Beplan ek met die verwysing om weer die hele ou geveg ook hiernatoe te laat oorloop? Nee, geensins nie, dis onsmaaklik en geheel en al onnodig. Die enigste rede hoekom ek hierna verwys is bloot omdat dit prominent aangeblaas word en aansluit by die onderwerpe van skrywes wat beplan word en vorentoe hul weg na die Hawe blog mag vind. Die onderwerp in die geval is en bly egskeiding en al die seer en trauma rondom dit. 😥

Dis nie ‘n maklik saak nie en in ag genome al die gebeure rondom dit, baie duidelik hoekom GOD egskeiding haat. Geensins wil ek nou begin om mense wat skei of geskei is te oordeel en verdoem tot die donkerte buitenste duisternis van die hel nie, allermins. Die oogmerk is om mense sovêr te kry om te dink oor dit en bestaande tradisies te bevraagteken sodat hulle beter kan verstaan waardeur ander gaan wat wel deur dit beïnvloed word.

Regte seer, hartseer en die onderwerp is sinoniem. Jou aansien en postuur in die samelewing kan jou op geen manier verskans teen dit nie, inteendeel, soos met Steve, het dit juis vir hulle dit moeiliker gemaak, omdat hulle nie toegelaat word om dit privaat te verwerk nie.

Dus wil ek vandag afsluit met ’n boodskap aan ieder en elk wat met trauma en seer van die lewe gekonfronteer word. Staan sterk en gaan soek hulp, mense om jou te ondersteun, omring jou met die positiewe en vermy negatiewe mense en dinge. Wat jy nou besluit gaan ’n invloed hê op jou en die saam jou se hele lewe vorentoe. Neem daardie besluite met ‘n helder verstand en nie uit wraak nie. Want wraak gaan bitter en leeg raak later en jou net kom jaag. Hou jou kop hoog en behou jou selfrespek en menswees.

Sterkte en weet julle is nooit alleen nie.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok. 🙄 😆

Advertisements

Responses

  1. Whoa Ridder! Staande ovasie vir jou! Pragtig gestel, absoluut pragtig!!!

    Jip, nou gaan hulle lekkerkry 😦 uit ander se pyn. Daardie arme kinders!

    Van die punt af – hoe vlieg mens uit ‘n hawe uit?

  2. WK, ek het nog nie eens die Beeld onder oe gehad nie. Wow! Wat vertel jy my. Steve gaan wel skei? Sal netnou gaan lees.

    In elk geval, ek stem saam met jou. As iemand wat reeds deur ‘n egskeiding is, sal ek dit nie my grootste vyand toewens nie. Behalwe vir die trauma wat die man en vrou ervaar, is die ellende waardeur kinders gaan, iets verskrikliks.

    Ek sou graag wou sien dat mense wie se huweliksbootjie wankel, al die hulp in die wereld kry om te red wat te redde is. Ongelukkig het bekendheid sy prys. Ek dink dit moes vrek moeilik vir die Hofmeyr-gesin wees om enigiets te kon red, want die media-sirkus het hulle vierkantig in die spotlight gesit.

    As daar wel mense is wat hul daarin verlekker, is daar nie veel wat mens daaraan kan doen nie. Al wat ek weet, die wiel draai. Vir almal.

    En ja, (van die os op die trekker) dis inderdaad ‘n ‘veilige hawe’ hier by jou. Thanks!

  3. Ek het vanoggend hier en daar gelees en natuurlik kry “daai” mense lekker. Mens moet hulle eindelik jammer kry want hulle moet die res van hulle lewe met hierdie swartkant van hulle saamleef. Die ergste is dat hulle nog nie klaar is nie. Hulle het geen einde nie. 😦
    Ek is jammer maar hierdie is nie vir my normale gedrag nie. Hoe kan jy sukses bou op ‘n ander se hartseer??????

    Egskeiding is baie hartseer! Ek sal dit nie eers my groostste vyand toewens nie.

    Dankie vir hierdie inskrywing Ridder.

  4. Ridder, hoe reg is jy nie vandag nie, eers het hulle ons lewe lekker versuur daar op SSSB met hulle onnodige en ongevraagde kommentaar.

    Nou verlustig hulle hulle self seker in die lekker kry. Ek hoop nie dit gebeur eendag met hulle nie.

    Ek kry die H familie baie jammer. Hoe kon hulle nog staande bly deur al die trauma wat hulle moes deurmaak as gevolg van sulke mense.

    Sterkte vir hulle deur hierdie moeilike tyd wat hulle nou deurgaan en ek bid en hoop dat die KINDERS ok sal wees!

  5. Ridder,al wat ek hierop kan en wil sê, is dankie vir die veilige hawe. Jy as Hawe Hoof raak soveel mense se lewens met die stabiliteit wat jy bied in jou skrywes.
    Doen so voort!
    Ons kan maar net die Hofmeyr gesin en al die naaste mense aan hulle, opdra aan ons Hemelse Vader vir krag en insig.
    En die miljoene ander mense op aarde wat ook deur dieselfde trauma gaan.
    Ja, dit is nie lekker nie. Vir nie een van die partye nie en die minste vir die kinders betrokke.
    En dan moet ons ook bid vir die wat hom so aanval.Hulle is maar net instrumente in satan se plan om alles wat heilig is, met sy vuil hande te bemors. Bid dat hul ook tot insig sal kom!

    Grootneus 😎

  6. Hallo White Knight

    Dit vat meer ‘guts’ om te skei as om in ‘n verhouding te bly waar jy jou siel uitverkoop dag na dag. As vertroue eers wegval en jy aanhou probeer om net nog ‘n keer agter te kom jy is vir ‘n gek gehou, is jy dit aan jouself en jou kind(ers) verskuldig om weg te stap.

    Aan die einde van die dag is die atmosfeer in ‘n huis vol hartseer meer skadelik vir ‘n kind.

    Emma.

  7. YES YES YES!!!
    ‘n Splinternuwe begin vir SA!!!!

  8. White Knight, dit is soos Arabier skryf – jou inskrywings word met stabiliteit hier geplaas – daarby wil ek byvoeg word dit ook altyd in perspektief en met omsigtigheid gedoen – die ervaring is dat die waters in die hawe kalm is en het dan ook soortgelyke effek.

    Ridder, ek wil dit beaam dat die “Morele Polisie” wat die “teen Steve aksie” geloots het en bygedra het tot die totale verbrokkeling van die Hofmeyr huwelik nou uit die duiwel se oorwinnings beker sit en drink. MAAR, deesdae draai die wiel baie vinnig – neem maar net waar hoe hierdie situasie hom gaan herhaal – hierdie keer gaan die situasie net omgekeer word – die maatreel wat daargestel is deur die instigeerders gaan boemerang en die skinderbekke wat die stories aangedra het asook diegene wat veroordeel het gaan voor dieselfde deur te staan kom. Die gewillige meisies trap nou bo-oor mekaar in die wedvlug om geld te maak deur hulle stories te vertel aan die betrokke joernaliste (sekeres wat deel uitmaak van die “Morele Polisie”) van spesifieke koerante/tydskrifte, maar aai tog, die meisies is baie naief. Joernaliste is soos verkleurmannetjies en het ‘n paar “verkleur” tegnieke waarmee die meisies lelik “geflous” kan word. Hierdie einste verkleurmannetjies wag angstig vir soortgelyke “bagasie” om op die bagasie vervoerband verby te kom, dan pas hulle die verkleurmannetjie tegniek toe – die naam van die hoofkunstenaar sal heel moontlik net verander.

  9. Hi daar julle,

    Ek kan eending sê my hart gaan opreg uit na Steve en Natasha en sy kinders. Ek hoop en bid dat die wat so uit hul pad gaan om Steve totaal te vernietig (en ons almal weet presies wie agter dit sit) sal hul dag kry en ek hoop dit gaan gouer wees as wat ons dink. Wat my die meeste pla is dat mnr. PK. lankal op sy blog verkondig dat hy die meisies opgeline het om te kom “sing” wie sê dat die meisies nie nou omgekoop word om so na vore te kom nie, vir my lyk hulle maar baie dom en sal so iets doen vir ‘n goeie bedraggie, daardie eerste meisie se storie was vir my te onsamehangend en maak nie juis veel sin nie, die tweede een wil glo niks met die storie te doen hê nie dit is haar suster wat die storie wil verkoop aan die een wat die hoogste bod maak, nl. Huilgenoot. Hoor wat ek julle sê hier is iets wat stink in al hierdie stories, veral as jy sien wie die click is wat agter alles sit.

