Posted by: White Knight | Monday, 27 October, 2008

Die ware man

Cowboys don’t cry

Met die Curriebeker finaal nou agter die rug, weereens geluk aan die Sharks, :mrgreen: is daar ’n bekende frase wat by my opduik so tydens die nabetragting van die naweek se gebeure. Dis die een waar Naas Botha altyd aangehaal word, “Cowboys don’t cry”. Dit was juis met rugby wat hy die stelling gemaak het en kom neer op dat as jy nie jou kanse benut het terwyl die wedstryd aan die gang is nie, en al het die skeidsregter verneuk, moenie huil na die tyd omdat jy verloor het nie. Gedane sake het geen keer nie, sou die oumense vir ons gesê het.

Wel dit bring my by ‘n ander saak wat nooit gedaan is nie. Die een van ouer en meer spesifiek Pa en man in die huis. Baie mans gebruik gerieflik Naas Botha se stelling buite verband ten einde vir hulle kinders en veral die seuns te laat verstaan dis net sissies wat huil, manne maak mos nie so nie. 👿

Die ware man.

Laat ek jou vandag vertel jy is heeltemal van die pad af as jy dit glo, dalk oor jy so geïndoktrineer is self as kind, maar neem kennis dis ’n hoop nonsens wat jy jouself en jou kind mee belieg. GOD het die mens geskape met traan kliere vir ’n doel, en daardie traan kliere se werking is gekoppel aan jou emosies van blydskap sowel as hartseer. Gebruik dit vir die doel waarvoor dit gegee is.

’n Ware man kan huil as hy hartseer en ook as hy bly is. Ek praat nie nou van iemand wat sulk oor alles in die lewe nie, ek bedoel die uiting van ware emosies van hartseer en blydskap en is nie skaam om dit te wys nie.

Vir wat moet daar ekstreme dinge gebeur voor mans kan wys hulle is ook mense. Kyk jy na sommige Nuus gebeure dan sal jy hoor die verslaggewer verwys na die gebeure as so sleg en grusaam dat geharde manne gehuil het. Nonsens, hoekom moet mense dit as maatstaf gebruik, dit is juis vir my deel van die probleem.

Verstaanbaar is daar baie mense, veral Polisie, Brandweer en ander nooddienste werker wat met die seer van die lewe deel op daaglikse gebied. Dis ook die mense wat seer en lelik beter ken as ek en jy, maar oor hulle geleer is, “Cowboys don’t cry”, krop hulle op en later bars dit uit of veroorsaak ander probleme, soos drank misbruik of iets dergeliks.

Jou kinders

Kinders is jou enkele grootste verantwoordelikheid, naas jou vrou, en ook bate. As jy aan hulle die nalatenskap gee van, ek moet hard wees en mag nie wys ek is mens nie, dan het jy dit verloor. Jou kinders gaan later in die lewe swaarkry, met so houding. Mens is in wese nie gemaak om alleen te wees nie en hetsy of jy nou in ’n huwelik is of net saam vriende deur die lewe beweeg, jy gaan sukkel as jy nie kan mens wees nie.

Daar behoort ’n balans te wees tussen kom op vir jou regte en veg vir wat jou toekom, en menswees wat jou toelaat om te rou oor geliefdes, verhoudings en ook die verliese van die lewe. Geen mens gaan ongeskonde deur die lewe nie, almal vat houe een of ander tyd. Hoe jy dit hanteer en jou mense naby jou laat verstaan en jou kinders leer oor sulke omstandighede wat maak of jy en ander gaan herstel en oorwin.

Jy moet ook vir jou kinders, jou seuns veral, wys dis “reg” om lief te wees en ook om dit te wys. Kinders moet dit verstaan en by wie anders as hul Pa gaan hulle dit leer. Wys vir jou kinders, seuns en dogters dis reg om na jou as ouer te kom as hulle vertroosting soek en beskerming. Self tugtiging moet met liefde geskied om dit werklik enigsins van waarde te maak.

Gee jou kinders liefde en respek Pa, dan maak jy hulle meer mens en gereed vir die lewe. Om ’n harde graniet beelde die wêreld in te stuur wat net gaan breek een of ander tyd, maak nie sin nie. Onthou dogters kyk na hul Pa as hulle man soek, so as jy nie van jou skoonseun wil hou nie, wees ’n “parra” en jy sal so skoonseun kry. Wees ’n heer en ordentlik en jou kanse vir ’n goeie skoonseun sal ook beter wees.

Jou huwelik en jou vrou

Hoe gaan jy as mens ooit jou vrou kan ondersteun en help in tye van hartseer en liefde as jy nie eers jou eie kan verwerk en hanteer nie. Om ’n nat kol op die muur waar die verf afdop, net oor te verf maak nie die probleem van vog wat deurslaan reg nie. Jy het nodig om die probleem te elimineer voordat jy die muur oorverf.

Hoe wil jy as man ooit hê jou vrou moet “weet” jy is lief vir haar, as jy nooit uiting aan jou gevoelens kan gee nie. Mans wat nie kan huil as hulle hartseer is nie kan ook nie vir sy vrou liefde wys nie. Liefde moet orals sigbaar wees, ek praat nie van hang aan mekaar in die straat soos lawwe tieners nie, maar die manier hoe jy jou gedra teenoor haar ongeag of julle alleen is of saam vriende, selfs in die openbaar. Jy mag maar soos die situasie dit toelaat hand aan hand met haar loop in die winkels en openbare plekke dis nie ’n siekte of teken van swakheid nie.

Wys vir jou kinders dis “cool” om vir Ma lief te wees en dit te wys ongeag waar en saam wie julle is. As jy nie hulle ma kan liefhê nie, hoe verwag jy die kinders moet dit kan doen. Onthou woorde is baie werd, maar voorbeelde is wat onthou word.

Wees lief vir jou vrou en kinders, vertroetel hulle, laat hulle verstaan dis reg om liefde te gee en ontvang. Uiting te gee aan emosies en bo alles natuurlik, leer hulle dat daardie onbaatsugtuge liefde, ‘n gawe van GOD is en om dit met HOM in hul lewe te ervaar en uitleef. Leer hulle GOD is liefde.

Wel hoop dit beteken vir iemand iets en maak sin.

Geniet jul dag vêrder.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok  🙄 😆

Advertisements

Responses

  1. Baie mooi inskrywing Ridder!

    Belangrike punte vir ‘n gelukkige huwelik!

  2. Baie waar. Dis die grootste onding daai dat mens (veral mans/seuns) nie emosies mag wys nie. My man stort gereeld saam met my ‘n traan as ons ‘n hartseer fliek kyk.

  3. Ek is baie erg oor gevoelsmense wat passievol leef. My seuns mag huil, so ook die Engelsman – dit beteken baie meer vir ons as vroue dat ons mans kan VOEL – hierdie tawwe rowwe tienies staan my nie aan nie. Ek hou van ‘n sagmoedige man.
    Goed gedoen, Ridder.

    Siestog, het nou nooit kon dink dat die Bulle se verloor jou SO kon raak nie!

  4. Ridder, baie insiggewende inskrywing. Hulle sê mos die grootste geskenk wat ‘n pa sy kinders kan gee is om hulle ma lief te hê.

    Ek huil soms so hard as ek ‘n boek lees dat ek moet rondkyk wie my hoor en ja ek het die grootste bewondering vir ‘n man wat sy emosies kan wys.

  5. Eerstens: ek begin binnekort, soos in oor 2 weke, weer duik. Ek het NIE al hierdie witdood pics nodig op elke blog wat ek kom nie. Seriaaaz. Buitendien, hierdie wit en blou strepieshart het nou genoeg jaloesie weggesteek. Demit, wens dit was ons. Sonder Luke, natuurlik. Watter Dutchman het nou lus om deur ‘n Soutie, so lelik beledig te word?

    Tweedens: Is daar nog mense wat se mans mag nie huil nie? Genade!

    Geen wonder daardie opgekropte emosies word elders uiting aan gegee nie! Soos mishandeling van die gesin. Fisies of emosioneel.

    Jinne, die opvoedingstaak is huge.

  6. Ons is ook mense wat graag aan mekaar vat, en vir mekaar vertel hoe ons voel. En dis so waar wat jy sê: my kind het by sy pa geleer dat dit OK is om te wys hoe jy voel. Ek dink sy vrou gaan eendag mal wees daaroor.

    My Liefie huil ook lekker saam met my oor ‘n fliek – hartseer of mooi. As ons erens beweeg, hou ek altyd sy hand vas. Dit laat my veilig voel. En ek kan nie slaap as ek nie erens aan hom raak nie, al is dit net ons voete wat kruis in die somer as dit so warm is. En natuurlik is ek in die winter onder sy vlerk in! 😉

    En weet jy wat? Ek kry elke oggend ‘n koppie koffie – spesiaal net vir my gemaak, want hy drink nie vroeg in die oggend koffie nie. Soms wys klein dingetjies wat jy vir iemand doen ook dat jy hulle liefhet, want dis vir jou lekker om te sien dat dit hulle gelukkig maak. 😉

  7. WK dis ‘n baie mooi inskrywing!! Dis ‘n groot waarheid wat jy nou praat!! My ma het altyd gese kyk hoe ‘n man sy ma behandel dis hoe hy jou gaan behandel!!

    Luckily het ek ‘n fantastiese man gekry!! 😀

    Dis defnitief die klein dingetjies wat tel!! 😉

    Liefdetjies
    xxx

  8. Ridder,

    weereens som jy die feite só mooi en só raak op!

    Mans móét meer hul emosies wys.

    So sal daar minder seer en meer verstaan in die wêreld van ons wees.

    Thasia, ek wou jou op jou blog persoonlik geluk wens met die Visse se sege, maar toe ek dit oopmaak, wou ek HUIL!!! (Ek leer nog, die emosie wys ding.) 😳

    My bloed is steeds BLOU!

    Lala Salama,

    Grootneus 😎

  9. Goeie naand Ridder, ek is n nuwe kuiergas om die tafel. Ek kan nie anders as om vanaand kommentaar te lewer nie!

    Uitstekend, welgedaan! Dis vir my n riem onder die hart dat daar nog sulke goeie mense is. Mens word so gebombardeer met al die negatiewe dinge in ons samelewing, maar ja, slegte nuus verkoop koerante.

    Dankie dat jy die tyd geneem het om uit die hart uit te praat en ons almal net weer bewus te maak van wat die Liewe Vader vir ons wil he, maar ook van ons verwag!

    Om die goeie raak te sien, en soms te soek, is n keuse. So ook om die mense om jou met liefde en respek te hanteer.

    n Mens kan n ander se karakter opsom deur te kyk hoe hy mense behandel wat vir hom niks kan beteken nie.

    Mag dit n pragtige aand wees vir een en almal van julle!!

    Katvoet 🙂

    Ns. My bloed is steeds blou

  10. Dankie vir die gelukwense Arabier I appreciated it very much 😀 WK jy my dorp gesien op ontbytsake op kykNet? 😛

  11. Dagse aan die Kuiergaste om die Ronde tafel

    Die Swat Kat – Baie welkom en ons waardeer jou insette. Hoop jy kuier lekker saam ons hier.

    Sammi – Slaan maar terwyl ons seer het, ons kan dit vat. 👿 Blou Bulle is sterk babas.

    Thasia – Nee ongelukkig nie julle dorp gesien nie, maar ken hom mos van lank terug se tyd. 😆

    Alles van die beste vir almal van julle. 😉

    Groete

  12. JIp dit beteken vir iemand iets…

  13. Ek hoop so ‘n man kom klop in die nabye toekoms aan my deur… My pa is iemand wat sy emosies kan wys en dit het my altyd ongemaklik laat voel. Tot ek besef het hoe belangrik dit is en probeer ek hard om my laaitie te leer dat dit goed en reg is om jou emosies te wys. My kind is ‘n gevoelsmens en ek dink reeds daarom is dit beter dat ons niks met sy pa en dié se familie te doen het nie – hulle is harder as klippe. Is vandag sy verjaardag – iemand het voorgestel ek stuur vir hom ‘n kaktus, maar ek wil nie eintlik geld op hom spandeer nie!

  14. 😆 Ridder – ek sien hierdie Sharkie is nou sommer ‘n “unknown feed” CUTE!!
    😆
    Laat ons nou nie meer verder praat oor wie wat “gefeed” het nie 😉

  15. Dagse Sammi

    Dis julle Sharks wat so oorgretig is dat sommer julle eie feeds op gekou het. 😉

  16. 😆 😆 😆


Categories

%d bloggers like this: