Posted by: White Knight | Tuesday, 1 September, 2009

Nuwe seisoen

Dagsê aan al die Lente Bloeisels wat na die winter weer kans sien om hul gesigte te wys. Die menslike kalender wys dis 1 September 2009 en tradisioneel het ons dit gedoop die aanbreek van die lente.

Nou meestal is dit ook die tyd waarin ons nuwe bloeisels an die bome en plante sien. Gras lyk ook sommer weer meer vol lewe en groener as ‘n week gelede. Dis asof die warmer sonstrale en die langer daglig ook die mense inspireer tot groter vriendelikheid.

Ja ek besef sommige van die manne en vroue is nou meer vriendelik oor hulle weer ‘n groter verskeidenheid van uitsig het om te bewonder as net jasse, baadjies en serpe. :shock: :twisted: Seker maar die helder sonskyn wat die klere so oornag krimp. :wink:

Persoonlik dink ek dis ook ‘n goeie tyd om soos die natuur te maak en jou huis in orde te kry. Raak ontslae van die ou donker stowwerige hoekies en kry meer lig in jou lewe. Verander jou uitkyk van somber depressie en negatiewe gedagtes na daadwerklike sake wat jou besig hou en jou gedagtes kreatief laat uitleef.

Verfraai jou omgewing met kleur en geure wat jou gemoed lig. Maak ‘n plan om jou drome af te stof en te verander in realiteite. Leef jou inspirasie en aspirasies. Vergeet van die mislukkings van die verlede behalwe om die foute wat jy gemaak het te vermy deur dit as ‘n leerskool te gebruik vir jou toekomstige sukses.

Roep uit aan almal wat wil hoor en nie wil hoor nie; “Ek is ‘n wenner, ek is ‘n volmaakte skepping”. Begin dit glo en handhaaf jouself, die winter is verby en die kokonne het hul papies vrygestel. Sprei jou vlerke en reik na die sterre en bereik jou potensiaal sodat jy die reuk van oorwinning en sukses nes die geur van die Namakwalandse blomme jou sal omring.

Stel vir jou klein mylpale en vier elke oorwinning asof jy reeds die oorlog gewen het, maar as jy val mag jy nie bly lê nie, maar roep as dit nodig is dat ander jou kan ophelp en beur voort jou doelwit as enigste fokus voor jou.

Gee liefde en help ander want jy weet nie wanneer jyself liefde en hulp gaan nodig kry nie. Maar as jy wyd saai sal jy wel kans kry om te maai sodra jy dit nodig het.

Geniet elke dag asof dit jou laaste is, maar beplan elke ding asof daar nie ‘n einde gaan wees nie. Moenie uitstel om vir jou geliefdes te laat verstaan hoeveel hulle vir jou beteken nie. Jy mag jou bolwange boodskap uitstuur dat jy kwaai is, maar onthou dat elke minuut wat jy onder kompressie is, jy uit mís op gedeelde liefde en koestering.

Mag julle elke een ‘n wonderlike lente en ‘n oorwinnende somer geniet, waar niks jou keer om ten volle liefde te kan gee en terug ontvang nie.

Groete en seëninge van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok :roll: :lol:

White Knight

Posted by: White Knight | Saturday, 29 August, 2009

Jy verstaan nie ….

Dagsê, al weer Saterdag en die Bokke het die  Wallabies darem (32 – 25) gewen dankie. Dis veral goed om weer die Bokke as die gunsteling span te sien in enige kompetisie. Maak sommer die beskuit en koffie ekstra lekker.

Die rede hoekom ek eindelik die sleutels laat beweeg vir letters om op die skerm in gelid te kom staan is nie die rugby nie, nee glad nie. As daar nou een stelling is wat mense seker tot vervelens toe in jou lewe sal hoor is dit, “Jy sal nie verstaan nie”.

Die vrouens gebruik daai stelling gereeld, veral vir die man in hul lewens, sou hy onnosel genoeg wees om te wil verwag sy moet hom antwoord as hy vra wat is fout. Sy wil mos net weet jy sien daar is fout, sy weet meestal self nie wat dit is nie, hoe wil jy nou kom staan en weet. :roll:

Jou kollega by die werk wat bly vashaak met die baas. Jy probeer uit goedheid vra wat makeer, kan jy dalk help? Nee hoor dis een lange relaas van hoekom jy nie sal verstaan nie, maar geen rede vir die probleem nie. Beste is maar los en staan eenkant toe.

Die man met sy eie besigheid as jy wil weet hoekom hy so ongelukkig is, dan kry jy die standaard antwoord. Jy weet nie hoeveel probleme het mens as jy jou eie besigheid het nie. Julle verstaan nie wat dit is om vir ander verantwoordelik te moet wees nie.

Die liggaamsbouer en die atleet wat glo dat niemand anders weet wat se opoffering dit verg om fiks en gesond te bly vir hul tipe sport nie. Jy sal mos nou nie weet nie want jy is mos effe mollig en spandeer nie jou tyd in die gymnasium soos hulle nie. Dan moet jy ook nie van die spesiale dieet vergeet nie.

Soms net soms, moet mens by jou eie situasie verby kyk en om jou die potensiaal tot ondersteuning en hulp raak te sien. Juis hulle wat jy dink nie verstaan nie het dalk ‘n ander perspektief van jou “probleem” en met klein rigting wysers kan hulle jou help om weer koers te kry.

Die kollega wat sukkel kan jy dalk net help deur te verduidelik wat die regte formaat is waarin verslae ingehandig moet word, juis omdat hierdie afdeling se inligting weer verwerk moet word om ander te kan ondersteun.

Die man met die eie besigheid kan moontlik nie deur jou gefinansier word nie, maar jy kan hom dalk net help om beter sy spannings vlakke te hanteer en sodoende sy eie gesondheid te verseker.

Dame jy mag dalk verbaas wees as jy met jou man begin gesels, dat hy miskien nie alles weet nie, maar dat jy in die proses jou eie probleem kan identifiseer en begin verstaan. Ja daar is sulke mans en hulle het nie almal reeds ‘n “boyfriend” nie.

Die atleet mag miskien neerkyk op die mollige vriendin, maar wanneer sy in die gymnasium boer en op die pad hardloop naweke, is die mollige maatjie by die kinders besig en woon sy hulle sport en kultuur by. Kinder wat baklei en nukkerig is, is enige tyd by verre meer veeleisend as die apparaat en enige ander oefening. Dalk net kan sy weens haar kind se allergie en die voorsorg rondom dit jou ook van raad bedien sodat jy nie so baie sukkel om die regte tipe kos vir jou eie geval te kry nie.

Dit help gewoonlik as mens eers van jou eie idees omtrent ander mense se vermoë kan ontslae raak, Jy mag dalk net verbaas wees oor wie jou kan ondersteun en help met situasies wat voorkom in jou lewe.

Hulp kom soms in snaakse verpakkings, al is dit ook net ‘n oor om te luister of ‘n skouer om op te huil.  :wink: :cool:

Groete en seëninge van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok :roll: :lol:

White Knight

Posted by: White Knight | Tuesday, 25 August, 2009

Jy glo ……

Dagsê aan al die kuiergaste. Tans wil die weer lyk of die koue verby is, maar met tye is daar tog nog ‘n byt in die lug.

Tydens mens se daaglikse handel en wandel is daar verskeie dinge wat so in die verbygaan gesien word, maar nie noodwendig aandag gee nie. Dit veroorsaak dat baie mens afleidings maak en dan ‘n geheel verkeerde idee van ‘n ander persoon se intensies sou kry.

Persoonlik het Ridder al op meer as een geleentheid my uitgespreek oor die selektiewe wyse waarop veral die media “feite” kan deurgee aan die publiek. Om net sekere “feite” aan te haal uit ‘n gesprek met iemand maak mos nou die deur oop vir die “ander” partye om weer hulle kant van die saak te stel en dus “viola”, styg die koerant verkope.

Hierdie manier van handel het Ridder al persoonlik ervaar tydens een van sy reise, toe ‘n persoon van die betrokke land nie wou glo dat “wit mense” ook van Suid-Afrika kan wees nie. Juis oor die indruk wat die media in ander lande skep. Die persoon se kollega, ‘n ywerige golf entoesias, het hom toe verduidelik dat Ernie Els mos van Suid-Afrika is en hy is dan “wit”.

Die soort van optrede is deel van ons daaglikse lewe. Sommige persone glo alles wat in die koerant staan as die waarheid en die volle waarheid en niks anders nie. Netso is daar mense wat in hul omgaan met geloof net in sekere dinge glo.

Die een lees net die 1953 vertaling en niks anders nie. Die volgende weer die “Amplified Bible” en die ou langs hom glo weer net in die “Dakes annotated Bible”. Dan weer sal jy mense vind wat die Bybel letterlik volg en ander weer wat dit sien as ‘n riglyn tot eie idees en interpretasies. Sommige sal selfs net glo wat hulle in boeke lees wat geskryf is deur mense oor wat hulle sou dink wel in die Bybel staan.

Die EEN waaroor die Bybel sy bestaan te danke het is nie belangrik nie, maar wel hul eie idees. Die verhouding met die Skepper bestaan nie, wel ‘n klomp kennis oor wat hulle dink God moet wees en wat nie en ook hoe ‘n Christen behoort te lewe en wat onbetaamlik is vir ‘n Christen.

Ek dink vir geen oomblik dat ek oor al die kennis en antwoorde beskik wat daar nodig is om elke persoon wat my pad kruis se vrae en twyfel op te los nie. Maar wat ek wel weet is dat die lewe baie makliker is as jy weet by watter adres om te gaan vra vir hulp. Daardie adres waar jy enige plek enige tyd jou kan afsonder, jou knieë buig en roep om hulp. Dis dan, wanneer jy bereid is om te luister na die antwoord wat die Heilige Gees aan jou oordra vanaf die Vader en Jesus Christus dat jy met vertroue kan voortgaan.

Daarom vind ek dit in sy geheel vrugteloos en mors van energie en tyd om in enige argumente oor God betrokke te raak op die internet. Juis oor jy nie die persoon wat jy mee wil debatteer ken nie en dus geen benul het of die persoon:-

a) Enige Kennis van God het.

Maw. is die persoon al ooit vertel van die Bybel en God, Jesus Christus en die Heilige Gees.

b) Die persoon se siening oor sonde en die nodigheid van wedergeboorte.

Verstaan hulle dat sonde die oorsaak is dat mens nie meer vrylik toegang tot die Skepper het nie.

c) Hoe het die persoon hul kennis van God, Jesus Christus en die Heilige Gees opgedoen.

Vir sommige mense is die Bybel ‘n straf omdat dit as sulks aan hul voor gehou is deur dat hulle stukke daarvan moes leer as straf vir “sondes” wat gepleeg is.

Jy kan nie verwag dat iemand wat God nie ken nie en as sulks nie wedergebore is, moet verstaan as jy begin praat oor die geestes wêreld en die invloed wat dit op hul lewens kan he nie.

So voor enige iemand ‘n volgende se idees of standpunt oordeel of probeer oortuig van ‘n siening, moet jy eers seker maak van watter punt daardie persoon se idee hul oorsprong het. Is dit eie ondervinding, iets wat hulle self gelees het, of meer net iewers gehoor het.

My eie siening oor dit is dat ek die evangelie aan almal sal verkondig, maar dis nie my werk om mense van sonde te oortuig nie, dis die funksie van die Heilige Gees. Ek is maar net die gelowige wat bereid is om as spreek buis vir die Evangelie van Liefde en Hoop op te tree.

Die res van die werk is reeds deur God, Jesus Christus en die Heilige Gees gedoen. Persoonlik glo ek nie dat jy mense in die algemeen sal bereik deur hul in massas emosioneel op te sweep en dan uit te roep vir ‘n “sondaars” gebed en dan is al hul probleme op gelos nie.

Bekering is meer as net een enkel gebed, dis ‘n geheel verandering van lewens uitkyk en optrede wat begin by die besef dat jy wel verlore is en bekering nodig is. Maar dis net die begin van ‘n lewenslange proses en verandering van lewenswyse. Goeie mense is nie noodwendig gered nie, dus waarborg ‘n goeie morele optrede jou nie toegang tot die ewige lewe nie.

Dis ‘n volgehoue proses wat slegs begin by die stappe van Bekering, die Doop van die bekeerling tot vergifnis van sonde en doop met die Heilige Gees. Dus kan geen argumente of debatte met beperkte spasie en onderwerpe enige persoon se saligheid bewerkstellig nie. Op die meeste kan dit verwarring bring juis oor mense geneig is om persoonlik te raak met sulke debatte en fokus verloor oor hoekom die debat aanvanklik begin is.

Daarom is dit belangrik om eers seker te maak wat die skrywer van ‘n onderwerp bedoel voor jy die siening sommer net afmaak as verkeerd. Dieselfde geld natuurlik ook as enige een kommentaar lewer dat jy die lyn van die gesprek volg en nie net die kommintaar isoleer en dan op dit reageer nie.

Groete en seëninge van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok :roll: :lol:

White Knight

« Newer Posts - Older Posts »

Categories