    Maar ek glo die Here slaap nie, die duiwel dink hy is nou een voor, maar ek glo nie so nie iewers gaan daardie gemene spul hulle lelik vasloop.

    Ek kannie eers my gevoel van walging vir die gedrag van PK. en sy handlangers beskryf nie. Ek wil nie eers Y.B. van SONDAG se naam hoor of noem nie sy maak my siek.

  10. Hierdie nuus in die Rapport gister het my nou nie juis soos olifant spuitpoep teen die bors getref nie.
    Alle hartseer en trauma ten spyte, hoekom het die man sulke twak aangejaag! 😦
    Man, ek is sommer die hel in vir hom.

  11. Goeiemore julle

    Ek kom lees gou hier en moet darem net ‘n regstelling kom maak. My inskrywing Sat was geensins op die Hofmeyrs gemik nie, MAAR oor die nasionale konvensie en wat daar bereik is. Dis ‘n blye dag in SA, vir ons almal. Veral aangesien einste Steve ook hierdie droom gehad het.
    Sy baklei is uiteraard vir nou eers gedemp MAAR ek glo werklik indien ons almal soos Angus Buchan sê “ons oë op God rig” hierdie nasie (almal in SA – ook die Hofmeyrs) sal genees.

  12. Hallo alle bloggers.

    Ridder, ek wil ook net dankie sê vir die veilige hawe wat jy vir ons bied. Dankie vir jou insiggewende posts en dat jy my lewe daardeur verryk.

    Ek was Donderdagaand by ‘n show van Steve en dit was meer as uitstekend. Ek het hom so jammer gekry maar ook bewonder dat hy sy leuse uitleef dat “the show must go on”.

    Ek keur nie goed wat hy gedoen nie maar ek het Donderdagaand weereens gesien hoe goedkoop vroumense hulle kan maak en dan kan ek verstaan hoekom hy as mens (net soos ek en jy) aan die versoekings toegegee het want dit word uit alle oorde op ‘n skinkbord vir hom aangebied en dan wil die girls agterna koerante en Huisgenoot toe hardloop. Al die girls weet dat hy getroud is en ja wat het die jongste flossie nou eintlik bereik? Net haar naam geruk.

    Ek het ook die naweek sy boek klaargelees en my bewondering vir Steve Hofmeyr is net groter.
    Vir my is hy maar net ‘n mens wat onder die versoekings gevou het en ek kan hom en sy familie net aan ons Hemelse Vader opdra en vra dat Hy hulle in hierdie tyd saggies sal naderhark en hulle styf teen Sy bors sal vashou.

    Sterkte Steve, Nathasa en seuns.

    Sammi, ek is ook opgewonde oor die nuwe konvensie en veral in ekstase dat hulle Helen Zille so op die hande gedra het (na aanleiding van artikel in gister se Rapport). Hier kom ‘n ding. Ons burgemeester ook ‘n Lekota-man, het die ANC bedank en het in ons plaaslike koerant gesê dat burgeroorlog nie uitgesluit is nie.

    Lekker dag vir julle almal.

  13. Sammi – ek het darem geweet waarna jy verwys – weet mos al klein bietjie op wat jy fokus en ingestel is. 😉

  14. Hey Wk

    Ek is besig om Steve se boek te lees en van die goed is nogal skokkend maar ek sal altyd ‘n Steve fan bly en om die waarheid te se ek persoonlik na aanleiding van sy boek het ‘n siekte hulle sal vir Steve moet help of hy gaan weer probeer selfmoord pleeg hy het al probeer en ek glo (hoop nie so nie) sal weer probeer!!

    Ek is regtig jammer vir hom en Natasha maar ek dink dis vir die beste dat hulle skei! Dis hartseer vir al vir die kinders maar ek dink dis beter!!

    Sterkte Steve en Natasha ons sal altyd vir julle liefbly!!

    Liefdetjies
    xxx

  15. Ridder, jy weet natuurlik jy kry my stem vir uitstekende stukkie werk, mooi so!!

  16. Ek glo beslis dat Steve hier deur sal kom en met sy lewe sal aangaan, wat gebeur het is jammer, maar dit sal verby gaan en Steve sal sterker aan die anderkant uitkom.


Categories

%d bloggers like this: