Posted by: White Knight | Thursday, 4 December, 2008

Oupa en Ouma

Die tyd van die jaar maak die gelukkiges reg om te jaag na hulle verskillende vakansie bestemmings. Ander wat nie nou met verlof gaan nie hou natuurlik net aan met hul daaglikse roetine, alhoewel die atmosfeer effe anders is in hierdie tyd. Dit is ten minste Desember wat beteken einde van die jaar en natuurlik Kerstyd.

Die wat weggaan en slim is, maak natuurlik voorsiening vir iemand om die huis op te pas, diere te versorg en alles wat nodig is. Hulle sal ook sorg dat pos verwyder word en ligte aan en afgeskakel, gras laat sny en wat nodig is om nie aandag van potensiële skelm op hul afwesigheid te vestig nie.

Daar is egter die ander dief wat baie ignoreer en heeltemal vrye teuels gee om maar na hartelus te vat soveel hy wil. Hierdie dief steel tyd, kosbare, onvervangbare tyd saam dierbares en geliefdes. Die geliefdes wat boaan die lys geplaas word is natuurlik die Oupas en Oumas.

Almal is so besig om die jaarlikse vakansie te beplan dat Oupa en Ouma net ‘n remskoen is en ons kan láter weer by hulle uitkom, nou moet ons eers net bietjie rus en batterye herlaai en buitendien die aftree oord of ouetehuis gaan mos vir hulle ‘n spesiale été op Kersdag gee.

Dis waar die eerste fout alreeds ingesluip het, Oupas en Oumas vir ons geleen. Hulle uurglas hardloop al lank en as jy dink more is ‘n sekerheid, maak jy ‘n fout net soos wat jy doen om te glo jy self gaan vir ewig nog hier rond hang. Jy gaan nie en so vinnig as elke een dit besef hoe beter.

Sien Ridder het self nooit ‘n Oupa gehad nie en net een Ouma as kind, wat hy maar baie min gesien het oor sy die  tannie se kinders groot gemaak het, want die het gewerk bedags. Toe Ouma klaar met die kinders was, is sy in ’n ouetehuis geplaas omdat sy te veel aandag geverg het en Tannie omdat sy gewerk het, kon nie alleen na Ouma kyk nie.

My eie moeder was toe ook al deel van die Engele koor en die res van die familie, wel dis beter so, sy kry die regte versorging daar. Al fout was Ouma se bene het ingegee, met die res van haar het niks geskort nie, sy het net stadig beweeg en julle was te ongeduldig of inhalig om vir haar voorsiening te maak.

Die beginsel van ouetehuise en aftree oorde is nie slegs nie, maar as jy begin om hulle daar te vergeet soos die bokse in jou buitekamer wat net stof vergader dan is dit waar ek nie meer met jou saam stem nie. Jy sien Oupa en Ouma het in die meeste gevalle genoeg van hul eie lewe gehad en besit om nie van jou enige iets te wil vra nie. Al wat hulle nodig het, buiten die basiese behoeftes, is om nog te voel dat hulle waardeer word en iets beteken vir ander. Die wete dat hulle vir ander ’n leemte sal laat as hulle nie meer daar is nie, ’n rede om op te staan en veg vir nog ’n dag, week, self ’n jaar van oorlewing.

Dan kry mens natuurlik ook die wat hulle self die uitsluitlike alleen reg toe-eien vir Oupa en Ouma se tyd en nabyheid. Toe Ridder en die Koningin bymekaar uitkom het sy vir my een groot geskenk saam dit gegee. Haar een Oupa het nog geleef en ek het die voorreg gehad van iemand vir wie ek Oupa kon sê al is hy nie mý eie bloed nie. Deur ander familie se twak het daar tye gekom wat ons nie by Oupa en Ouma kon kuier nie, iets wat my geheel en al dwars in die krop steek. Maar die tye wat ons Kersfees an ander saam Oupa en Ouma kon beleef is onbeskryflik kosbaar, juis oor hulle nie net die kinders en kleinkinders kon sien nie maar ook die agter klein kinders.

Soos die verloop van die lewe egter gaan, het Oupa enkele maande gelede die brug tussen die lewe hier en die nuwe lewe van die ewigheid oor gestap. Sy fisiese plek sal hierdie Kersfees en Nuwejaar leeg wees, maar in ons gedagtes nooit altyd bly voort bestaan.

Die belangrike deel van dit alles is dat wanneer jy jou vakansie of tyd beplan, maak seker dat jy en jou dierbares by hulle kan uitkom wat voorheen vir jou tyd gemaak het en in baie gevalle hulle drome opsy geskuif of uitgestel het om dinge vir jou moontlik te maak. Bel, ry wat ook al nodig is maar kontak hulle en maak seker hulle hoor nou en elke keer jy waardeer hulle en is lief vir hulle.

Baie gaan nou vir my kwaai word en vertel maar jy ken nie my Ma en Pa nie of Oupa en Ouma nie. Julle is reg, maar jy gaan en sal altyd met twyfel en worsteling in jou gemoed loop as jy nie vrede maak en hulle kontak nie. Onthou jou Pa en Ma is jou kinders se Oupa en Ouma en dis nodig dat hulle daardie band moet kan ontwikkel en bou. Waar dit nie tot voordeel is van die kinders nie weens omstandighede, dis reg hou hulle weg, maar maak seker dis nie net jou persepsie oor jy iemand wil terug kry en dan alles draai om jouself te pas nie.

Opgedra aan my “geleende” Oupa.

Fier en trots jou Afrikaner bloed

wat vloei deur die are sonder verset

vers en onderhou van Die Gebod

dien jy die enigste Een, jou GOD

*****

hou jy vas met baie vrae aan die geloof

dat ongeag wat met jou gebeur

saam met jou God sal jy daardeur

tussen julle bestaan daar geen skeidings kloof

*****

by Hom is daar niks ook so onmoontlik

en weet jy dat Hy jou alles kan gee

elke gebeure wat goed is en ook gaaf

sal Hy jou ook help die slegte dinge begraaf

*****

onderskei jy deur Sy genade gawe gegee

hulle wat wel volkome is en die wat nie

met Sy Gees in geloof omgaan

of wegdwaal soos ’n verlore lam

*****

wel was jy net tydelik aan ons geleen

vir sommige minder as die ander een

maar ons weet selfs al was die tyd soms min

het jy ’n impak gemaak soos gin

*****

dankie aan die Skepper vir jou

want nou kan ons aan jou wysheid herkou

selfs die vrae wat jy kon vra

tot antwoord’s geboorte binne ons dra

*****

miskien was jy nie die beste een al ooit

maar geleen vir ons, dit vergeet ek nooit

vir dit wat ek kon wees in jou teenwoordigheid

sal ek altyd dankbaar wees aan Oupa, sonder spyt.

Groete van Huis tot Paleis, Pondok en Varkhok. :roll: :lol:

 


Responses

  1. Ridder, ek het ook geen oupa geken nie en net een ouma totdat ek vier jaar oud was. Kan baie min van haar onthou.

    Ek is vandag self ‘n ouma en dit is die wonderlikste geskenk wat die Vader my kon gee. Ek probeer alles in my vermoe om ‘n goeie ouma te wees.

    Ek het ook nie meer ouers nie en dit is seker die grootste leemte in my lewe. Mense, soos Ridder sê, maak tyd vir die ou mensies. Net ‘n bietjie omgee bring weer die blink in hulle ogies. Onthou net, ons raak almal oud en moenie aan jou mensies doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.

    Ridder, ‘n pragtige gedig vir ‘n waardige oupa. Mag julle hom hierdie Kersfees met ‘n glimlag onthou.

  2. Net die beste vir 2009, ekke groet vir eers, ons is toe onder die werk!!!

    Geseènde Kersfees!!

  3. WK, ek kry sommer ‘n paar trane in die oe. Dit herinner my hoe spesiaal my oupa vir my was, en hoeveel positiewe insprake hy in my lewe gehad het.

    Geniet julle geliefdes terwyl hulle by julle is.


Categories

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

%d bloggers like this: