Posted by: White Knight | Thursday, 16 October, 2008

Wil jy werk of nie?

Vanoggend blêr Blondie oor die draadloos dat die Rand poer in sy maai geval het oornag. Gisteraand was hy nog heel skaflik al was dit vrot, maar oornag verander dit in die spreekwoordelike “buy fokel rand”, as jy my nie glo nie gaan kyk self hier. 😉

Dit laat natuurlik die grysstof in werking spring en teen ’n onaardse spoed verby alles en nog wat snel. Dis vat nie behoorlik aan een gedagte nie, dan is die volgende een al weer daar.

Na ’n tyd van bepeinsing en vele vermanings aan die innerlike om tog net te bedaar, kom ek tot die slotsom, Daar is nog hoop. Is mos juis oppad soutmyn toe, so tussen al die taxi’s en ander voertuie deur. Verdien nog ’n salaris en al is dit nou oornag baie minder werd, sal ek dit darem nog kry aan die einde van die maand.

Julle sien dis wat my nou by die eintlike punt bring. Daardie mense wat nie eers werk het nie. Baie mense verloor hulle werk juis deur slegte ekonomiese toestande. Daar word personeel verminder, een man sake kan nie meer die gewig van swak betalers dra nie, ag die redes is legio en sal ons heeldag besig hou. Ek het begrip vir die wat in daardie situasie is. Hulle is baie en ek is ook oortuig dat juis die mense weer sal soek vir ander werk en hopelik sal kry.

Dan kry jy natuurlik die “nomadiese” werker. Nie die tipe wat met kopdoeke en kamele deur die sandduine trek nie. Nee hierdie groep bedank, vat die vrywillige pakket, sonder om eers aansoek te doen vir ’n ander werk, wat staan nog seker te wees of daar ander werk is. Enige rede is vir hulle genoeg om hul werk te bedank, of die mossies nou die oggend hom wakker hoes, of sy baas se Blou das, maak nie saak nie.

Dan na ’n tyd “soek” hulle ander werk, want almal kerm mos om hulle ore. Dis nou hier waar ek nie die kloutjie by die oor kry nie. Hoe “soek” jy werk as jy elke dag by die huis sit en nog nie eers jou CV opgestel en uitgestuur het aan al die personeel agentskappe en firmas nie. Dink jy die feetjies en kabouters gaan jou werk vir jou kom aandra na jou leunstoel toe.

Maar in elke geval op ’n dag hoor jy die goeie nuus dat iemand het vir “Koos” werk “georganiseer” by ’n ander kontak van hulle en hy kan sommer al môre begin. Nee hoor moenie jou asem ophou nie, “Koos” gaan nie die “aanbod” aanvaar nie, want sien “Dit trek hom mos nou nie aan nie”. My hel, vandat ek klaar is met skool het ek nog elke oggend, selfs in die Weermag tyd, myself aangetrek en werk toe gegaan. Geen werk het my nog ooit aangetrek nie.

Dan kry “Koos” wel op ’n dag werk, maar moet nou eers gaan vir “produk opleiding”, voor hulle kan begin geld verdien. Later vra jy hoe dit gaan met die nuwe werk? Dit gaan nie, want die mense het nie geld vir sulke luukse items nie. Nou wat nou?

Dit werk dus nog steeds nie. Dan uit ‘n ander oord maak iemand vir “Koos” ’n werksaanbod. Weer word daar asem opgehou, wel nie almal nie, maar dalk net hierdie keer is daar hoop. Die antwoord kom egter soos yswater oor die gemeenskap, “Koos” gaan oor die saak bid en sal laat weet.

Almal wonder maar oor “Koos” so sukkel om werk te kry. Wat maak dan dat die man so ongelukkig is met al die werke wat sy pad kruis? By nadere ondersoek is die antwoord toe eindelik heel eenvoudig. Sien “Koos” wou mos ’n sekere beroep volg, maar sy Pa het hom afgeraai en dis die dat die man van amper veertig nie kan rigting kry nie. Weet jy wat “Koos”? Baie het en sal ook nog, na ure self betaal en gaan studeer in ’n rigting wat hulle dan nou hulle tipe werk is.

Maar nou ja en ag terwyl jy nou so bid “Koos”, dis nou oor die joppie wat die fairies vir jou aandra, wil jy nie sommer die gras sny en die kar ook was nie, dan hoef ons wat wel elke dag self aan trek en werk toe gaan nie dit ook te doen as ons moeg by die huis kom nie. Dit sal ook help as jy en jou vrou, sy werk darem, so af en toe help met die was en skottelgoed. Tref dan ook julle reëlings so dat ander nie hoef te bekommer oor die twee kinders wat dalk nie by die skool gehaal kan word nie.

Net so terloops ou “Koos” die mense wie se Rande na gisteraand soveel minder werd is, sukkel ook maar, en as jy nie gou plan maak nie gaan hulle dalk ook binnekort ander verblyf moet kry en ek weet nie of die nuwe “landlord” van jou gaan hou as die sitkamer bank se drapeersel nie.

Jy sien “Koos” die nuwe “landlord” het moontlik ’n Perd, en daardie Perd skop vrek hard en dit maak seer, maar dalk is die net die medisyne wat jy nodig het. 😡 😕

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok. 🙄 😆

Advertisements

Responses

  1. Ja Ridder, my ma het altyd gese jy soek werk en bid om nie te kry nie. Dis net sad as jy opregte hardwerkende mense sien sukkel omdat hulle hul werk verloor het en nie ander kan kry nie terwyl ander wat dit nie verdien nie die nomade ding doen. Ek ken ‘n ou wat hom elke twee drie maande uit sy werk uit suip en dan binne dae weer ‘n ander werk het en reeds seker 5 keer deur dieselfde plek terug gevat is…
    Laat ek liewer nie ‘n ding begin nie, mooi dag.

  2. Ridder
    Nou raak jy aan ‘n BAIE belangrike punt. Daar is beslis genoeg werk vir almal MAAR ons het te kieskeurig geword en ag onsself te goed om terug te keer na die basics. As ek nou vandag slim was, sou ek ‘n Bcom of iets soortgelyks gaan doen het (om besigheid te verstaan) en dan my “plumbing en electrician tickets” gekry het en VOILA bou ‘n besigheid met iets wat ALMAL nodig het. Begin klein en groei met goeie diens.
    Jip, daardie meneer “Goeie Diens”.

  3. WK jy praat nou baie waar ek sien dit daagliks by ons fabriek jy gee die ou se pel ‘n werk en na ‘n week van harde hande arbeid is dit nou ongelukkig nie wat hy in gedagte gehad het nie huh? hel kan ons vandag nog kies of moet jy maar vat wat jy kry???

    Weet jy wat is een van die grootste probleme (weti of jy gaan saam stem nie) maar van die mans (let wel ek se party) het SLEG geword en die vrouens word al hoe meer die leidende party hy werk nie want vroulief verdien genoeg of die vrou moet maar sorg???

    Wel ek gaan elke aand op my kniee vir die werk wat ek het !! My pa se altyd hy help waar hy kan hy wil nie ryk word nie solank hy ander kan help om werk te he!!! en meeste van die tyd word dit in sy gesig terug gegooi!!

    Lekker dag!!!

    Liefdetjies
    xxxx

  4. Oi, ek ken ook ‘n “Koos”, en soms vergeet ek my maniere en wil hom sommer bykom met ‘n plathand! 😯 Sy kinders is glo alles in sy lewe, maar hy maak nie ‘n plan om vir hulle te sorg nie…

    Ek het darem gemmerkoekies om op terug te val… jammer dis bietjie laat vanmore, maar die mense by Eskom was nie lus vir werk nie… :mrgreen:

    Geniet die naweek!

  5. Vat so “Koos”! 😆 Is wragtig soos Sammie sê. Ons het te kieskeurig geword en daar is geen trots meer in ‘n harde dag se werk nie.

  6. Dellie
    Jy is ‘n staatmaker met die gemmerkoekies. 😉

    Ingrid, Sammi, Thasia, Dellie en Roer
    Ek glo almal ken ‘n “Koos” en ek het nei veel tyd of plek vir die sulkes nie. Juis oor meeste van hulle nie bereid is om dit wat hulle “pla” op te los en klaar te maak met dit nie.

    Wat my sleg omkrap van die hele soort van ding is dat Oupa, Ouma, Ooms en Tannies die heeltyd moet bekommer oor die kinders en die “Kose” het nie ‘n probleem van ‘n dag nie.

    Almal wil netjiese karre ry en eie huise bly maar oppas is min. Hoekom moet hulle werk as die ander plan maak. 😡

    Let wel “Koos” is ‘n enamel houer wat vroeër jare onder die bed gestaan het in die nag. 🙄 😆

  7. Ek ken ook ‘n “Koos” wat ‘n opgeleide ambagsman is maar wat nie wil werk nie. Hy loop gedurig tussen sy vriende rond en bedel en so tussen hulle en sy pa word vir sy vrou en kinders gesorg. Vroulief werk ook nie. Nou is pappie dood en ek wonder wie gaan nou die die drie bloedjies sorg. Die kinders kry ook “home schooling” want daar is nie geld om skoolfonds te betaal nie. Snert, man snert. Lig jou “jack” van die stoel af en kom jou verantwoordelikhede na.


Categories

%d bloggers like this: