Posted by: White Knight | Wednesday, 15 October, 2008

Werk, wat’s dit?

’n Stelling wat mens deesdae baie hoor is die volgende: “Ek werk myself oor ’n mik en die ander sit net rond en grawe in hulle neuse” 😉 Hoeveel daarvan wel waar is, sal jy nooit weet nie. Dalk grawe die eerste ou en hy /sy dink dis werk. 👿

Die vraag wat ek hier mee sit is. Wat is regtig werk.? Daar is mense wat werk en daar is ander wat ook “werk”. Werk, soos in om met die hande arbeid te verrig? Of dan iemand wie se verstand oortyd werk?

Die Bybel vers wat baie gerieflik nader trek is natuurlik Genesis 3:19 en dit gaan as volg: In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.

Om te sweet as jy werk is mos die straf vir die mens se sonde en ‘n direkte gevolg van die ongehoorsaamheid wat plaasgevind het. 😕 Vervlakste Adam en Eva.

Beteken dit dan dat elkeen wat in ’n kantoor of ’n voertuig sit met ‘n lugversorger aan, dus weens die afwesigheid van sweet, nie werk nie? Gooi onmiddellik daardie lugversorgers weg, dis sonde? Dalk vir al wat ons weet is die lugversorger (Yin) se (Yang) Eskom, dit bring mos ewewig of nie Brein?

Werk word algemeen aanvaar as arbeid wat verrig word om sodoende ’n verskil te maak of ’n doelwit te bereik. Dalk is ek heeltemal verkeerd met daardie stelling, weet nie maar dis darem iets.

Ons almal ken iemand, of weet van ’n persoon wat lief is daarvoor om met hulle hande te werk. Timmer gedurig in die motorhuis of skuur en krap in die tuin rond laat die sweet hulle aftap. Gedurende die dag agter ’n lessenaar met die lugversorger aan “werk” hulle, maar vanaand en oor die naweek beoefen hulle ’n stokperdjie dat die sweet in alle rigtings spat. Nou wanneer werk hulle regtig?

Sport manne en vroue?

Nie te lank gelede nie het almal “gewerk” en hulle sport beoefen na ure en naweke. Rugby was byvoorbeeld op Woensdag en Saterdag middag gespeel. Nou is die meeste sport soorte professioneel en ja die sweet loop, maar werk hulle regtig? Hulle oefen daagliks vir die onderskeie kompetisies en van hulle, soos Boksers, neem slegs enkele kere per jaar deel, teen enorme bedrae wat verkry word uit borgskappe.

Plate joggies, Akteurs en aktrises.

Baie van hulle “werk” maar ’n klein persentasie van hulle lewens om die res van ons te vermaak en word daarvoor baie geld betaal. Die hele span om hulle hardloop rond en bont om lank na hulle weg is nog te sorg dat alles klaarkom en gereed is. Wie werk dan nou regtig en verdien die geld wat met sulke projekte geïn word. Baie van hulle raak by welsyn projekte betrokke ja, maar dis minimaal en wat doen hulle regtig? Dan wil sommige nog betaling hê vir die feit dat hul naam aan ’n organisasie gekoppel word.

Ambagsmanne, fabrieks en myn werkers.

Mense wat letterlik in die sweet van hul aanskyn die brood op hulle tafel geniet. ’n Groep wat ek baie respek voor het, en in baie gevalle vandag nog, onder gevaarlike omstandighede werk. Is hulle dan die uitverkore groep, omdat hulle aan elkeen van ons lewens ’n bydrae lewer?

Huisvrou, huishulp

As jy nie glo die groep werk nie. Neem ’n week verlof en sonder ma se hulp maak die huis skoon, versorg die kinders, kook, was en stryk. As jy dit oorleef het, sal ons jou kom besoek in die hospitaal, belowe om nie te lank te bly nie, sodoende jou tweede opinie te hoor. 😆

Polisie, Weermag, Brandweer, Verpleeg personeel, ens.

Vir hierdie groep sal ek my woorde baie versigtig moet kies. Kry hulle dalk nodig na die inskrywing. Mense met groepe binne in ’n groep. Die wat hulle taak behoorlik verrig, haal ek my hoed voor af. Maar die skrywe gaan nie oor wie bolletjies rol en wie nie, dit gaan oor die watter “beroep” is dan werk, en die groepe wat hieronder tel is vir my definitief aan die kant van werk. Die meeste van tyd onder onaangename (amper sê ek reuke) omstandighede en definitief gevaarlik.

Politici

So baie grappe word gemaak oor die spul, maar seker oor hulle een hengse grap is. Verskoning aan Helen Zille in die lig van haar onlangse prestasie. Ek weet nie of enige een van hulle sweet anders as wanneer die hysbak stukkend is en hulle dalk per ongeluk moet trappe klim nie. Miskien as hulle op die jagplaas gaan kuier onder die boom en die KWV en ander besprekings punte is op die agenda, wie weet of hulle dalk kan begin sweet. 😈

Daar is nog die Koerant verkoper, Dokter (nie “Tribal type” nie), Argitek, Motorwag, Ontvangs dame, ………ens.

Die lys is oneindig maar die vraag bly egter nog nie ten volle opgelos nie.

Is sweet die maatstaf om te bepaal wie werk regtig?

Wat dink julle?


Responses

  1. Sommige ouens is ywerig,ander is fluks, party vlytig en ander verrig arbeid.En net arme ek werk!!!!

    Flippit ander doen liggaamlike werk en die sweet spat, ek doen dinkwerk en breinwerk en my hele wese gees, siel en liggaam word gedreineer.

  2. Lol @ huisvrou – jip, ekke was daar – dis rerig harde werk, en ek haal my hoed af vir enige “home executive”! 😆

    My werk bestaan nie uit fisiese werk nie, maar brein-goed. Dit is harde emosionele werk om mense se selfbeeld heeldag te probeer opbou, hulle te sien as net mense, en hulle te oortuig dat hulle wel vaardighede kan aanleer, al dink hulle nie so nie. Ek praat hier van mense wat minimum geletterd is, tot mense met grade wie se common sense by die venster uit verdwyn by die aanskoue van ‘n rekenaar. Hier is hulle almal gelyk. En om dan geduld te hê en die paadjie saam met hulle te loop tot daar waar hulle die wow! oomblik het, is amazing… en dit is sooooo bevredigend wanneer iemand die “lig” sien! Ek voel soms soos ‘n fairy! (Moenie vir Botter glo nie, ekke is nie evil nie! Hie-hie)

    Agterna is ek “moeg” gewerk. Emosioneel uitgeput. Weet jy wat vat dit om heeldag cheery en vriendelik te wees, al voel dit of jou hart doer in die stofpad gallop? En weet jy hoe dit voel om al die basiese beginsels day in and day out weer te verduidelik?

    Maar die beloning is groot – so ‘n salige moegheid, want ek weet ek het erens iets bereik of ‘n verskil gemaak.

    I love my job! :mrgreen:

  3. Ek hou van jou definisie van werk, om ‘n verskil te maak of ‘n doelwit te bereik. Rekreasie en sport kan egter volgens hierdie definisie ook gesien word as ‘n doelwit wat bereik moet word (om die vinnigste te hardloop, die ander span te wen is doelwitte wat gestel word).

    Sou die definisie van werk nie dalk wees om ‘n positiewe verskil te maak nie? Met ander woorde, is werk nie eerder om entropie teen te werk nie? Die tweede wet van termodinamika sê mos alles neig na meer chaos, as daar geen energie input is nie, neem entropie toe. Is werk dan nie om energie in te sit om entropie teë te werk nie?

    Entropie is op alle vlakke van ons wêreld aan die gebeur – fisies, sielkundig, geestelik, ens en dus is daar ooreenstemmende “werke” om hierdie entropie teë te werk.

    Verwys die sweet dan nie na die nimmereindigende proses nie? As jy nie werk nie, gaan alles vinnig agteruit. As jy wel werk, gaan dit net stadiger agteruit, as jy jou dood werk, kan jy dalk voorkom, maar dan is jy dood . . . 😆

    (So van die os op die jas, ek het nog nooit ‘n evolusionis hoor praat oor hoe die tweede wet van termodinamika inpas in sy evolusie-teorie nie.)

    Ek dink die sweet verwys maar net na die feit dat dit nie ‘n maklike ding is om vol te hou nie. Maar nou wil ek weer ‘n spanner in my eie works gooi – is enige iets wat lank volgehou moet word, dan nie werk nie? Selfs rekreasie-dinge, soos sport, klavier speel, tuin maak, kan soos werk voel as dit aanhoudend gedoen moet word. Die hele idee van ontspanning is om dit te doen omdat dit lekker is, en op te hou wanneer dit nie meer lekker is nie. Werk moet jy aanhou, al is dit nie meer lekker nie.

    Hé?

  4. Kom hierdie woestynbewoner vertel julle wat werk is.
    Soos in regte werk:

    Om na kamele om te sien, te voed, te klee, van water te voorsien…

    Nodeloos om aan te gaan!

    Geen wonder die Goeie Woord praat van “sweet van jou aangesig” nie!

    Ridder, as jy nou so possie in die kabinet kry, wees nou so bietjie nepotisties en maak my jou adjunk! Dan “werk” ons lekker saam.

    Grootneus 😆

  5. Kalonkie
    Jy sal baie van FlippieFanus se blog hou, gaan loer daar in – ook by Annerkant – julle praat dieselfde 😀

  6. WK

    Ek sit in ‘n kantoor met ‘n aircon heeldag but really I’m doing my job!! (Ek weet jy dink nie so nie) maar ek dink nie dit gaan rerig oor die ‘sweet’ nie dit is die feit dat jy moet werk en nie net moet sleg wees nie!!

    So of jy nou in ‘n kantoor sit of in die son werk, werk is werk solank jy dit net doen !! 😀

    Liefdetjies
    xxxx

  7. Kalonkie
    Dit is juis die punt wat ek wil maak. Enige iets kan geklasifiseer word as werk, solank dit, eerlik, behoorlik en tot voordeel van jouself en ander gedoen word. Dus om ‘n positiewe verskil te maak. 😉

    Thasia
    Wat doen jy nou weer? O ja, hoof Tequila toetser vir die Laeveld streek. 😳

    Arabier
    Julle “sweet” altyd daar in die sandput, so jy is geheel en al veilig wat dit aan betref. Weet darem nie of ek kans sien vir so “harde” werk soos parlement nie, hulle is permanent moeg, slaap gereeld in die vergaderings. 🙄 😆

  8. Ridder, jy praat groot waarheid.
    En die regters en landroste ook. Werk hulself ook oor ‘n mik en slaap dan sommer op die bank! 😆
    Sal maar hou wat ek het. Immers waardeer die kamele dit.

    Grootneus 🙂

  9. /me hou sommer nou meer van White-Knight…
    LOL, eks baie bly jy skryf my werk so hoog aan!! Ek wil gil as mense vir my vra: Wat doen jy heeldag?

    Ek sien ook nou waar “kruip jy weg”, 😉

    Onthou net asb my koek volgende week inni sitkamer…..

  10. Sammi – dankie, sal my oë bietjie daar gaan rondgooi!

  11. My grootste werk in die dag is om al die trappe tot by my kantoor te klim. Teen die tyd dat ek voor my lessenar gaan sit het ek klaar gesweet en verlang ek na ‘n vakansie. 😉

    Ek dink ook dat die verwysing na sweet in die Bybel is metafories. Werk is wat ook al gedoen moet word om die samelewing te laat funksioneer. Sportmanne se werk is om mense te vermaak. Party mense se werk is vir hulle baie lekker, soos byvoorbeeld fisici. Dis amper nie werk nie en tog vervul hulle ‘n sekere rol in die samelewing.

    Terloops as sweet ‘n aanduiding van harde werk is dan is dit deesdae amper so dat hoe harder jy werk hoe kleiner is jou salaris. 😉

  12. Dankie WK nou wil ek wragtig goed!!! 😛


Categories

%d bloggers like this: