Posted by: White Knight | Wednesday, 29 October, 2008

Siele, Seer en Trauma

Ons het al aan verskeie onderwerpe geraak die afgelope tyd en juis na aanleiding van een daarvan het ek hierdie skrywe ontvang van Sapphire Gem. Ek het dit goed gedink om dit hier te plaas as vandag se inskrywing omdat dit een van die kern punte aanraak wat so baie deesdae waarneem baar is. Dus baie dankie aan Sapphire Gem vir ‘n ander perspektief oor dit wat almal al geraak het.

Siele, Seer en Trauma

Ons het al almal op een of ander tyd al trauma ervaar. Of dit nou is as gevolg van, ‘n persoon naby aan jou se afsterwe, siek kind, geliefde wat in ‘n motor ongeluk betrokke is of dalk selfs ‘n eggenoot se ontrouheid.

Ons almal het emosies en gevoelens wat gevorm word deur sekere ervarings en selfs ondervinding in die lewe. Daardie emosies en gevoelens te wyte aan die ervarings en ondervinding help jou om in die oomblik van die trauma op ‘n sekere manier op te tree. Soms moet daar besluite gemaak word, en jy kan net eenvoudig nie anders of wankel nie, jy moet daardie besluite neem en dit is asof jy op ‘autopilot’ is.

My vraag is net wat gebeur na die trauma hoe verwerk jy daardie emosies. Daar was nie tyd om aandag te gee aan hoe jy voel, wat jy ervaar, en self net eenvoudig om hartseer te wees nie. Daar is self mense wat probeer om vir jou te vertel hoe jy moet voel, en wil jou so half dwing om aan te gaan, en al wat jy wil doen is om net vir oomblik stil te staan en boek te vat oor wat alles gebeur het. Soms laat omstandighede jou nie toe om te kan stil staan nie en moet jy net elke dag voort beur met die dag take.

Ek wil amper die tipes ervarings wat mense oor trauma het in twee dele deel. ‘n Ervaring buite jou siel en dan is daar die ervarings wat jou siel en jou hele wese verander.

Sommige traumas het ‘n onmiddellike effek op jou, op daardie oomblik. Jy hanteer dit jy verwerk dit en dan is dit oor en verby. Jy dink selde indien ooit weer daaraan, en as jy wel weer daaraan dink of daaroor praat is daar nie enige spesifieke emosie daaraan gekoppel nie.

Dan is daar soos ek gesê het die trauma wat jou siel en jou hele wese verander. Dit is iets wat aanhoudende vrae na vore bring, en jy kry nie noodwendig die antwoorde op jou vrae nie. Jy dink net dat indien jy die antwoorde het jy dalk die hele ervaring sal kan verwerk maar dit gebeur net nie.

Dan eendag besef jy dat die hele ervaring iets diep binne in jou verander het, dit is asof iets binne in jou geknak het. Nie dat dit enigsins van jou ‘n swakker mens maak nie, nee, inteendeel as jy ‘n been geknak het en dit groei weer aan is dit sterker op daardie plek as enige ander deel in daardie been. ‘n Baie wyse vrou (my ouma) het eendag gesê ‘die hou is toegedien, die rowe is af maar die merk sit’. Dit vat tyd vir daardie genesing om plaas te vind. Die verwerking van so ‘n trauma vat baie langer, ek dink daar is self mense wat ‘n leeftyd sukkel om oor die tipe trauma te kom.

Die kleinste voorval, of selfs net ‘n woord of ‘n liedjie kan jou weer aan daardie ervaring laat dink, en dan het daardie been weer bietjie groei werk om te doen.

Laat weet asseblief hoe traumas julle as mens geraak het.

Dankie Sapphire Gem

Met niks om by te voeg nou nie en baie om oor te dink mbt die gewigtige saak, groet die Uwe julle soos gewoonlik.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok.🙄😆


Responses

  1. Ek dink nie ‘n mens verwerk trauma ooit volledig nie. Ek dink ook nie ‘n mens moet nie. Ek dink dis ‘n proses wat vir die res van jou lewe aan die gang sal wees. ‘n Mens se sintuie lok emosies uit, en emosies is nodig om van ons gebalanseerde mense te maak. Dus kan ek geensins aanvaar dat ‘n mens die dood van bv ‘n kind verwerk nie. Jy leer eerder met moeite om daarmee saam te leef. Selfde met ‘n geamputeerde been…jy sal nooit aanvaar jou been is weg nie, jy leer sonder hom regkom. Ebb en Flow, kom en gaan, elke dag bring nuwe hoop of nuwe herrinneringe. Dis ‘n leer proses. ‘n Nimmereindigende een.

  2. Casrina, ek dink dat jy dit pragtig opgesom het.

  3. Sorry Carina, maar die ou vingers is bietjie stram vandag.

  4. Elke persoon ervaar trauma anders.

    Ek het ‘n vrou geken wat destyds so getraumatiseer kon word as die haarkapper tjol aangejaag het met haar hare dat sy so te se ‘n blok ver van die Groen Dakkies gaan draai het!
    Ek weer is min gespin oor my borselkop. As iemand dit opneuk skeer ek alles met ‘n skeermes af.

    Vir ander is die dood van ‘n tannie of oom erg, vir, my, as gevolg van my familiedinamika, sal ek hartseer wees maar amper onmiddellik weer kan aangaan met my lewe.

    Trauma word gewoonlik gebore uit die hoeveelheid energie, tyd, emosie en passie wat in ‘n saak geinvesteer is en jy dan die teenoorgestelde reaksie kry as waarvoor jy gehoop het. Hetsy lewe of dood, rykdom of nie, ens

  5. Ja ek het al `n paar gehad in 1994 was ek as bewaarder deur sowat 300 gevangenes wat later sowat 3000 geword het, in `n tronk opstand oorweldig en erg aargerand, ek moes verskeie steke kry,was met `n graaf geslaan, met `n ses voet leer, geskop, geslaan, my brille was fyn getrap voor my en ek was met `n baksteen op die agterkop gegooi toe ek gele het, bebloed en half bewusteloos, `n groep gevangenes het geskreeu peace en my eenkant gehelp, terwyl alles om my aan die brand gesteek word.

    Ek is sowat `n uur later deur `n taakspan ontset en hospitaal toe gejaag. Maar sedert daardie dag het `n tipe van vrees as ek in `n grootskare soos byvoorbeeld op Ellispark is.Net die NAAM van Jesus het my daar laat oorleef.

    Maar ek het dit oorkom, mens moet die lewe gaan aan, maar dis nie altyd maklik nie.

  6. Sjoe, dit is ‘n baie diep onderwerp. Ek stem saam met Carina mens leer om saam met dit te leef. Maar ek glonie dat dit ooit heeltemal verwerk word nie. My Pa is nou al ‘n 1jaar en 10 maande dood en met sy begrafnis het iemand die Onse Vader gesing. Elke keer wanneer ek die Onse Vader in ons kerk hoor, wat deur dieselfde vrou gesing word dan begin ek te huil. Maar die seer sal altyd daar wees.

  7. Naand Ridder.

    Jy raak n onderwerp aan wat volgens my baie uiteenlopende reaksies tot gevolg kan he. Na al my persoonlike ervarings wil ek tog my afleidings deel.

    Ek voel dat mens se reaksie op trauma grootendeels beinvloed word deur mens se voorbereidheid op n moontlike trauma. Die dood byvoorbeeld. Miskien werk my kop net anders, maar as mens genoeg tyd spandeer met die idee dat niemand vir altyd lewe nie, dan raak mens bewus van die moontlikheid, en kry mens sodoende tyd om daarop voor te berei. Gewoonlik tree mens dan ook anders op teenoor jou geliefdes en eindig dan met min skuldgevoelens op. Dan lewe mens in dankbaarheid vir elke geleentheid wat mens wel het om met jou geliefdes te spandeer.

    Ek was vir kapings opleiding. Toe ek die dag wel gekaap word, was ek baie meer in beheer, en kon ‘die regte ding’ doen, en het redelik ongeskonde daarvan afgekom. As ek egter onkant betrap was sou ek heel moontlik my ‘cool’ verloor het en dalk ook my lewe!

    Die realiteit bly egter dat ons in n land lewe waar trauma wel aan die orde van die dag is. En dis tog n feit dat niemand vir ewig lewe nie.

    Mens moet in jou stilte tyd dink en voorberei, en met ander oe na dinge kyk. Dankbaar wees vir die nou, vir die kanse wat mens wel kry en dit aangryp en benut.

    Daarmee my beskeie opinie.

    Lekker aand aan al die gaste.

    Katvoet.🙂

  8. Hi, dankie vir almal wat hulle ervarings gedeel het.

    Carina, ek stem saam met jou dat mens nie ooit oor die dood van kind kom nie.

    Uit almal se kommentaar wil dit voorkom dat die spreekwoord wat sê tyd genees alle wonde verkeerd is. Dit moet eerder wees tyd leer jou om met die wonde saam te leef.

    Groetnis aan almal.

  9. Ek kon nou eers hier uitkom na ‘n hewige storm by ons. Nadat ek al die kommentaar ook gelees het, dink ek dat mens slegs enige trauma kan hanteer indien met soos die soldate van ouds, ‘n pantser uniform dra. Soos Swart Kat noem, berei jou voor vir die moeilike dinge wat mag voorlê. Ouers wat afsterf, misdaad, vriende wat mag wegval ens. TOG moet ek hiermee duidelik noem dat my grootste vrees my kinders se veiligheid is en DIT is die een ding wat ek glo ‘n ouer bitter moet vind. Ja, dis dalk deel van die lewe, maar nie natuurlik dat ‘n ouer ‘n kind moet oorleef nie.

    Jinne, Brein, dis g’n wonner jy leef met soveel passie na wat met JOU gebeur het nie. Strongs vir jou!

    Carina, jy is so baie in my gedagtes.

    Groete!

  10. Hallo White Knight en kie. Ek glo daarin om daardeur eerder as daaroor te leef. Emma.

  11. Ridder,

    ek het ook lank aan die een gedink en stem saam met die meeste sienings.

    Swart Kat, ek hoor wat jy sê. Om voorbereid in ‘n situasie in te stap, is die perfekte opsie. Ongelukkig leef ons nie in die perfekte wêreld nie en vind daar daagliks aksies plaas wat in onvoorbereide mense se psige ingebrand sal bly.
    Al gaan die persoon vir berading, word dit wat met hom/haar gebeur het, gestoor. Iewers in die menslike brein-rekenaar en dit kan enige tyd ‘getrigger’ word om weer voor die persoon af te speel.
    Ek glo dit hang van persoon tot persoon af hoe hulle sal optree, en hoe sterk hul karakter is.
    Die jong seuns wat grens toe gestuur was, was wel goed opgelei as van die wêreld se heel beste soldate, in oorlogvoering, maar hulle was nie voorberei op dit wat gewag het na die oorlog nie.
    En daarna was daar nie die nodige berading om hulle te help verwerk wat hulle ervaar het nie.
    Dit is blykbaar met alle oorloë die geval, as mens die Amerikaners se geskiedenis wat oorlog aanbetref, ook in oënskou neem.

    En ek erken dan ook en stem saam met die slotsom wat Sapphire Gem uitlig:

    Tyd leer jou om met jou wonde saam te leef!

    Grootneus😎

  12. Hello Daar
    Ek dink ons het elkeen ‘n ander tolleransie vir trauma. Iemand het eenkeer gese dit is soos skoolgeld betaal, aan die einde sien jy eers die vrugte daarvan, solank ons net na maande of selfs jare kan terug kyk en se hieruit het ek geleer en dit het my sterker gemaak.

  13. Niemand hier praat nonsies nie. Alles is baie waar.

    Ek sal net wil byvoeg dat daar definitief iets in steek om iemand te betaal om na jou te luister. (sielkundige) Ek dink veral ons vroue wil graag praat oor wat met ons gebeur het. Ongelukkig verwag die mensdom dat jy so maand na die tyd ‘oor die ding’ moet wees. Meeste mense raak ongemaklik as jy ‘n jaar later nog emosioneel raak oor jou ervaring. As mens net ‘n uitlaapklep kan he, of dit nou sielkundige of vriend is wat na jou luister, dit is goed as die seer kan uitkom.

  14. Boendoe baie waar woorde, die meeste traumas neem niks minder as 8 maande om te verwerk nie en steeds kan dit veel langer wees. Daar is ‘n lessie wat ons by die Amerikaners kan leer, hulle supportgroup stelsel werk baie goed, dit is nodig om te praat, ongelukkig is daar mense wat nie sielkundiges kan bekostig nie, gelukkig is die dominee en maatskaplikewerker ook nog daar.

  15. ((Brein)) Ek bewonder jou!!

  16. Dagse Kuiergaste van die ronde tafel

    Ek het tot nou met opset nie kommentaar gelewer nie. Maar vir elke een wat in hulle lewe aan trauma blootgestel was en dit oorleef het, wil ek net groet met ‘n saluut.

    Die maklikste uitweg is seker om boedel oor te gee, maar as jy vastaan en besluit ek gaan voort en dan het jy al die eerste tree gegee in die regte rigting.

    Almal verkil en reageer verkillend, maar moet nooit tou opgooi nie. Kry, vra hulp maar asseblief moenie dit net probeer ignoreer nie, jy gaan knak een of ander tyd.

    Groete en sterkte


Categories

%d bloggers like this: